Boek: Uit die bloute

Chanette Paul

Jojo Richter, die heldin van Siende blind, Raaiselspieël, Ewebeeld en Paaiboelie is terug.

Sy bars van nuuskierigheid oor die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir ʼn moederskip vanaf die Pleiade-sterrestelsel. Wat gaan hier aan? Is hulle stapelgek, of steek daar iets in hulle bewerings dat die regering die feite oor kontak met ruimtewesens verdoesel?

Wanneer ʼn boogskutter op rolskaatse ʼn bekende regter vermoor, begin die vingers wys na die UFO-groep. Valk en Irene raak betrokke. Jojo ook. Intussen word die vreemde verdwyning van ’n groot aantal jong mans ook die span se probleem.

Jojo besluit om ondersoek in te stel. Is die vroue van die UFO-groep vredeliewende vegetariërs, of koelbloedige moordenaars? Jojo word deur ’n hommeltuig dopgehou en kom onverrigter sake by die huis aan.

Toe sy egter by die bure begin inligting soek, vloei die bloed in strome.

Dit is ’n klassieke Chanette Paul-werk: Dik en vol kinkels. Uit die bloute is nie iets om te begin lees as jy ’n sperdatum het wat voorlê nie!

In Suid-Afrika is Chanette Paul gereeld op topverkoperlyste. Onlangs het sy ook baie suksesvol in België en in die VSA haar verskyning gemaak.

In hierdie boek stapel die lyke op en die leser se senuwees word weer tot die einde toe beproef.

Oor die outeur

Chanette Paul het reeds in verskeie genres gepubliseer, maar met haar spanningsromans, wat sedert 2007 verskyn, vind sy werklik haar nis. Die storie staan sentraal, maar vir die ernstige leser is daar allerlei weggesteekte lekkernye wat tussen die verweefde storielyne verpak word.

Chanette word geloof vir haar karakterisering, die manier waarop sy atmosfeer skep en die volgehoue spanningslyne in haar stories. ʼn Goodreads-leser som dit so op: “Chanette het die vermoë om die leser in te trek en vasgenael te hou, tot die laaste bladsy.”

Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R315,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mien ·

Dankie Maroela media vir julle boekresensies. Graffiti boeke is ‘n wonderlike oplossing vir boekwurms wat nie naby boekwinkels is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.