Boek-uittreksel: ‘Die Bybel in fokus’ – God praat met Christene

Hiermee ʼn uittreksel uit die boek Die Bybel in fokus: Hoe om gelowig én denkend te lees deur Louis Jonker, Jan Botha en Ernst Conradie.

***

Christene glo dat God opnuut deur die Bybel praat

Die Bybel is nie net ’n norm waarvolgens alle nuwe getuienisse oor God beoordeel kan word nie. Daar is veel meer in die spel. Dit is ook die bron van ons kennis van God.

Gewoonlik verduidelik ons dit deur te sê: “Die Bybel is die Woord van God.” Maar wat beteken dié frase?

Ons kan God vandag op baie verskillende maniere leer ken. Dink maar net aan die rol wat godsdienstige ervarings (onder meer bekering), ouers, vriende, prediking, die gemeenskap van die gelowiges, kerklike uitreikings en liefdadigheidsprojekte, die grootsheid van die natuur, mistieke belewings, spesifieke gebeurtenisse en allerlei klein voorvalle in ons lewe speel. Op al dié maniere kan ons God vandag ontmoet en leer ken. Maar nie al die maniere is ewe betroubaar om dié God van wie die Bybel vertel, te ontmoet nie.

Iemand het op ’n keer gesê dat God op enige manier, selfs deur ’n dooie straathond, met ons kan praat. Dit beteken egter nie dat dit die manier is waarop God graag met ons wil praat nie. Christene word tog nie geroep om van dooie honde te getuig nie, maar van Jesus Christus as ’n lewende werklikheid.

Volgens die Christelike Kerk deur al die eeue is die Bybel die mees betroubare bron van waaruit ons God kan leer ken. Dit is miskien nie die enigste bron nie, maar wel die mees betroubare.

Die Bybel is vir ons ’n betroubare bron om God te leer ken. Maar ’n mens kan dié punt op een van twee maniere verstaan: in swakkere óf in sterkere sin.

In die swakkere sin van die woord is die Bybel vir ons ’n bron van kennis óór God. As ek byvoorbeeld ’n biografie oor ’n bekende persoon soos Nelson Mandela of Moeder Teresa lees, kan ek baie oor die lewe van só iemand daarin te wete kom. Ek weet dan baie óór die persoon. Maar ek kan nie regtig sê dat ek die persoon “ken” nie. In elk geval ken die persoon my nog nie. ’n Mens kan die Bybel ook op dié manier lees. Dan kan ’n mens baie oor God te wete kom. En die Bybel is inderdaad ’n heel goeie bron van waaruit ons kennis óór God kan versamel. Maar dit beteken nog nie dat ons God self ken nie.

Om God te ken, gaan oor meer as net kennis óór God. Dit is kennis wat vanuit ’n verhouding groei. Die kennis van God is soos die kennis wat ons van ander mense het (dink aan die manier waarop jy jou man of vrou of beste vriend ken). As jy sê jy ken iemand goed, beteken dit jy het al ’n pad saam met die persoon gekom. Jy weet nie net baie óór die persoon nie. Die persoon ken ook vir jou. Dis ook nodig om voortdurend aan die verhouding te bly werk, anders sal jy spoedig nie meer die persoon goed ken nie.

Daar is dus iets dinamies en wederkerigs aan die manier waarop ons ander mense ken. Dieselfde geld ook vir die kennis van God. Ons kan God in die Bybel leer ken en ontwikkel só, oor ’n hele leeftyd heen, ’n verhouding met God. Die Bybel is vir die Christelike Kerk ook in ’n sterker sin van die woord ’n bron waardeur ons God kan leer ken. Die Bybel is naamlik die lewende Woord van God. Dit is nogal ’n merkwaardige aanspraak!

Dit beteken dat God self aan die woord kom wanneer ons die Woord lees. Dan lees ons nie regtig meer die Bybel nie. Die Bybel lees as’t ware vir ons. Meer nog, dit is God self wat daardeur met ons praat. God kom op dié manier in ons midde. Hoe gebeur dit?

