Boek-uittreksel: Die Lucky Strike

Hiermee ‘n uittreksel uit Steve Hofmeyr se boek, Die Lucky Strike.

Hoofstuk 1: Kapokboom

Daar was ’n orgie vlieë saamgekoek op die lyke. Drie lyke. Soos borduursel teen die boom vasgestik. Met wonde soos robyne. Waar hul oë was, was nou net donker pruime en die sap daaruit het gestol soos bevrore watervalle. Elk het koddig, regop soos ’n voëlverskrikker, sy eie windrigting ingestaar. Twee van die liggame het ligte skietwonde gehad. Een deur die voet. Die ander deur die onderlyf. Die vrou se lewelose liggaam was grootliks ongeskonde, maar beide oog­kasse was leeg. Al drie lyke was deur nagroofdiere bygekom.

Maar dis nie waaraan hulle beswyk het nie.

Die vrou het die langste geneem om te sterf. Sy was altemit reeds blind in haar laaste oomblikke. Nog lewend tot enkele ure voor die polisie uit Upington opgedaag het. Dit was onduidelik of sy aangerand was. Sy was nie verkrag nie. Dit het nie so gelyk nie. Diefstal was ook nie die motief nie. Almal het kontant, selfone en motorsleutels in hul sakke gehad en almal was ten volle geklee. Die bleskop man links het skietwonde aan sy heup en boud gehad. As daar skote laer af was, was dit nie waarneembaar nie, want van die kuite af ondertoe was beide bene weggevreet.

Die man regs het ’n skoot deur sy voet gehad. Die koeël het sy regtervoet van bo gepenetreer. Die voet was nie meer aangeheg nie, maar dit was redelik ongedeerd in die stewel wat ’n paar meter weg gelê het. Geen wapens, doppies of patroonpunte is op die toneel gevind nie.

Die eerste konstabel op die toneel het sy dag vir hom uitgeknip gehad. Geeneen van die slagoffers kon losgesny word voordat die toneel forensies ontleed is nie. Dit kon dae wees voor dit sou gebeur. Want die Kalahari is op haar beste ’n sloerstaking. Selfs al gebeur daar iets, bly dit ’n trae aanbod. En noudat tyd ’n faktor is, daag sy weer talmend op. Met leë hande.

Wanneer iets soos dit gebeur, is almal ’n bietjie verdwaas. Die polisie ook. Nie dat slagtings hier ongewoon is nie. Lyke staan immers tou in die Noord-Kaapse lykshuise. Meesal ’n messtekery onder beswyming. Tik en kat en dagga. Die reëllose roekeloosheid van straatbendes. Maar hierdie moorde was uitsonderlik. Dit was die handewerk van ’n deskundige, iemand vasgevang in die drukte tussen toewyding en afsydigheid.

Protokol bly protokol. Die jong nagskofkonstabel word in ’n japtrap ’n crime scene boss wat moet suutjies trap. Hy sal die ligblou monstermoffies oor sy hande trek en onthou dat die katoensloffies laas in 2015 uitgereik is. In die afwesigheid van tegnikusse is die integriteit van die toneel nou sy probleem. Hy moet per radio hulp ontbied en dan die area beveilig, ongemagtigdes weghou en spore en leidrade nagaan. En dan soveel foto’s moontlik neem voor hy na verlore ledemate begin soek. Plaaslike besorgers sal betrek word. ’n Wildboer sal sy slagtery se yskaste aanbied. Sy vrou sal hom sê dis ’n f*kken belaglike idee, Sarel.

Hy sal bid dat die saak aan iemand anders toegeken word. Dit sal nie. Die toneel sal syne word. Dit sal sy onbegonne taak wees om die gruvonds van die boom te bevry, een verrotte lyk op ’n slag, en saam met die los ledemate in ’n trokkie te laai. Wanneer hy stadig wegry, sal hy wonder wat hy gemis het. Gonsende insekte sal die stoet toejuig. Dit is die Kalahari en dat dit voor Nuwejaar ’n goed gestookte hoog­oond is, het nie gehelp nie. Al het die hemelhoë kapokboom ’n skadu oor alles gewerp, het dit maar min verligting gebring. Nuuskieriges het nie lank vertoef nie. Een-een het hulle na hul luierende bakkies teruggestap en weggery.

Die natuur het haar rug styf getrek daardie middag.

Sy weet hoe ons dink. Ons dink die getemde bied min weerstand. En ons maak met beeste en skape soos ons wil. Ons weet hulle staan ons teë, want ons hoor hulle skree in die drukgang van die slagpale. Maar óns wil seëvier. Met ’n leeu of luiperd sal jy dit nie waag nie. Jy sal moet skietgoed bring. Sommer baie.

Bome is ons onderdanig. God het dit so georden. Hulle bied min verset teen die kaal vuis van ’n genadelose mensdom. Ons maak wat ons wil met bome. Alle bome.

Behalwe die kapokboom.

Hy lok jou met sagte katoen wat hy soos liefdesbriewe op die bries laat sweef. Jy wil jou arms om hom slaan en dankie sê. Jy wil jou wang teen hom skuur. Maar die kapokboom praat nie. Hy doen. Hy kan nie kaalhand aangepak word nie. As jy hom kap, moet jy die regte toerusting saambring. En as hy val, moet jy padgee. Sy penne sal jou deurboor en jy sal soos deur ’n gieterkop leegbloei.

Daarom: As jy iemand moet kruisig, doen dit teen die kapokboom. Soos met die drie dooies gedoen is.

Uit die berigte was dit duidelik dat die polisie kopgekrap het. Twee mans en ’n vrou is met ’n lang riem om die kapokboom vasgedraai, met hul rûe teen die genadelose bas. Die ander punt van die tou is aan ’n loslopende Afrikanerbul vasgemaak wat hulle binne twee dae styf teen die beknopte doringbas vasgewei het. Vaster en vaster totdat die gefrustreerde bul nie meer tou gehad het om by die waterkrip te kom nie. Hy sou dae lank gestu het, maar die dood het ook hom nie ontsien nie. Die lywige gedierte het nog gelewe maar was te swak om orent te kom. Deur sy neusgate het groot asemteue die sand voor hom omgedolwe. Die wit van sy oë was sy kontrak met die onvermydelike. Hy is van kant gemaak met ’n enkele skoot wat, soos die oerknal, die hede in twee geskeur het.

Uit die verslae was dit duidelik dat niemand kon vasstel of die slagoffers teen die boom doodgebloei het, of deur die woedende bul doodgewurg is nie.

Die name sou bekend gemaak word sodra die identiteite van die drie oorledenes vasgestel is.

Uittreksel uit die boek Die Lucky Strike
Uitgewer: Penguin Random House
Prys: R200,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.