Boek: Skuldig

Skuldig.jpgMartin Steyn

Lees die bekende skrywer Ilse Salzwedel se resensie van die boek.

Ná sy baie goeie debuut, is Martin Steyn terug met nog ’n krimi.

Hierdie keer ondersoek Adjudant Colin Menck ’n baie professionele reeksmoordenaar.

Alles begin toe ’n middeljarige tandarts tereggestel word in sy sitkamer, met een skoot in sy voorkop. Voor die doodskoot het die tandarts egter een woord teen die muur geskryf met sy eie bloed. Hoekom? Waarom soveel pyn verduur as jy vermoed jy gaan sterf?

Colin Menck kyk na die sewe letters teen die muur, die skoon toneel, en hy is oortuig dit is ’n professionele moordenaar se werk, maar wie het hom gehuur? Daar is verdagtes, veral die slagoffer se vrou, wat net te onemosioneel oor die moord is. Tog, wat het hy gedoen dat iemand sou betaal het om hom te laat doodmaak?

Terwyl Menck nog antwoorde soek, word ’n tweede man in sy woonstel tereggestel. Weer is daar sewe letters in bloed teen die muur. Nou is daar baie meer vrae, want daar is geen tekens dat hierdie twee slagoffers enige verbintenis met mekaar gehad het nie. Die enigste raakpunt is nog ’n ongelukkige vrou, ’n eks hierdie keer, en hulle seuntjie wat ’n twispunt was.

Om sake te bemoeilik, het Menck en sy nuwe jong kollega mekaar nog nie regtig gevind nie en daar is wrywing met hulle nuwe, ambisieuse groepleier.

Hoeveel name is op hierdie moordenaar se lys? Die groepleier soek arrestasies, Menck soek antwoorde en sy dogtertjie soek ’n pappa wat nog lank lewendig sal wees. Hoe versoen Menck al hierdie goed as die gesiglose moordenaar skielik baie duidelik vir hom vertel sy gesin is in gevaar?

Dan word ’n derde man gedood … Hoeveel mans gaan nog SKULDIG in hulle eie bloed skryf voor hulle ook sterf?

Die gewildheid van die eerste boek

Martin Steyn se Donker spoor het lesers gaande gehad. In die eerste agt weke van 2015 was Donker spoor reeds ses keer op die Nielsen Topverkoperlyste en Donker spoor het sterk tweede geëindig in die 2014 Lekkerlit-kompetisie, ’n jaarlikse prys wat deur leserstemme bepaal word. Dít is indrukwekkend vir ’n debuutwerk.

Ook die kritici was beïndruk. Jonathan Amid sê op LitNet oor Donker spoor: “Steyn het hier iets geskep wat die leser lank sal bybly, ’n teks wat heelwat meer uitdagend as gewone genrefiksie blyk te wees.” [Jonathan Amid, LitNet, 07-08-2014]

En in Rapport skryf oor Johan Smit oor Donker spoor: “Hierdie is ’n emosioneel uitmergelende mallemeulerit, en net wanneer jy dink die karretjie is op ’n gelyke vlak, kom die volgende afgrond, maar jy wil nie afklim nie. [Johan Smith, Rapport, 07-09-2014

Dit is wat Chanette Paul te sê gehad het oor Martin se eerste manuskrip: “Ek is bitter lanklaas so meegevoer deur ʼn manuskrip soos met hierdie een. Dis ʼn grusame verhaal waarin afskuwelike wreedheid en onmenslikheid afgewissel word met deernis en diep menslikheid.”

Oor die outeur:

Martin Steyn berei hom al lankal voor op sy sukses as skrywer.

Op universiteit was Martin se hoofvakke sielkunde en kriminologie. Ná sy honneurs in sielkunde het hy Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars en geweldsmisdade bestudeer en het sewe ware-misdaadverhale aan die Crime Library verkoop. Dit het onder meer gehandel oor Moses Sithole, die wrede verkragting en poging tot moord op Alison, en die Sizzlers-moorde in Seepunt.

Daarna het hy by die South African Writers’ College ingeskryf en sy eerste roman, Donker spoor, onder leiding van Wilna Adriaanse geskryf.

UITGEWER: LAPA UITGEWERS
PRYS: R219,99*
*PRYS ONDERHEWIG AAN VERANDERING

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.