Boek-uittreksel: Dankie, generaal: Op die spoor van ’n oorlogspeurder

Genl JC Smuts (Foto verskaf)

Hiermee ʼn uittreksel uit Nico Moolman se boek, Dankie, Generaal: Op die spoor van ’n oorlogspeurder.

Dit was as sesjarige dat die Anglo-Boereoorlog die eerste keer my bewussyn binnegedring het. In die voorhuis van my oupa Niklaas en ouma Alet Moolman se plaashuis op Amajuba in die distrik Morgenzon naby Ermelo het die alsiende portret van ’n oom met ’n keps op gehang. Net bokant die Ansonia-staanhorlosie.

Elke keer wanneer ek die voordeur agter my toegeklap het dat die ruite in die deur so ratel, het Ouma Alet van binne die huis gegrom: “Nico! Stadig, ou seun. Die generaal kyk vir jou. Netnou breek jy die loervenster.”

Ek was vrek bang vir generaal Jan Smuts se portret.

Ek besluit toe om telkens die huis binne te sluip om die generaal te probeer uitoorlê. My boetie Mafoet moes die deur opmaak en die voortou neem sodat ek ná hom op my maag oor die koedoevel na binne kon kruip. Van agter Mafoet se kuite, hoed diep oor my voorkop getrek, het ek skrefiesoë na die portret geloer. Selfs met die kers saans op pad kooi toe het ek die oom Generaal net ’n skrams kykie gegee … maar niks kon sy blik ontglip nie.

Ek was egter ook ’n bietjie gemesmeraais. Oupa het vertel hoe hy as jong man saam met generaal Smuts teen die Kakies oorlog gemaak het “toe die Engelse ons land wou vat”. Met die uitbreek van die oorlog was Oupa sestien jaar oud en Ouma sewentien. Oupa Niklaas het nooit oorgegee nie. Hy is wel later terug plaas toe, maar sonder om die eed van neutraliteit af te lê.

Boervrou in kamp (Foto verskaf)

Ouma Alet se vier broers het ook aan die oorlog deelgeneem en het my as kind allerlei stories vertel.

Ouma, ’n nooi Swanepoel, is twee jaar lank saam met haar ma in die Standertonkonsentrasiekamp aangehou. Sy het vertel hoe hulle in tente gebly het. Vir my kinderverstand het dit na ’n groot avontuur geklink. Ons het dit immers so geniet wanneer Pa Chris vir ons tente opgeslaan het wanneer hulle palings in die Komatirivier gaan vang het.

Maar toe ek eers besef mense is dood in die oorlog, was dit skielik nie meer so lekker om na Oupa en Ouma se stories te luister nie. Ek het gereeld saam met my pa gaan jag en het geweet wat ’n koeël aan ’n dier kan doen. Ek het geweet hoe dit lyk wanneer ’n hoender of skaap geslag word en die dood inskop.

***

Kleintyd se bederf deur ’n ouma behoort deel van elke kind se grootword te wees. Beskuit was een van my groot bederwe. Ouma Alet se beskuitbakkery op Morgenzon was telkens ’n veldslag in die kleine en het my sommer ook meer van ons geskiedenis geleer.

Elke keer wanneer ek vra: “Wanneer gaan Ouma dan beskuit bak?” het sy geantwoord: “Sodra die Boere die Kakies begin skiet, my kind.”

Kommandant van Niekerk en offisiere (Foto verskaf)

Dit het so gewerk: Net na die laaste stomp voor slaaptyd in die Welcome Dover gegooi is, was dit hef aan. Die tweepint- (ongeveer 1 liter) kênvroetbottel is van die spensrak gehaal, uitgespoel, afgedroog en met ’n laaste blaas in die fles as paraat beskou. Met ’n kennershand het Ouma dan die ganseiergrootte aartappel met haar Best-skilmes afgeskil en dit daarna metodies op die fynskilferkant van die rasper tot ’n kleinkorrelpasta omskep.

