Boek: SAUK 1936-1995: Steeds sleutelspeler… of bedreigde spesie?

Wynand Harmse

Die voomalige uitvoerende hoof (en finansiële bestuurder vir baie jare) van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie, Wynand Harmse, se boek, SAUK 1936 – 1995: Steeds sleutelspeler…  of bedreigede spesie? is op 1 Junie vrygestel.  Dit is ʼn omvattende geskiedenis wat die ontstaan van openbare uitsaai in-diepte verhaal.

Harmse kyk na die missie en doelwitte daarvan en waarom dit hersien moet word. Die groot vraag wat die boek vra, naamlik of die SAUK steeds ʼn sleutelspeler in die transformasie en opbouproses kan wees en of dit ʼn bedreigde spesie geword het, word met kundigheid en insig bespreek en ingelei met ʼn voorwoord deur Ton Vosloo, voormalige voorsitter van Naspers. Harmse skryf met gesag na baie jare se ondervinding in die mediawêreld en deeglike navorsing.

Die boek bespreek veral die politieke elemente van openbare uitsaai, dus die rol wat die SAUK in apartheid gespeel het. Daar word gekyk na politieke inmenging en aanstellings wat direk uit die Uitsaaiminister se staatsdepartement gemaak is asook die SAUK se sleutelrol gedurende die oorgangsjare en in geskiedkundige gebeure soos die vrylating van Nelson Mandela en die vryheidsverkiesing van 1994.

“Die SAUK was oor dekades deel van Suid-Afrikaners se alledaagse lewe. Ek glo die SAUK kan ʼn  kernspeler wees om die vele ras- en kultuurgroepe van ons land saam te bind in ‘n klimaat van respek vir mekaar en om kennis uit te brei,” sê Harmse.

Die geskiedenis en evaluasie van openbare uitsaai in Suid-Afrika vandag sowel as die afgelope jare is ter sake vir elkeen wat hoegenaamd betrokke by die Suid-Afrikaanse media is of was. Daar is nog nie voorheen in Afrikaans so in-diepte en op so persoonlike wyse gekyk na die gebeure in die binnekring van die SAUK sedert die heel begin daarvan nie. Lesers kan hul tande slyp vir boeiende, aangrypende leesstof oor een van die belangrikste en invloedrykste kommunikasiemedia in ons land.

Die boek gaan ook beskikbaar gemaak word in Engels as ʼn e-boek weergawe.

SAUK 1936-1995: Steeds sleutelspeler …  of bedreigede spesie? word uitgegee deur Naledi en kan bestel word by www.naledi.online.

Uitgewer: Naledi Online
Prys: R350,00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.