Boek: ‘Skryf Afrikaans van A tot Z’

Die derde uitgawe van Skryf Afrikaans van A tot Z (SAAZ3) is bygewerk volgens die elfde Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS), en wys talle taalverwante keuses aan die taalgebruiker uit.

Hedendaagse woordvoorkeure hou grootliks verband met politieke korrektheid en veroudering. SAAZ3 wys die jongste taalgebruik uit.

ʼn Belangrike toevoeging tot SAAZ3 is ʼn nuwe afdeling oor die opstel van ʼn huisstylgids in Deel I: Die praktyk van wetenskaplike Afrikaanse teksversorging. Dié afdeling bevat nuttige taalwenke, ook wat die gespesialiseerde gebruik van leestekens in Afrikaans betref, gegrond op die riglyne oor die gebruik van leestekens in Hoofstuk 13 van die AWS.

Benewens die klem op taalkeuses is die nastreef van lesersvriendelikheid in Afrikaanse skryfwerk nog ʼn belangrike kwessie in SAAZ3. SAAZ3 is geskik vir alle Afrikaansgebruikers, en veral vir die gebruikers van Afrikaans in ʼn korporatiewe of professionele omgewing waar doeltreffende en korrekte kommunikasie vereis word.

Oor die skrywer

Die hersiener van SAAZ2 en SAAZ3, Sebastian Pistor, is ʼn afgetrede taalpraktisyn en woon in Kuilsrivier, Kaapstad. Hy het 40 jaar ervaring in die uitsaaiwese en as verslaggewer en taalpraktisyn, was taalredakteur van Die Burger, en was ook hoofteksversorger by die Kaapse poniekoerant Son. Hy het al verskeie taalgidse geskryf en saamgestel.

Dalene Müller het jare lank in die uitgewerswese en by Die Burger in Kaapstad gewerk. Mettertyd het sy talle voorbeelde van probleemgevalle in Afrikaans versamel en dit is uiteindelik in 2003 in boekvorm (SAAZ1) uitgegee. Dalene is in 2007 oorlede, voor die hersiene uitgawe verskyn het. Haar nalatenskap aan teksversorgers leef egter voort.

Prys: R380,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.