Die vorige keer se suurdeegplantjie wat Ouma kort tevore uit die meelblik gehaal het, het reeds gereed gestaan vir die groot gis. Die kruit van fyngerasperde aartappel het sy dan versigtig in ’n glasbottel (van ongeveer 2 liter) gesit voordat sy ’n bietjie lou water bygegooi het.

Die suurdeeg is eerste in die glasbottel gesit, waarna Ouma Alet met vaardige vingers eers ’n paar knippies sout en drie of so grypies suiker by die mengsel gevoeg het. Met die steel van ’n houtlepel het sy die bestanddele met doelgerigte aksie vir die groot verbeeldingsgeveg geaktiveer.

Britse kanon te Boshoff (Foto verskaf)

Die glasprop se deksel is vasgedraai, maar só dat die inhoud nog kon asemhaal en nie sou “oorkook” nie. Die beskuitkombersie met die geskroeide kante is om die bottel gevou en langs die groot ketel staangemaak soos ’n brandwag.

Op hierdie punt moes ek dan vol afwagting gaan slaap. Teen hanekraai sou ek weer in die kombuis wees wanneer die skietery begin.

En so was dit elke keer. Voor my oë het die Slag van Amajuba plaasgevind: Die suurdeeg in die bottel het begin gis. ’n Lugborrel het onder die gissende bestanddele begin vorm en al hoe groter geword. Dit het na bowe gestu terwyl die aartappelvlokkies – of Kakies – in sirkels dwarrel, want daar was geen sprake van wegkomkans nie.

Die Slag van Majuba was die finale en beslissende geveg van die eerste Anglo-Boereoorlog (ook die Eerste Vryheidsoorlog genoem) tussen Transvaal en Brittanje in 1881. Transvaal is in 1877 deur Brittanje geannekseer omdat lord Carnarvon, die Britse minister van kolonies, al die kolonies en state in Suid-Afrika in een federasie wou saamvoeg. Die Transvalers het heftig beswaar aangeteken en dit het in 1880 op oorlog uitgeloop.

Ná die Boere se oorwinning by Majuba is ’n vredesooreenkoms gesluit en daarna is die ZAR se onafhanklikheid weer erken.

By kerslig het ek toegekyk hoe die Kakies in die bottel al in die rondte tol.

“Kyk, Ouma, die Boere skiet die Kakies flenters!” het ek gekraai.

Die slag was gelewer. Glimlaggend het Ouma Alet dan minute later die bottel kom vat, oor die berg meel in die skottel gegiet en verklaar: “Nou gaan Ouma hulle fieks en daarvoor moet almal wat in die bottel baklei het, help om die meel te knie sodat ons lekker beskuit kan eet.”

Die “beskuit-veldslag” het my twee dinge geleer. Dit het die prentjie help inkleur oor wat alles tot die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902 aanleiding gegee het, en ek het nou ook beter verstaan hoekom die Boere wat op kommando gegaan het, beskuit in slope as mondproviand saamgevat het. Dis nie net lekker nie, maar kan ook lank hou in die veld.

Uittreksel uit die boek Dankie, Generaal: Op die spoor van ’n oorlogspeurder.
Uitgewer: Jonathan Ball Uitgewers
Prys: R310-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

mooi ·

Ek lees nie graag nie, maar die manier wat hierdie geskryf is maak dit net lekker

John ·

Ja, die queen het nogal gemaai onder ons leiers… en kyk waar sit ons nou… trek sommer vanselwers na ‘n konsentrasie-kamp toe as die wind verkeerd waai. Daai suurdeegresep.. se weer hoeveel sout en… skryf kind skryf…

Juan Olivier ·

Smuts, die verraaier en britse gatkruioer. Paul was reg toe hy gese het dat hy niks van hom hou nie.

IK ·

En dan skryf Smuts die boek ”n Eeu van Onreg’. Die ander van sy tyd en selfs voor en daarna was onberispelik?

Gwen ·

Kan iemand bevestig of kommandant Van Niekerk op die foto Chris van Niekerk is wat later president van die senaat was?