God kan natuurlik nie deur die Bybel met ons praat as die Bybel net iewers in ons huis bly lê nie. Ons moet dit optel en lees, dit bestudeer, later weer daaroor nadink. Of ons kan na die uitleg van die Bybel in preke luister. Ook op talle ander maniere word die betekenis van die Bybel vir ons lewend en aktueel – deur gesprekke met vriende, deur boeke, die radio, televisie, en so meer. Die Bybel “praat” met ons op al dié maniere, dikwels op ’n onbewuste manier, sonder dat ons die Bybel noodwendig fisies lees.

Om te sê dat die Bybel die Woord van God is, beteken om te glo dat die lewende God vandag juis dié instrumente gebruik om opnuut met ons te praat. Daar is ’n dieper dimensie in al dié doodnatuurlike instrumente: God self is op so ’n manier by ons aanwesig. En hierdeur (miskien meer as enigiets anders) kan ons vandag God se teenwoordigheid ervaar, kan ons God opnuut leer ken.

Die Bybel bevat daarom nie net woord(e) van of oor God nie. Die Bybel ís nie as sodanig die Woord van God nie. Dit wórd die lewende Woord van God omdat God daardeur opnuut met ons praat.

Meer nog, as God vandag met ons praat, beteken dit dat God nie bloot herhaal wat in die Bybel staan nie. Die Bybel is eerder ’n instrument wat God gebruik om met ons te praat oor die wêreld waarin ons vandag woon. Dit is juis op dié wyse dat Hy aktief wil ingryp, ook in my eie lewe, in my familie, in my gemeente, in die plaaslike gemeenskap, in ons land en in die hele wêreld. Die Woord van God praat só met ons, telkens op nuwe maniere en in nuwe situasies.

Die Bybel is die lewende Woord van die lewende God. Dit is ’n Woord wat ons menslike formules telkens deurbreek en soms selfs uitmekaar laat spat. Dit is ’n dinamiese Woord oor die lewe en oor God wat in nuwe omstandighede telkens opnuut tot ons spreek. Só praat God met ons. Só loop God van dag tot dag met ons ’n pad. Só leer ons God van dag tot dag beter ken. Daarom kan ons ook nooit klaarkry met die lees van die Bybel nie. Doodgewoon omdat God nog nie met ons klaar is nie. Ons moet telkens opnuut na die Woord luister om te hoor wat Hy vir vandag vir ons wil sê.

Dink hieroor na:

  • Ons het vroeër gekyk na agt verskillende interpretasies van Maria se loflied in Lukas 1:46-55. Dié loflied bied ’n goeie voorbeeld van hoe die Woord van God telkens in nuwe situasies op nuwe maniere met mense kan praat.
  • In 1 Samuel 2 sing Hanna ná die geboorte van Samuel ’n lied waarop Maria se loflied waarskynlik berus. In Hanna se lied val die klem op die motief van onvrugbaarheid (1 Sam 2:5). Later het dieselfde lied as ’n Israelitiese oorlogslied gefunksioneer. En toe Maria dit gesing het nadat sy swanger geword het, het die lied weer ’n totaal nuwe betekenis gekry. Kyk nou weer na die agt eietydse interpretasies van dié loflied (bl. 34 e.v.) om te sien hoe dieselfde teks in verskillende situasies verstaan en toegepas kan word.
  • Dink jy dat dit in al agt interpretasies inderdaad God is wat met die mense praat? Hoekom? Hoekom nie?

Ons het in die twee voorafgaande afdelings probeer aandui hoe die Christelike kerk deur die eeue heen oor die Bybel gedink het. Die kern van die saak is dat die Bybel nie op sigself ’n waarde het nie. Dié boek is slegs belangrik in soverre dit iets oor God sê. Vir die Christelike kerk is die Bybel ’n norm vir en ’n bron van ons geloof in God.

In die lig hiervan kan ons nou weer kyk na die skerp vrae wat ons aan die begin gestel het. Hoe moet ons in die lig hiervan die gesag van die Skrif verstaan? Is die Bybel net ’n menslike boek of is dit deur die Heilige Gees geïnspireer? En kan ons die Bybel nog vertrou?

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by 
NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

JouPa ·

Hoe meer ek met ander mense en veral “slim” mense praat , hoe meer besef ek dat om die Bybel te verstaan en te glo wat dit sê , is ‘n gawe van God af

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.