Boek: Takelwerk

takelwerk

Daniel Hugo

Met die titel, Takelwerk, beweeg Daniel Hugo nie net terug na die bekende beeldveld van die see en skeepvaart nie, maar verwys ook na D. J. Opperman se vers “Digter” waar die digter se arbeid uiteindelik lei na “klein stellasies vers // wat groei tot boeg en mas / en takelwerk”.

Die bundel sluit verse in oor die digkuns en digterlike aktiwiteite. Die leser ervaar die wêreld van die digter deur sy oë en ore, sy sintuie, maar ook deur sy taal. Die spel-element is ook opvallend in baie verse, iets wat Hugo virtuoos met humor saamdig. Hiermee saam is ook die vernufsverse wat al sinoniem met Hugo se digterskap geword het. Talle verse staan uit vanweë die fyn ontginning van klank, woordspel en die ontplooiing van metafoor.

Die verse spreek van ’n belewenis van die wêreld vasgevang tussen carpe diem & memento mori, verse oor landskappe en die heimwee van landskappe, oor natuurdinge en die mens (én die digter) se plek in die groter bestel. Dikwels word die landskappe ook bínneskappe, word hulle ingeskape.

Oor die digter:
Daniel Johannes Hugo is op 26 Februarie 1955 op Stellenbosch gebore. Hy gaan skool op Windhoek en behaal ’n BA Honneurs-graad aan die Universiteit van Stellenbosch. Op Stellenbosch was hy ’n lid van DJ Opperman se “Letterkundige Laboratorium”. Van 1980 tot 1988 is hy lektor in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 1983 studeer hy aan die Katholieke Universiteit Leuven in België. In 1989 word ’n DLitt aan hom toegeken vir ‘n proefskrif oor die vernufpoësie in Afrikaans. Vanaf Oktober 1988 tot 2008 was hy aan die SAUK in Kaapstad verbonde. Daniel debuteer in 1981 met Brekfis met vier, saam met Peter Snyders, Etienne van Heerden en André le Roux du Toit. Daarna volg digbundels soos Die klein aambeeld, Verse van die ongeloof, Monnikewerk en Die twaalfde letter. Hy doen ook vertaalwerk uit Nederlands, soos Liefde, miskien van Herman de Coninck enDie aanslag van Harry Mulisch is voorbeelde van sy vertaalde werk. Hy was ook byna 20 jaar lank as omroeper veral bekend vir programme soos Leeskring en Vers en klank op RSG.

Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R175-00*
*Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.