JAN ·

Verwys kommentare.
Hoekom die minagting vir die grootste militêre oorwinning en offers sedert ABO?
Die gay Masons van Rhodes het gedog 70000 troepe sou genoeg wees en het 340000 benodig om vrede te kry. Britte het ń helse prys betaal vir hul gewapende roof.
Sopas het iemand op die laaste van grondroof vergaderings die ultimatum gestel: Ons het wat dit sal kos om die ANC toetaal te verwoes en orde te herstel met baie bloed en ellende heen.
Want wegloop is vir ons geen opsie nie.
Wanneer ons niks meer het om te verloor nie.
Ons het die Sovjet Unie laat opbreek. Die huidige rampokkerstaat kan die grootste verwoestig verwag. En toe
Skielik is grondroof iets van die verlede.

Peet Schabort ·

Geskryf in tipiese opwindende styl waarvan die kern sonder fiksie is. Ja, ek weet want daar is ‘n onuitputlike argief van inligting aangaande die Boere-oorlog by Nico. Sou daar by jou ook weggooigoed wees aangaande ons geskiedenis sorg dat Nico dit kry. Hy gebruik alles al lyk dit vir jou onbeduidende inligting. Doet zo voort Nico. Groetnis.

JAN ·

HalloPeet
kan julle nie v DrSchullenburg vra om sy oupa? se studie oor Fritz Joubert Duquesne aan Nico te besorg nie.
Th e man who killed Kitchener . waarop James Bond basseer is.
Broerskind van GenPiet Joubert… asemrowende geskiedenis,

Koos ·

Wat van Jopie Fourie. Ons vergeet te maklik die totale omstandighede. Jan Smuts se foto sal nooit in my huis hang nie.

IK ·

Presies Koos, die ’totale omstandighede’ sal jou anders laat dink. Probeer wegbly van wat pa en oupa jou vertel het en dink vir jouself. Wees seker dat indien jy in opstand kom teen die regering sal jy ten minste in die tronk land vir lank. Gaan kyk na apartheid en begin ook daar met modder gooi. Hierdie houding van die sg. Afrikaner is die oorsaak van die Groot (dwars)Trek van die nasie. Elke een van ons behoort nugter te dink en die verlede te onthou soos ‘n oupa van my wat ook ‘n bittereinder was en ‘n ouma wat swaar gekry het in ‘n konsentrasiekamp. Ek is net bly dat ek nie besluite moes neem in ‘n tyd dat burgeroorlog op die horison gelê en wag het.

Boesman ·

Jan Smuts was n agterbakse mens gewees en was maar omstrede. Daar is baie meer negatiewe feite as positiewe feite oor hom. Daar kan maar “verraaier” met eer agter sy naam geskryf word.

Erick ·

Generaal Jan Smuts was ‘n Boere veraaier. Hy was op ‘n stadium ‘n Veldmaarskalk vir die Britte. Hy was ook die oorsaak dat my oupa oneien was omdat hy nie teen sy eie mense (Duitsers) gedurende die 2de Wereld oorlog wou veg nie. En dit mense is feite.

Jongboer ·

Jan Smuts is my hero. Laat hy wat onskuldig is eerste klippe gooi. Baie van ons boere het n gordyn voor hul oe, Jan Smuts was n man met n goeie visie en sy ideologie ver voor sy tyd

Hendrik ·

Uitstekende boek wat ek bly is om te besit. Ek lees hom stukkie vir stukkie, soos mens ‘n lekker stuk biltong stadig sal op-eet. Oor generaal Smuts, hy was nie sonder foute nie, maar hy was beslis nie n verraaier nie. Hy was een van die Bittereinders! Maar die boek gaan nie oor Smuts nie – koop en lees dit. Baie beter leesstof as die snert wat nou aan ons opgedis word in “Die seuns van Bird island”.

Erick ·

So jy wil my vertel dat hy nog nooit vir die Britte gewerk het nie? Gaan google en sien wat se Wikipedia oor hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.