Boekvoorlesing: Uit die Beek 2020

 

Hier volg  ʼn uittreksel uit die boek Uit die Beek 2020 deur Barend Vos.

My skuld

Lees Johannes 19:1-16

Toe het hy Hom … oorgelewer om gekruisig te word … (Johannes 19: 16).

Wie se skuld is Jesus se kruisdood nou eintlik? Maklik, nie waar nie? Daar word immers net twee mense se naam in die Apostoliese Geloofsbelydenis genoem: “die maagd Maria”, uit wie Hy gebore is; en die een onder wie Hy gely het, te wete Pontius Pilatus.

Lees ons egter die Pilatusverhaal hier, hoor ons iets anders: “‘Vat júlle hom en kruisig hom,’ sê Pilatus daarop vir hulle, ‘want ék vind geen skuld in hom nie.’” Pilatus probeer trouens sy bes om Jesus te laat vrykom, totdat die Jode se geskreeu vir hom een te veel word (vergelyk ook Matteus 27:23-24).

A, die Jode. Hulle, die opgesweeptes wat nou die dag nog “hosanna!” geskree het. En hul leiers, die priesterhoofde en familiehoofde, wat besluit het genoeg is genoeg: Hierdie Jesus hou vir hulle ’n enorme bedreiging in.

Daar is wel die geleerdes wat ons daarop wys dat die kruisdood onafwendbaar was, deel van God se groter plan. Jesus móés sterf sodat ons kan lewe. Jesus het tog self gesê: “Die Seun van die mens gaan inderdaad sterwe soos daar oor Hom geskrywe staan….” (Markus 14:21).

Net hier dring die ongemaklike waarheid tot ons deur: Moenie jou vinger na die swakkeling Pilatus wys nie en moet tog nie die armsalige Jode hieroor haat nie. Gaan kyk in die spieël as jy die rede vir Jesus se kruisdood soek. Sien die helder lig in jou oë raak, herken die hoop in jou hart. Onthou die dankbaarheid as jy by die graf van ’n geliefde staan.

Inderdaad: Ek en jy en ons enigste troos in lewe en in sterwe is die rede vir die betekenisvolste Vrydag tot nog toe.

Ja, ek kos Hom die slae, die smarte en die hoon. Vir my hang Hy, verlate….

Oor die boek

Uit die Beek 2020 is ʼn dagstukkieboek wat op die Revised Common Lectionary gebaseer is. Dit maak dié geliefde Bybelse dagboek soos altyd geskik vir persoonlike stiltetyd, vir huisgodsdiens en vir Bybelstudiegroepe. Mag hierdie jaar vir jou ʼn besondere tyd van geestelike groei wees, sodat jy die Here sal leer ken soos Hy werklik is.

Oor die skrywer

Dr. Barend Vos is ’n bekende Christenskrywer en predikant. Hy is bekroon met ’n ATKV-veertjie vir een van sy LiG-stories. Hy het al verskeie boeke uitgegee – van dagstukkies tot fiksie en romans met die Bybelse gegewe as agtergrond. Hy wen in 2001 die CBSA-prys vir fiksie vir Eksodus en in 2016 die Andrew Murray-prys vir Ewigheid in my hart.

Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R195,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by NB-Uitgewers

  • Luister hierbo na ʼn voorlesing uit die boek Uit die Beek 2020 deur Barend Vos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.