Boek-uittreksel: Bygelowe oor Valentynsdag en trouplanne

Foto: H. Armstrong Roberts/ClassicStock/Corbis

Foto: H. Armstrong Roberts/ClassicStock/Corbis

Op die vooraand van St. Valentynsdag (14 Februarie) moet ʼn jongmeisie vyf lourierblare aan haar kussing vassteek: een aan elke hoek en een in die middel van die kussing. Dit sal verseker dat sy dié nag van haar toekomstige eggenoot of minnaar sal droom.

Daar is ook geglo as sy op St. Valentynsdag ʼn rooiborsie of Kaapse janfrederik oor haar kop sien vlieg, sy met ʼn matroos sou trou; ʼn mossie sou ʼn arm man maar ʼn gelukkige huwelik voorspel en ʼn goudvink ʼn miljoenêr. ʼn Swerm duiwe bring ook ʼn gelukkige, vredige huwelik mee.

Die eerste naam van ʼn man wat die meisie op St. Valentynsdag in ʼn koerant lees of oor die radio of televisie hoor, sal dié van haar toekomstige man wees.

As sy ʼn eekhorinkie op St. Valentynsdag sien, sal sy met ʼn vrek trou wat al haar geld sal wegsteek.

In die herfs moet ʼn jongmeisie geblinddoek word en dan ʼn koolkop uit die tuin gaan pluk. As die wortel van die plant reguit is, gaan sy met ʼn aantreklike man trou; krom, met ʼn skreeulelike ou. Daar is darem ʼn troos: as daar ʼn groot kluit aan die wortel vassit, sal haar toekomstige lewensmaat skatryk wees.

In die Ozarkgebergte in Missouri in die VSA word geglo as ʼn meisie ʼn huweliksaansoek kry, maar onseker is of sy dit moet aanneem of nie, moet sy drie hare van ʼn kat vat, dit in ʼn papier toedraai en onder die stoep by die voordeur begrawe. Die volgende oggend sal die hare in die vorm van ʼn N (‘nee’) of ʼn Y (‘ja’) lê.

As ʼn verliefde meisie een nag ʼn vreemde kat in haar slaapkamer aantref, beteken dit dat haar beminde getrou aan haar is en nie kattemaai nie.

Maak ʼn knoop in ʼn dun, jong sederboompie en gee dit die naam van jou geliefde. As dié takkie groei, word jy waarlik deur hom bemin.

Vat ʼn madeliefie en pluk die blomblare een vir een af terwyl jy sê: “Hy bemin my, hy bemin my nie.” Die laaste blaar sal die regte toedrag van sake weerspieël.

As jy met een asem al die dons van ʼn perdeblom se saad kan afblaas, is jou geliefde lief vir jou.

As jy ʼn uitgevalle ooghaar na jou beminde vernoem en dit dan uit jou hand wegblaas en dit nooit weer sien nie, is jou geliefde mal oor jou.

ʼn Wit kolletjie op ʼn meisie se pinkienael wys dat sy klaar aan iemand behoort.

ʼn Meisie wat haar vingernaels op Saterdag knip, sal haar geliefde op Sondag sien.

Maak ʼn piering vol water, draai ʼn glas onderstebo, steek ʼn vuurhoutjie daarin aan en sit dit vinnig in die piering. As die water weens vakuumwerking in die glas opstoot, beteken dit jou geliefde is nog lief vir jou.

Steek ʼn vuurhoutjie aan en laat dit tot so na moontlik aan jou vingers brand. Spoeg op die verbrande deel en hou dit dan aan die kopdeel vas. As dit heeltemal uitbrand sonder om te breek, is jou kêrel baie lief vir jou.

As jy wil weet wie jou aanstaande gaan wees, neem ʼn appel en begin sy stingel draai terwyl jy die alfabet opsê. Die letter wat jy noem as die stingel loskom, is die voorletter van jou toekomstige beminde. As jy dié metode gebruik om tussen twee moontlike vryers te kies, noem hulle name om die beurt totdat die stingel een aanwys.

Skil ʼn appel versigtig af sodat die skil in een lang string afkom. Gooi dit oor jou skouer: as dit breek, sal jy jou geliefde nie gou sien nie en andersom. As dit nie breek nie, sal die vorm daarvan die voorletter van die toekomstige bruid of bruidegom uitmaak.

Besliste tekens dat jy binnekort verlief gaan raak of wil raak:
– Jy struikel teen ʼn trap op;
– Jy het harige bene;
– Jy droom dat jy bad;
– Die lyne op jou handpalm lyk na ʼn M;
– Jy slaap met ʼn spieël onder jou kopkussing;
– Jy dra jou nagklere binnekant toe buite;
– Jy vryf die katelstyl met ʼn suurlemoen voordat jy die lig afskakel;
– Jy tel vir nege aande elke aand nege sterre;
– Jy sit madeliefies onder jou kopkussing;
– Jy vat takkies roosmaryn en tiemie en sprinkel hulle drie keer met water en sit elke krui in ʼn skoen en die skoene voor jou bed.

Uittreksel uit Bygelowe en waar hul vandaan kom
Outeur: Dr. Anton F. Prinsloo
Uitgewer: Pharos
Prys: R355-00*
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.