Boek: Solank verlange die sweep swaai

solank verlange die sweep swaai

Danie Marais

Danie Marais se derde digbundel, Solank verlange die sweep swaai, is ’n mymerende, soms prewelende, plek-plek tierende besinning oor die Suid-Afrikaanse middelklas-weergawe van die menslike toestand. Dit gaan oor die “roaring 40s” en die eerste onheilspellende tekens van middeljarigheid, oor egskeiding, enkelvaderskap, ontnugtering, ’n geliefde ma wat by die dood omdraai en die skrikwekkende relevansie van gruwelrolprente en popkultuur. Die geweld van die liefde en die verraderlike lugspieëlings van die digkuns is deurlopende temas. Solank verlange die sweep swaai is die woorde van iemand wat sy vertroue in die woordkuns verloor het, maar aanhou skryf omdat dit die enigste vorm van psigiese selfverdediging is wat hy min of meer verstaan. Dis die steierende gedagtes van ’n man wat dronkgeslaan word deur sy eie alledaagse stories uit ’n lewe wat al sy pogings tot begrip en filosofiese beskouing uitdaag en ondergrawe.

Oor die outeur:
Danie Marais is op 30 Mei 1971 in Kimberley gebore. In 1993 behaal hy ʼn B.Com-graad met regsvakke aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy studeer onderwys aan die Carl von Ossietzky-universiteit in Oldenburg, Duitsland. Sy eerste digbundel, In die buitenste ruimte (2006) word met die Eugène Marais-, Ingrid Jonker-, en UJ-debuutprys bekroon. Vir sy tweede bundel ontvang hy die SALA-poësieprys.

Uitgewer: Tafelberg
Prys: R150-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.