Boek-uittreksel: Buys, Maritz bied gids vir jong Afrikaners

Hier volg ’n uittreksel uit Afrikanertoekoms101: ’n Vraag- en Antwoordgids vir Jong Afrikaners. Dit is deur Flip Buys en Paul Maritz geskryf. 

Van: Paul Maritz
Gestuur: Donderdag 9 Januarie 2020, 14:36
Aan: Flip Buys
Onderwerp: Apartheid
Belangrikheid: Hoog

Beste Flip

Ek is eers ná Nelson Mandela se vrylating gebore. Ek het my lewe lank net een volkslied geken en nog nooit, danksy my ras, voor in ’n “apartheidsry” gestaan nie. Ek het nooit iets van apartheid beleef nie. Tog vind ek dat apartheid gedurig as verskoning aangevoer word waarom ek keer op keer agter in die spreekwoordelike ry moet gaan staan.

Talle jong mense se aansoeke om goeie werksgeleenthede misluk, nie omdat hulle nie die werk verdien nie, maar omdat hulle wit is. Dit eindig ook nie daarby nie. Aansoeke om beurse, selfs lenings, word nou deur die rasvergrootglas beoordeel.

As ons oor die onregverdigheid kla, word ons daarvan beskuldig dat ons aan die bevoorregting van apartheid wil vasklou. Ons hoor dat hierdie aksie bedoel is om ongelykhede van die verlede reg te stel – daarom het dit ook die naam “regstellende aksie”.

Maar wat word werklik hierdeur reggestel? Aanstellings vind nie op meriete plaas nie en dit sal sekerlik die toekoms negatief beïnvloed. Boonop word ’n nóg groter fokus op ras geplaas in ’n land wat kwansuis nie verdeling op grond van ras wil skep nie.

My generasie is raadop. Is dit geregverdig dat daar op hierdie manier met ons omgegaan word? Moet ons net aanvaar dat ons tweedeklasburgers in ons eie land is?

Gee tog raad.

Groete
Paul

***

Van: Flip Buys
Gestuur: Donderdag 9 Januarie 2020, 20:45
Aan: Paul Maritz
Onderwerp: RE: Apartheid
Belangrikheid: Hoog

Naand Paul

Jy verwoord die gevoel van baie Afrikaners in jou e-pos. Politieke aktiviste se misbruik van die verlede as ’n wapen om jong Afrikaners se toekoms mee te benadeel, is heeltemal ongeregverdig.

Dit is ’n onreg om jong Afrikaners te benadeel op grond van dinge wat gebeur het nog vóór hulle gebore is, terwyl dieselfde mense wat hulle so benadeel nie vir hulle huidige optrede verantwoordelik gehou word nie. Daardeur word jonges wat nooit bevoordeel is nie, nou benadeel, terwyl baie van dié wat nie benadeel is nie, nou bevoordeel word.

Dit is een ding om die verlede in ag te neem in vandag se beleid vir môre, maar dit is heeltemal iets anders om jonges gyselaar te hou met ’n eensydige vertolking van die verlede. Die onderliggende beweegrede van mense wat hierdie argumente aanvoer, is om politieke mag en ekonomiese voordele te bekom. Dit is nie ’n opregte poging om jong swart mense uit die ellende van armoede te bevry nie. Blaam is goed vir politieke stemwerwing, maar dit los nie ekonomiese probleme op nie. Daarby lei blaampolitiek onvermydelik tot wraakpolitiek.

Daar word op die verlede gehamer as ’n soort magsinstrument om ’n onregverdige beleid te regverdig. Boonop word aanhoudend gepraat oor hoe armoede en ongelykheid ontstaan het, terwyl die fokus veel eerder op die skep van welvaart, die verbreking van armoede en ontwikkelingsmoontlikhede moet wees. Kortom, daar word net op die probleem klem gelê, en ’n bepaalde vertolking van hoe die probleem ontstaan het, maar nie op die oplossing nie. Die politieke strategie hiermee is min of meer “gee vir ons die mag en geld”. Dit kom neer op selfverryking in die naam van die arm massas wat niks van die mag of geld sien nie.

Die woord “regstelling” is ook ’n propagandawoord omdat die woord selfregverdigend is. Wie kan nou teen regstelling wees? Maar onder die vaandel van regstelling word enigiets geregverdig, vanaf ’n omvattende rassebedeling, onbillike diskriminasie en kwotas tot beleidsrigtings wat groot dele van die staatsdiens en openbare ondernemings op hul knieë gedwing het, soos ons nou sien by die SAL en Eskom.

Die geskiedenis wys dat die mensdom duisende jare lank in geweldige armoede en ellende was, en dat ’n gedeelte van die bevolking eers die afgelope 200 jaar daaruit kon ontsnap toe hulle geleer het hoe om welvaart te skep. Tog kyk die linkses nie na voorbeelde van sukses en hoe mense uit armoede gekom het nie, maar fokus net op die bepaalde siening van hoe armoede en ongelykheid veroorsaak is. Die klem moet na oplossings verskuif en nie net by die probleem vashaak nie.

Dus dink ek dit is totaal ongeregverdig as die verlede as wapen gebruik word om jong mense se toekoms te benadeel.

’n Goeie nagrus vir jou.

Flip

Flip Buys en Paul Maritz tydens die bekendstelling van hul nuwe boek, “Afrikanertoekoms101: ’n Vraag- en Antwoordgids vir Jong Afrikaners” vroeër vanjaar. Die gesprek is deur Daniel du Plessis gelei.

Oor die boek

Talle uitdagings staar jong Afrikaners in die gesig en hulle moet dikwels antwoorde bied op taai of tartende vrae oor sake soos apartheid, regstellende aksie, moedertaalonderrig en geloof.

In Afrikanertoekoms 101: ’n Vraag- en Antwoordgids vir Jong Afrikaners stel die jeug by monde van Paul Maritz (Solidariteit Jeug-bestuurder) hierdie vrae aan die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys. Buys antwoord op ’n eenvoudige, maar praktiese én gebalanseerde wyse met die naakte feite, verteerbaar verpak vir die jong Afrikaner in 2020.

Dié gids bied ’n waardevolle hulpmiddel aan elke jong Afrikaner wat hier wil bly, werk, leef én bou aan ’n beter toekoms.

Afrikanertoekoms101: ’n Vraag- en Antwoordgids vir Jong Afrikaners is aanlyn by Kraal Uitgewers. Die uittreksel is goedgunstig deur Kraal Uitgewers verskaf.

Afrikanertoekoms101: ’n Vraag- en Antwoordgids vir Jong Afrikaners is vroeër vanjaar bekendgestel. Buys en Maritz het met Daniel du Plessis gesels. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Mnr Buys; ek stem met jou antwoord maar ons weet mos nou dat dit nooit sal gebeur nie. Stem u saam dat ons na ander oplossings sal moet kyk en as u wel; wat het u ingedagte?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.