Boek-uittreksel: Bygelowe oor Nuwejaar en Oujaar

Argieffoto

Argieffoto

Die vensters moet ‘n paar minute voor of op middernag op Oujaarsaand oopgemaak word om die ongeluk van die jaar te laat uitgaan en die geluk te laat inkom.

Alle skulde moet betaal en argumente voor middernag geskik word.

Dit bring ongeluk om ‘n vuur in die vuurherd te laat doodgaan.

Om middernag moet baie geraas gemaak word om die bose geeste te verdryf wat in groot getalle opgedaag het om die nuwe jaar te vier.

As jy op Nuwejaarsdag geen geld in jou sak het nie, gaan jy die hele jaar platsak wees.

As jy ‘n geskenk op Nuwejaarsdag gee, gee jy jou geluk daarmee weg.

Die persoon wat die laaste drank uit ‘n bottel drink, sal gelukkig wees. Babas wat op Nuwejaarsdag gebore word, sal ‘n lang en gelukkige lewe hê.

Kry iemand om jou op Nuwejaar te soen – jy sal dan baie soene gedurende die jaar kry.

Moenie tussen Oujaar en Nuwejaar bad of stort nie – jy was jou lewe daarmee weg.

Moenie hoender of kalkoen op Nuwejaarsdag eet nie: dié pluimvee skrop vir hulle kos en jy sal dus ook die hele jaar deur moet rondkrap om genoeg kos te kry. Eet liewer ham of vark, want varke vreet terwyl hulle vorentoe loop, wat beteken dat jy ook in jou saketransaksies sal vorder. Om dieselfde rede moet jy ok nie beesvleis eet nie: hulle staan meestal stil as hulle wei.

Lensiesop of sop wat van swartbekboontjies gemaak is, bring geluk as dit op Nuwejaarsdag geëet word want hulle herinner aan munte en sal jou rykdom gedurende die jaar bring. Spinasie sal dieselfde geluk bring.

Op Nuwejaarsdag moet nuwe klere aangetrek word, want dit sou verseker dat jy deur die jaar ook nuwe klere sou kry. Rooi klere is die beste omdat dit ‘n gelukkige kleur is en ook die goeie geeste se aandag sou trek om ‘n goeie jaar vir die draer te verseker.

Probeer om nie op Nuwejaar te huil of iets te breek nie omdat dit dan die patroon vir die hele jaar sal daarstel.

‘n Mens moet jou op dié dag gedra en ook nie vloek nie. Spookstories en praat van die dood moet ook vermy word.

Niks moet op Nuwejaarsdag uit jou huis gevat word nie – dit bring ‘n gemis deur die hele jaar. In sommige lande word geld, juwele of kosbare artikels nie op Nuwejaarsdag uit die huis geneem nie. ‘n Mens moet dus nie rekeninge op dié dag betaal of iets aan ‘n buitestander leen nie. Sommige bygelowiges gooi nie eers vullis uit nie; dié optrede voorkom dat jy iets gedurende die jaar uit jou huis verloor. As jy geskenke op Nuwejaar moes oorhandig, moet dit nou tot Oujaarsaand van dié jaar gelaat word. As dit dan nie anders kan nie, moet die ontvanger van die geskenk eers in jou huis inkom voordat jy dit oorhandig.

Die huiskaste moet vol kruideniersware en ander kos en die beursies vol geld wees om voorspoed in die nuwe jaar te verseker. Leë sakke of kaste voorspel ‘n jaar van armoede.

Moenie skottelgoed was nie, want dit kan lei tot dood in die familie gedurende die jaar. Baie mense was ook nie hare op Nuwejaarsdag nie.

‘n Mens moet so ‘n bietjie werk op dié dag doen, want dit sal bevordering meebring, maar onder geen omstandighede moet ‘n groot stuk werk aangepak word nie, want dit bring ongeluk mee.

Maak soveel lawaai as moontlik tydens die Nuwejaarsvieringe, want die duiwel en sy trawante is bang vir geraas. Dit is hoekom kerkklokke op plekke om middernag op Oujaar gelui word.

Soen jou beminde om middernag. Dit sal verseker dat sy haar liefde vir jou warm sal hou. As jy dit nie doen nie, sal sy baie gou so kil soos die Suidpool raak.

‘n Mens moet nooit op Nuwejaar uit die huis gaan voordat iemand nie ingekom het nie. Die eerste persoon wat binnekom moet hartlik verwelkom word – maar nie as die persoon platvoete of wenkbroue het wat bo die neusbrug bymekaarkom, of skeel is nie. Dit sal ook help as dié persoon ‘n klein geskenkie of twee saambring wat geluk sal verseker.

Die rigting van die wind tydens sonsopkoms op Nuwejaar hou ‘n voorspelling vir die jaar in. ‘n Suidewind beteken mooiweer en rykdom, ‘n noordewind voorspel gure weer. ‘n Oostewind beteken dat natuurrampe sal plaasvind, en die westewind voorspel baie melk en vis – maar ‘n baie belangrike persoon sal gedurende die jaar sterf. ‘n Windstilte beteken ‘n matige jaar.

Dans in die buitelug en veral om ‘n boom: dit bring liefdesgeluk, voorspoed en vryheid van siekte gedurende die volgende twaalf maande.

As ‘n jongmeisie wakker word en deur die venster ‘n man sien verbyloop, kan sy maar solank haar trousseau bymekaarkry, want sy sal voor die einde van die jaar trou.

As jy die kalender van die ou jaar voor 1 Januarie ophang, sal die ongeluk jou dwarsdeur die nuwe jaar tref.

In die Filippyne word muntstukke binnens- en buitenshuis gestrooi, wat sal verseker dat daar dwarsdeur die jaar geen tekort aan geld sal wees nie. Hierteenoor word geen vis of hoender op Oujaarsaand geëet nie omdat dit armoede sal bring. Op 31 Desember moet alles moontlik skoongemaak word; op Nuwejaarsdag niks.

In Skotland begin die Nuwejaar met ‘n bygeloof oor die eerste persoon wat die huis gaan inkom. Dit moet ‘n donker man wees wat geskenke van whisky en Skotse brosbrood bring.

In Venezuela glo vrouers dat hulle die hele jaar gelukkig sal wees as hulle geel onderklere op Oujaarsaand dra.

Inwoners van Mexiko het hulle eie bygelowe oor Nuwejaar. Byvoorbeeld: Eet twaalf druiwekorrels saam met die twaalf slae van die horlosie op 31 Desember en wens iets vir elke maand van die nuwe jaar as jy die korrels eet.

Rooi onderklere op Oujaar is ‘n vereiste vir liefdesgeluk in die nuwe jaar, geel sal die geld laat inrol.

Wil jy graag in die nuwe jaar reis? Haal jou bagasie uit die kas en loop daarmee om die blok.

In Turkye word geglo as die eerste persoon wat jy op Nuwejaar sien, vrolik en gesond lyk, jy die hele jaar ook so sal wees; as hy siek of terneergedruk lyk, gaan jou jaar vol moeite en verdriet wees.

Uittreksel uit Bygelowe en waar hul vandaan kom
Outeur: Dr. Anton F. Prinsloo
Uitgewer: Pharos
Prys: R355-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.