Boek-uittreksel: Die hase is verveeld

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal Die hase is verveeld deur Leon de Villiers wat in Maroelaboomstories verskyn.

Op ’n dag is die jong hase weer verveeld. “Kom ons doen iets lekkers,” sê Sit-Sit. “Iets snaaks.”

“Soos wat?” vra Hop-Hop en vryf haar snoet. “Net nie weer miskruiers terg nie! Dit is so vervelig.”

“Is nie. Ek het gedink dit was baie snaaks,” sê Spring-Spring verontwaardig. Dit was sy idee om klippe in die miskruiers se rolpad te pak.

“Wat is nou so snaaks daaraan om jou dood te werk deur klippe aan te dra?” vra Koes-Koes.

“Maar die miskruiers kon nie die mis wegrol nie!” lag Spring-Spring.

“Spring-Spring, jy was die enigste een wat gedink het dit is snaaks,” stem Sit-Sit saam. “Kom ons doen hierdie keer iets baie snaakser. Iets waaroor ons almal kan lag.”

“Maar wat?” vra Hop-Hop weer. “Niks in die veld is ooit snaaks nie. Al die diere is so ernstig.”

“Weet julle wat sal snaaks wees?” vra Koes-Koes. “As ons die tarentale kan kry om te swem soos visse. Dit sal nou baie snaaks wees. Dink net, die hele watergat vol kolletjies. Papnat kolletjies.”

“Nee,” sê Hop-Hop, “wat nog snaakser sal wees, is as ons Kobra op sy kop kan laat staan.”

“Wat?” roep Spring-Spring. “Is jy skoon laf? Ek gaan nie naby daardie gifbek nie.

My tannie Soek-Soek het eendag per ongeluk op Kobra se stert getrap en toe kry sy ’n spoegsel gif reg in die oë. Sy was heeltemal blind en haar kinders moes haar aan die poot rondlei. Nee dankie, as julle met slange wil lol, gaan ek sommer nou terug gat toe!”

“Ek ook,” stem Koes-Koes saam. “Maar ek moet sê, dit sou baie snaaks gewees het as ons Kobra op sy kop kon laat staan het.”

“Wat daarvan as ons ’n ander dier op sy kop laat staan?” vra Sit-Sit. “Soos Olifant byvoorbeeld.”

Die ander jong hase lag alte lekker.

“Of Kameelperd!” skater Koes-Koes. “Ek sien al hoe sy lang bene bo tussen die bome uitsteek.”

“Ja! Ja!” lag die ander.

“Nee wag,” keer Hop-Hop. “Dit help nie ons mors ons tyd met die groot diere nie. Hulle gaan nie sommer na ons luister en iets verspot doen nie.”

“Ja,” sê Sit-Sit. “Buitendien ken hulle ons te goed. Hulle weet ons hou daarvan om ander diere vir die gek te hou.”

“Wat van daardie nuwe diere wat onlangs hier in die veld kom bly het?” vra Spring-Spring. “Daardie vliegmuise. Hulle ken ons nog glad nie.”

“Die vliegmuise?” vra Hop-Hop en skud haar ore. “Wie de dorings is die vlieg­ muise?”

Koes-Koes begin giggel. “Hy bedoel die muisevlerke!”

“Julle is albei verkeerd,” sê Sit-Sit. “Hulle word vlermuise genoem. Ek weet, want een van hulle families het daar naby ons in ’n holte in die klapperboom ingetrek.

Daar woon seker twintig van hulle in daardie een holte. Hoe hulle so styf teen mekaar kan sit en slaap, weet net hulle.”

“Nou vlermuise dan, ou Weet-Alles,” sê Spring-Spring.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers verskaf.

Genre: Kinderfiksie
Ouderdom: 7 en ouer
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R280,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.