Boek: Sanri Steyn Omnibus 1 en 2

Theresa van Baalen

O, gonna. Sanri Steyn se neus jeuk en dit beteken … hier kom ʼn storie!

Sanri Steyn droom daarvan om eendag ʼn joernalis te word; nie sommer enige joernalis nie. Haar naam sal op almal se lippe wees: Superjoernalis Sanri Steyn. Sy het nie verniet haar eie koerant, die Raaiselfontein Gazette, begin nie.

Op die dorpie Raaiselfontein beleef Sanri en haar beste vriend, Markus, allerlei vreemde avonture – as daar nie ruimtewesens oorkant die straat intrek nie, probeer iemand die hele skool se kinders in zombies verander! Die aweregse humor en lekker grillerige avonture in hierdie gewilde reeks sal seuns en meisies vasgenael hou.

Sanri hét bekend geword. Meer as 21 500 kopieë van die gewilde Sanri Steyn-reeks is reeds verkoop.

Omnibus 1 bevat die volgende stories:

#1: Doktor Zombos se geheime formule

Die Raaiselfontein Gazette sal mos propvol opwindende nuus wees, glo Sanri, maar sommer gou vind sy uit alles is nie pluis nie. Waarom tree almal so vreemd op? Wat het die lekkergoedfabriek daarmee te doen? Saam met haar nuwe vriend, Markus, besluit Sanri om die geheim te probeer ontrafel …

# 2: Die aliens oorkant die straat

Toe daar nuwe persone oorkant die straat intrek, begin Sanri se neus kriewel – soos altyd wanneer sy ʼn lekker sappige storie ruik. Hoekom trek die nuwe mense een nag tydens ʼn woeste donderstorm in? Waarom ry hulle met so ʼn vreemde borrelkar? Waarom tree die twee kinders met hulle silwerwit hare so snaaks op? Sanri is seker die nuwe bure is aliens. Sy moet net die bewyse kry, anders kan sy vergeet daarvan om ʼn storie daaroor te skryf.

# 3: Die seun met die superkat-kragte

Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe seun in hulle klas ontmoet. Felix tree baie vreemd op – hy klouter oor mure, eet regte vissies op sy pousebrood… en hy het ʼn ongelooflike geheim! Kort voor lank is daar groot moeilikheid op Raaiselfontein, want ʼn nare rotskurk en sy weermag van rotte beplan om die dorp oor te neem.

# 4: Die spookmeisie van Raaiselfontein

Sanri is teen hierdie tyd gewoond daaraan dat vreemde dinge op Raaiselfontein gebeur. Toe brille links en regs begin wegraak, kry sy dadelik snuf in die neus. Dan maak Sanri en Markus kennis met ʼn spookmeisie.

Omnibus 2 bevat die volgende stories:

# 5: Die monsters van Middernagstraat

Sanri se neus begin kriewel toe ʼn vreemde ding een middag in Middernagstraat gebeur. As Sanri se neus kriewel, beteken dit net een ding – sy ruik ʼn storie! Sanri is byna doodseker sy het gesien hoe een van Claudia Müller se oulike skoothondjies ʼn oomblik lank in ’n monster verander; ʼn nare monster met bloedrooi oë, ʼn bek vol vreesaanjaende tande en vreemde stekels op sy rug en nek. Markus is oortuig Sanri se verbeelding werk weer oortyd, maar dan begin troeteldiere in Raaiselfontein verdwyn …

# 6: Die nag van die weerwolwe

Sanri se neus begin kriewel toe sy die nuwe meisie in hul klas, Chrissie de Wolfe, ontmoet. Waarom het Chrissie ʼn sappige rou steak in haar kosblik? Wat soek sy by die slaghuis en waarom koop sy soveel vleis? Hoekom lyk dit of sy supersterk is? As Sanri se neus kriewel, moet jy weet hier kom ʼn storie… Sanri is oortuig die nuwe meisie in haar klas is ʼn weerwolf. Hoe gaan sy en Markus dit bewys?

#7: Die vampiere van vlermuishoogte

Sanri kan nie wag om haar beste vriend, Markus, se neef te ontmoet nie. Danté en sy gesin bly in Vlermuishoogte – ʼn geheimsinnige ou kasteel. Iets is egter nie pluis nie. Waarom het Danté se pa ʼn skaduwee soos ʼn vlermuis? Is Markus dalk in gevaar?

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R180,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boeke by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marinda ·

Oumi sal graag hierdie boek vir haar kleinseun wil lees.

Dankie Sanri. Dit klink en lyk sommer baie intresant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.