Boek-uittreksel: Bitterbosbende (deel een): Die geheim van die nuwe hoof

Hier volg hoofstuk een van die boek Bitterbosbende deur Anzil Kulsen.

“Ek sal myself op ’n spinnekopweb balanseer as ek vir die NW-taak in Kurt se groep kan werk,” hoor Kurt een van Nieke se maats in die ry reg agter hom sê. Hy bly stip voor hom staar en wag vir saalopening. Nieke, sy suster, is net tien maande ouer as hy. Soms wens hy sy was heelwat ouer en in ’n ander graad – of sommer in ’n heel ander skool.

“Ek sal ’n hele spinnekopfamilie opvréét,” hoor hy nog een van Nieke se maats giggel. Hy gril hom dood as hy sien hoe die meisies se oë uit hul koppe peul wanneer hulle na hom en van die ander seuns staar asof hulle pienk roomys is.

“Julle girls moet julle koppe laat lees,” sis Nieke.

“Vandat ons elf geword het, het julle heel simpel geword. Spinnekoppe, nogal! Die opdrag gaan oor elektrisiteit, nie oor grillerige spinnekoppe nie!”

Kurt weet hy luister openlik af. Leonard en Bongi is besig om speletjies op hul tablette uit te ruil voor saalopening. Hoor en sien vergaan as hulle eers met games besig raak.

“Jy sal jou broer moet vertel Zia wil saam met hom in ’n groep wees vir die taak.” Kurt kan nie raai wie van die meisies se stem dit is nie.

“Hm-hmm?” singpraat Nieke. “Dis omdat julle nie elke dag in sy bakkies moet vaskyk, en vakansies en naweke onder dieselfde dak as hy bly nie. Ons kan enige tyd plekke ruil.”

Kurt klik sy tong. Vandat hulle in Laerskool Bitterbos se koshuis bly, moet hy gedurig vlug vir Nieke se maats. Hy wens sy ouers het nooit in hierdie omgewing opgrawings kom doen nie. Of dat hulle nie so besig was dat hy en Nieke in die koshuis moes bly nie.

Kurt swaai vererg om toe Nieke op sy skouers druk en bo-oor hom toring. Hy kyk vas in haar en Zia se verskrikte gesigte.

“Wat ís dit met julle meisies?” sis hy en stamp met sy elmboog na Nieke.

“Kyk daai … ding … daai gedrog daar langs juffrou Mettler,” sê Nieke hees.

Kurt frons toe hy die skrik in haar oë sien. Hy kyk rond. Die res van die kinders in die saal staar ook nou tjoepstil na die verhoog.

Dan bars daar ’n gedruis los. Almal praat gelyk en niemand staan meer in netjiese rye nie.

“Moenie sê dis ons nuwe skoolhoof nie. ’n Vrou … en boonop een wat … ” Kurt sluk droog.

“Nooitie!”

“Daai vroumens lyk soos ’n voëlverskrikker!” praat Leonard en Bongi gelyk.

Net voordat dinge behoorlik handuit ruk onder die leerders in die helder verligte saal, stap meneer Louw na die podium toe.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Tafelberg, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. 

Genre: Kinder- en jeugfiksie
Ouderdom: Nege tot 12 jaar
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R140,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae