Boek-uittreksel: Die Bybel is God se liefdesbrief aan sy kinders

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God (Johannes 1:1).

Hier volg ʼn uittreksel uit Die liefdesboek: God se liefde vir ons en ons liefde vir mekaar deur Christine Ferreira en Marielle de Vos.

***

Adam en Eva

In Genesis lees ons hoe God gesels-gesels saam met Adam deur die tuin wandel. Later ook met Adam en Eva as lewensmaats. Adam word geseën om God se skepping te versorg en keuses te maak wat tot gevolge sal lei: goed of sleg. As Skepper weet God dit is nie goed dat die mens alleen is nie. In sy ondeurgrondelike liefde skep Hy vir Eva uit Adam se ribbebeen. Adam se liefdesverhouding met God word nou uitgebrei na een soos hy self, ’n metgesel, ’n deel van hom. Sy moet naby aan sy hart bly en hy moet haar in liefde beskerm, soos ’n ribbebeen ons hart in ons liggaam beskerm. Eva is nie uit Adam sy voetbeen geskep dat hy op haar mag trap of uit sy skedelbeen sodat hy haar mag oorheers nie.

God ontmoet Adam en Eva saans vir ’n hart-tot-hart-kuiertjie en stel intens in hulle welstand belang. Hulle ongehoorsaamheid versuur egter die liefdesverhouding tussen hulle en God. Hulle sonde bring skeiding tussen hulle en God en tussen hulle twee. Hulle laat ’n derde party, ’n bedrieër, in hulle verhouding toe. En met sy leuens laat val hy hulle oë op hulle tekorte, in plaas van hulle oorvloed.

Adam en Eva laat Satan toe om hulle met sy bedrieglike leuens te laat twyfel aan God se volmaakte liefde vir hulle. Hulle word blootgestel aan die leuen dat hulle iets moet doen om soos God te wees, al het Hy hulle reeds na sy beeld en sy gelykenis geskep. Hulle gulsigheid en ongehoorsaamheid bemagtig Satan om God se ware beeld uit hulle diepste wese te steel sodat hulle op hulleself begin fokus.

Ons almal werk vandag hard aan ons selfbeeld. Net soos Adam en Eva in hulle ongehoorsaamheid, is ons selfgesentreerd in plaas daarvan om op God se liefde vir ons en sy beeld in ons te fokus. Ons probeer onsself steeds deur ons godsdienstige dade met vyeblare beklee. Ons ervaar skaamte en skuldgevoelens en is geneig om God en ander mense, in en buite ons huishouding, te blameer vir ons gebroke verhoudings. Dikwels moet ons God eers toelaat om ons gebroke karakter en emosies te herstel voordat Hy ons gebroke verhoudings kan herstel.

God openbaar sy groot liefde aan Adam en Eva deur ’n lam te slag en hulle naaktheid met die vel te beklee. God, die Vader van liefde en waarheid, beklee ons ook met sy liefde. Hy versoen ons met Homself wanneer Hy Hom as die God van verhoudings in en deur sy Seun, Jesus Christus, openbaar. Jesus is die weg, die waarheid en die lewe en Hy verseker ons dat ons die Vader sien wanneer ons Hom sien. God die Vader en God die Seun se onselfsugtige liefde vir mekaar is vir ons ’n toonbeeld van God se Heilige Gees wat ons verhoudings moet beheer en rig.

Johannes, Jesus se lieflingdissipel, herken Jesus as die Lam van God wat gekruisig sal word om ons met God die Vader te versoen. Johannes 3:16 is ’n kernvers in die Bybel. Onomwonde vertel dit vir ons die waarheid dat God die wêreld so liefgehad het dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.

Die Bybel noem die mens Jesus dan ook die tweede Adam. Hy leef hier op aarde onder leiding van God se Gees. Hy stel sy wil volkome ondergeskik aan God se volmaakte wil vir Hom as mens. Sy Geesgedrewe verhouding met God die Vader verskil hemelsbreed van dié van die eerste Adam, wie se sondige natuur sy lewe beheers het, soos ons in Genesis lees. En Hy is die voorbeeld wat ons moet navolg.

Hierdie mooiste liefdesverhaal ooit, opgeteken in God se Woord, eindig op ’n wonderskone noot in die laaste boek van die Bybel, Openbaring. In Openbaring 19 breek die tyd aan vir die bruilofsfees van die Lam. Ons, sy bruid, word geklee in fyn, helderskoon linne, witgewas deur die bloed van die Lam. Dié fyn linneklere is die regvaardige dade van die heiliges, dié wat aan God toegewy is. Die kosbare wolkleed waarmee die Lam ons as sondige mense beklee, word gesien as ’n asemrowende bruidskleed voor sy genadetroon.

Openbaring 19:9 sê vir ons dat ons wat na die bruilofsfees van die Lam genooi is, geseënd is.

Geseënd is jy!

Gebed

Here, dankie vir u Woord wat voleindig is en vas staan tot in alle ewigheid. Dankie dat ek kan weet die woorde wat van U af kom, is betroubaar. Ek kan dit glo. Help my om erns te maak met u Woord. Help my om dit altyd te koester. Laat u Woord my lei in alles wat ek doen, dink of aanpak. Dankie vir u kosbare liefde vir my. In Jesus se Naam. Amen.

Leef die liefde

  • Maak vandag tyd om God se Woord, sy liefdesbrief aan jou, te lees en te bestudeer.
  • Nooi die Heilige Gees om jou te lei terwyl jy die Woord lees en dit vir jou persoonlik te maak.
  • Kies ’n Bybelgedeelte wat jy ’n week lank elke dag wil lees. Deur die herhaling sal jy dit in jou hart en gedagtes vaspen.
  • Vra God om spesifieke Bybelgedeeltes vir jou oop te breek.
  • Lees ook minder bekende Bybelgedeeltes en bepeins die boodskap wat daarin versteek lê.

Woorde van wysheid

  • Triomfantelike Christene veg nie vir oorwinning nie; hulle vier die fees van oorwinning wat reeds behaal is – Reginald Wallis.
  • Ek weet dalk nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet wie die toekoms vashou. En omdat Hy aan my kant is, sal ek nie wankel nie – Kofi Namoah.
  • Almal wat in ware geloof die Here aanroep, uit die diepte van hulle harte, sal vir seker gehoor word en sal ontvang wat hulle gevra en begeer het – Martin Luther.
  • God wil meer met ons praat as wat ons wil luister. Hy is liefde, en liefde begeer gesprek – Linda Schubert.
  • Die hoogste vorm van gebed is ’n dialoog. Vir my is die belangrikste deel daarvan om na God se antwoorde te luister – Frank C Laubach.

Lees wyer

  • Genesis 2:1-25
  • Genesis 3:1-23
  • Openbaring 19:1-10
  • Kolossense 1:9-10
  • 2 Petrus 3:13
  • Jakobus 4:8

Skryf dit neer

  • Skryf jou vyf gunsteling-Bybelverse neer. Dink na oor waarom juis hierdie verse vir jou soveel betekenis het.
  • Dink aan tien woorde uit die Woord wat God se liefde vir jou verteenwoordig of vergestalt. Skryf hierdie woorde neer. Oordink dit en knoop dit vas in jou hart.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Magda7

Dankie xxxx