Elizabeth Wasserman en Chris Venter
Speurhond Willem en sy huismens Adriaan het in 2010 die eerste keer saam gaan reis: via Istanboel tot in Amsterdam, Parys en uiteindelik Londen. Daarna volg avonture op ’n passasierskip in die Indiese Oseaan, op ’n wildplaas in die Bosveld, hulle reis via Kazakstan al die pad na die Internasionale Ruimtestasie en na New York, waar hulle ’n bende moes aankeer wat bekendes se skoothondjies ontvoer.
In hierdie sesde avontuur is Adriaan en Willem weer nader aan eie bodem aan die werk: in Nambië moet hulle ’n bende diamantsmokkelaars help vasvat. Maar hier moet hulle met ’n ander beroemde speurhond saamwerk: sersant-majoor Maximiliaan. Hulle is net nie so seker of hy en sy patrolliemaat konstabel Kolgans, vertrou kan word nie…
‘n Nuwe avontuur vir Willem en Adriaan sal weer lewe blaas in die res van die reeks, wat baie gewild was sedert die eerste boek in 2010 verskyn het.
Namibië sal aan baie lesers bekend wees en die skrywer het ook van die aksie by herkenbare plekke in die land laat afspeel. Soos gewoonlik is feite in die fiksie verweef, sodat die boek ‘n leer- sowel as ‘n lekker leeservaring is.
Oor die outeur:
Elizabeth Wasserman is ‘n patoloog in privaatpraktyk en buitengewone professor in die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy was ‘n bydraer tot Nuwe Kinderverseboek (Tafelberg, 2009), en is die skrywer van die gewilde Speurhond Willem en Anna Atoom-reekse, wat albei deur Tafelberg uitgegee word. Elizabeth woon saam met haar man, ook ‘n patoloog, en tienerdogter in Welgedacht, naby Kaapstad.
Chris Venter is ‘n vryskutkunstenaar van Kaapstad. Van sy mees onlangse projekte is die Speurhond Willem-reeks, die Kas vol monsters-reeks en Waarvoor is seerowers bang? (Jaco Jacobs), waarvoor hy met ‘n ATKV Woordveertjie bekroon is.
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R115-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Ai nee man Maroela. Het jul nou ‘n plaaslike tak van leserskring oplyn begin? Hoekom spasieer julle nie die boeke oor ‘n dag of week nie? Ek lees graag julle relevante nuus artikels maar boek op boek op boek maak dit regtig onaangenaam.