Boek: Tweespoor

Helena Gunter

In 1920 skilder Paul Klee die olieverf-skildery, Angelus Novus. In 1940 vertolk Walter Benjamin in sy geskrif, “Űber den Begriff der Geschichte”, dat dít is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk: met oopgesperde vlerke, op die punt om weg te vlieg, kyk hy om. Hy sien ʼn katastrofiese verlede, wil terug, die wrakstukke wat hy daar sien opruim, maar ʼn storm uit die paradys het hom aan die vlerke beet, waai hom genadeloos die toekoms in.

In die eerste gedeelte van Tweespoor word ʼn spesifieke suider-afrikaanse verlede ontgin, en in die tweede ʼn stormagtige eietydse werklikheid. Benewens dié twee spore waarop die bundel kortprosa loop, veroorsaak die geskiedenis wat ingesement in die psiges van karakters lê, en die opsies wat die hede bied, ʼn turbulensie wat mense in twee rye spore laat loop.

“Besonder elegant is die delikate manier waarop die skrywer suggestie hanteer. Dit is die vermoë om ʼn verwikkelde, geloofwaardige teks te produseer wat tegelykertyd (ʼn karakter se geestelike herstel of weerstandige berusting), nie net bevestig nie, maar ook ondermyn, wat hierdie verhale onderskei,” skryf Louis Esterhuysen oor Tweespoor.

Oor die outeur

Helena Gunter het op ʼn plaas naby die mond van die Breërivier grootgeword en skoolgegaan in Heidelberg. Ná haar studies was sy jare lank ʼn onderwyser in die Strand, Bellville en Stellenbosch. Haar debuutbundel Op ʼn plaas in Afrika is in 2008 met die Eugène Marais-prys bekroon en beskryf as “ʼn draaipunt in die Afrikaanse kortverhaal”.

Uitgewer: Protea Boekhuis
Prys: R180,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.