Franz Marx
Spieëlbeeld – ’n meesleurende verhaal wat teen die skunnige agtergrond van Johannesburg se ontkleeklubs en die geordende administratiewe kantore van internasionale sakeondernemings afspeel – sal aanhangers oud én nuut oorrompel met die karakterbeelding en boeiende intrige wat ook Marx se televisiereekse gekenmerk het.
Giminstrukteur-cum-lyfwag Joe Minnie se lewe raak verweef met dié van een van die rykste besigheidsmanne in die land wanneer hy die opdrag kry om Dolf Eksteen met sy lewe te bewaak. Dolf se weelderige bestaan word versuur deur bedelbriewe, afpersboodskappe en doodsdreigemente, en die beeldskone Belinda Eksteen, ’n opkomende vermaaklikheidster, is soos ’n tikkende emosionele en finansiële tydbom aan Dolf se sy.
Die storie is onderbou in ’n skêrknipstyl wat die tragiese verloop van twee uitsonderlike karakters se noodlot tot op die uiteindelike en onafwendbare tragedie uitbeeld.
Met ’n karakterverdeling wat ’n deursnit van die Suid-Afrikaanse gemeenskap bied – die onaantasbares, die onderdruktes, die onderduimses – is Spieëlbeeld ’n intense en pakkende psigologiese karakterstudie wat nog vir lank by die leser sal spook.
Oor die outeur
Met televisiereekse soos Agter elke man en Skooldae en die ikoniese dagvervolgverhaal Egoli: Plek van Goud op sy kerfstok bewys die veelbekroonde Franz Marx hom as meester van nóg ’n skryfgenre met die verskyning van sy debuut-spanningsroman, Spieëlbeeld, wat teen middel-November op die rak verskyn.
Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R250,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke