Boek-uittreksel: Bloedsteen

Irna van Zyl

Hier volg hoofstuk een van Bloedsteen deur Irna van Zyl.

***

WAARSKUWING: Die uittreksel bevat krutaal wat nie geskik is vir kinders of sensitiewe lesers nie.

Storm van der Merwe staan in haar kombuis in Hermanus se Hemel-en-Aarde-Vallei en bekyk die afgebreekte knoppie van die toaster waarin sy pas twee snye witbrood geprop het, toe haar selfoon hard lui. Ekstra hard, want dis hoe sy dit ’n ruk gelede gestel het en nou, tot haar frustrasie, nie weer sagter kan kry nie.

Haar bos skouerlengte kurktrekkerhare sluier oor haar oë soos sy ge­bukkend vooroor, die ene konsentrasie, na die knoppie in haar hand staar.

Demmit! Nóg ’n bleddie gebreekte ding in die huis.

Sy’t ’n halfuur gelede van die werk op die kleinhoewe aangekom en is steeds aangetrek in wat sy deesdae as haar speurdersuniform beskou: ’n stemmige swart broek van kreukeltrae lap, te bliksems formeel, maar da­rem met nou pype. Daarby haar gunstelingitem, ’n spierwit linnehemp. En teen die koue ’n swart blazer met opgerolde moue. Gemaklike plat swart leerskoene met veters.

Noudat hulle ’n nuwe bevelvoerder gekry het, het almal in die kantoor ewe skielik netjieser begin aantrek. Asof dit hulle sal help om gouer bevor­dering te kry.

So ook, ná lang oorweging, Storm. Sy’t haar bonte versameling klere – pers broeke, geel of gifappelgroen hemde en rooi sneakers – netjies eenkant toe in haar klerekas geskuif. Van nou af is dit beperk tot haar naweek­klere.

Dis hoog tyd om indruk te maak en ’n ander koers in te slaan wat haar loopbaan betref, want die nuwe bevelvoerder is niemand anders nie as kolonel Amber Cloete, die skoolmaat met wie sy sedert haar vertrek uit die Kaap ’n byna nonexistent verhouding het. En Amber nou pas tot volle kolonel bevorder, terwyl Storm steeds speuradjudant Van der Merwe is.

Sug.

Storm ignoreer die foon, die toaster se knoppie nog in haar hand. Sy leun oor om te kyk of sy dit kan spoeg en plak tot dit reg is, maar sukkel om te sien. Sy vee die hare voor haar gesig geïrriteerd weg en loer na die plafon. Slegs een downlight van die drie gooi dowwe skaduwees in die donker kombuis. Sy lig die toaster op en skud dit heen en weer asof dit sal help om die knop heel te maak.

Demmit, demmit.

Boonop het sy vanoggend in die badkamer gesien die toilet lek aan sy agterkant, vermoedelik elke dag ’n bietjie meer, want daar’s nou ’n hele plas waar daar ’n week gelede net ’n paar druppels was.

Die wasbakkraan drup ook onophoudelik en gisteraand het sy opgelet daar’s muf in die hoek van die stortmuur.

Natuurlik kos alles geld en nóg geld. Of moeite. Nie dat sy ’n keuse het nie. Sy sal iets aan haar blyplek moet doen. En gou. Aan haar algemene gemoedstoestand ook. As dinge eers handuit geruk het, is dit soveel moeiliker om dit weer onder beheer te kry.

Sy weet.

Sonder om na die nommer te kyk, antwoord sy toe sy dit nie langer kan uitstel nie. Seker een of ander onbekende iemand op soek na ’n speurder om te help met navrae oor ’n inbraak, ’n motorongeluk of nuus oor die toegemaakte pad en die onluste.

“Ja. Van der Merwe hier.” Nou eers loer sy na die nommer. Rowena.

Dis Maandagaand seweuur, sesuur in Londen. Sy voel onmiddellik sleg dat sy nie dadelik geantwoord het nie.

Maar dis nie haar ma op die lyn nie. “Storm,” hoor sy ’n manstem. Ver­sigtig spreek hy haar naam op die Engelse manier uit. Dis haar ma se nuwe boyfriend, Jos. Op Rowena se sel. Net die gedagte aan die vent ontstel haar klaar.

“Storm,” herhaal Jos sag. Presies net toe sy brandende brood ruik en rook by die toaster sien uitborrel voordat die twee snye met ’n slag oppop. Demmit! Hulle’s pikswart.

Dié Jos het sy nog net een keer vlugtig vir koffie in die Kaap saam met Rowena ontmoet voordat hulle soos twee irriterende verliefdes laggend hulself verskoon het om kamtig verder in die Waterfront te gaan shop.

Vir Storm het dit gelyk asof hulle eerder op die uitkyk was vir ’n kamer in die naaste hotel. En sy’t net daar besluit sy hou niks van hom nie en gaan troos soek by ’n bord slaptjips en ’n stuk kaaskoek. Die man is byna net so oud soos sy en het haar ma se bleddie voete onder haar uitgeslaan. In sy middel-dertigs nogal. ’n Regte hipster met sy baard en kamstig ou­like langbroek met die rek in die pype en als. Dié Jos.

Haar ma, twintig jaar ouer en dolverlief. En sý wat haar wil waarsku, maar nie weet hoe of presies waarom nie.

Rowena, voorste publicist van Johannesburg. Baas van haar eie maatskappy. Stinkryk kliënte. Van politici en celebrities tot groot besighede. Genade, die embarrassment. Sy gaan haar naam gat maak.

“Verskrikliks… met Rowena gebeur,” sê Jos. Sy kan hoor hoe hy sukkel om te praat, sy stem hortend.

Haar kopvel vries en haar asem verdwyn in haar keel af. Iets is ver­keerd. Iets ernstigs.

“Sy’t onder… trein beland,” praat hy vinnig verder. “I don’t know what to do.” Sy stemtoon styg. “Dis alles… te verskriklik. Sy’s in… ’n koma.” Hy skep asem.

Storm kry nie ’n woord uit nie. Sy maak haar mond oop, maar daar’s niks. Nie eens ’n enkele fluistering nie.

“Die trein het haar kop getref. Uit soos ’n kers. Bewusteloos. A vegetable, some nurses are saying.” Nou snik hy kliphard en slobberend.

Storm voel asof sy ook deur ’n sneltrein getref is. Nie ’n enkele gedagte gaan deur haar kop nie. Haar brein het botstil gaan staan. ’n Bol watte agter haar voorkop.

Sy sak af tot plat op die koue teëlvloer, haar rug teen die yskas, haar bene tot teen haar lyf opgetrek. Haar mond is steeds oop, maar nie ’n snik, nie ’n woord kom uit nie. Net ’n geruk deur haar lyf.

Sy hou die foon so styf teen haar oor vas dat sy die oproep per ongeluk afsny. Met bewende hande skakel sy Rowena se nommer. Jos antwoord onmiddellik en hervat voordat sy ’n woord kan sê, asof daar nie ’n onder­breking was nie.

“Sy gaan doodgaan, Storm.” Sy stem sak. “Dood. Of sy gaan nie weer bykom nie. Jy sal moet oorkom. Onmiddellik. Sy’s in St. Mary’s se A&E. Vra vir… traumaeenheid. Of iets. Asseblief, asseblief. Help my.”

***

Oor die boek

Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ’n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ’n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ’n luukse hotel op Hermanus.

Hande om Storm te help met die ondersoek ná Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ’n charismatiese profeet die skare tot ’n histerie op.

Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ’n teiken.

Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ’n privaat speurder, om ’n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor.

Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ’n sneltrein.

Oor die skrywer

Irna van Zyl is ’n bekroonde joernalis en voormalige redakteur van De Kat, Insig en Boeke-Insig. Voordat sy voltyds begin skryf het, was sy die uitvoerende direkteur van ’n toonaangewende bemarkingsagentskap. Van Zyl is bekroon met die Orde van Tafelberg vir haar sakeprestasies. Sy woon in Kaapstad.

Die uittreksel is goedgunstig deur Penguin Random House verskaf.

Genre: Misdaadfiksie
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R280,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by Penguin Random House

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae