Boek-uittreksel: Die Mannheim-sage – Die fortuinsoekers

Dis ’n ongewoon deftige konvooi van vier koetse en twee transportwaens wat op die slingerende stofpad begin afdaal na Vanwyksvlei se laagtes.

Dit was J.B. Robinson se idee om die lank verwagte besoeker uit Skotland reeds by sy aankoms te beïndruk met ’n koninklike verwelkoming. Die toekoms van Johannesburg lê per slot van sake in die hande van dié mannetjie met die welige snor wat oorkant hom in die skommelende koets sit.

John Stewart MacArthur, die Skotse apteker wat met sy sianiedproses soveel kontroversiële opspraak van Europa tot in Australië en selfs verre Rusland veroorsaak het, het net meer as ’n week gelede voet aan wal gesit, en Robinson was daar om hom in te wag. Nou, ná ’n week, is die reis na die binneland feitlik op ’n einde en Robinson voel die krieweling van opwinding oor wat nou vir hulle voorlê. MacArthur sal, sodra hy uitgerus is, met proefnemings begin. Alles by die Salisbury-aanleg was reeds voor Robinson se vertrek na Durban gereed.

Robinson is oortuig dat die onindrukwekkende kêreltjie weet waarvan hy praat, veral ná hul lang gesprekke op die terugreis. Nietemin moet die finansiële haalbaarheid van die proses eers deeglik bewys word. Hy en die res van die konsortium het reeds swaar belê in die hoop dat MacArthur wel sou slaag, maar Robinson glo dat hy die een is wat op die ou end die meeste geld moes instoot. Met ’n tikkie bitterheid dink hy nou hoeveel hy reeds ingeboet het met sy mislukte poging om sy myne aan te pas vir chloorbehandeling . . . Nietemin, as alles verloop soos wat sy besoeker hom verseker het dit sal, sal sy geldelike opoffering deur en deur beloon word. Maar nie net dit nie: Hy, Joseph Robinson, sal in die geskiedenis bekend staan as die man wat Johannesburg gered het!

MacArthur, wat deur die koets aan die slaap gesus is, ruk wakker en kyk dan skaam en half gedisoriënteerd na sy reisgenoot.

Robinson glimlag toegeeflik. “Ons is amper daar, meneer MacArthur.” Hy beduie na die landskap wat buite die koetsvenster verbyrol. “Dis Vanwyksvlei . . . die laaste poskoetshalte voor die stad.”

MacArthur knik dankbaar. Die tog was lank en vermoeiend. Ja . . . selfs vreesaanjaend! Hy is ’n Glasgower, deur en deur ’n stadsmens, en die oop veld, gebergtes en ruigtes staan hom min aan. Hy sal dit aan niemand beken nie, maar hy het homself een nag in die berggebied byna bevuil van angs toe hy die roggelende gebrul van leeus gehoor het. Hoewel almal hom verseker het dat die leeus ver was en dat leeus dit nie naby so ’n gesofistikeerde kamp sou waag nie, is hy glad nie gerusgestel nie. Hy het daardie nag nie ’n oog toegemaak nie. Hoe het hy nie verlang na die drukte en oorvol strate van sy geboortestad nie!

Tog, noudat hulle aan die einde van die reis is, voel hy ook die adrenalien deur sy are pomp. Ná die verslae wat hy oor die maande van die Salisbury-konsortium ontvang het, is hy oortuig dat hy hier vir eens en vir altyd sal kan bewys dat sy sianiedmetode die enigste praktiese en boonop ekonomiese metode is om goud uit komplekse erts te bevry. Hy dink wrewelig aan sy Amerikaanse toer. Die ellendige Amerikaners het hom behandel asof hy nog steeds die aptekersklerkie van lank tevore was.

Geen respek, geen eerbetoon vir sy uitvindings . . . onnosele en arrogante kolonialers! Dit is soos hy nou vir altyd aan hulle sal dink – beterweterige pseudowetenskaplikes wat sy teorie aangeval het sonder om hom ’n kans te gee om dit te bewys. Hier sal dit anders wees, dink MacArthur toe hy in die verte die eerste skagtorings van die myne gewaar. Die rykste en diepste goudrif ter wêreld! Waarvoor meer kan hy vra? Hy gaan sy teorie bewys! Hy, John Stewart MacArthur, wat grootgeword het in die agterbuurte van Glasgow, gaan hier sy eie rykdom versamel. Elke myn en elke konsortium sal voor hom buig en toustaan om die regte te bekom van die MacArthur-Forrest Company wat reeds voor sy vertrek uit Skotland in die lewe geroep is.

 

Hy raak aan die soliede waspunte van sy goed versorgde snor, wat trouens die enigste uitstaande uiterlike aspek aan hom is. Die Goeie Boek sê immers: Daar is ’n tyd om die saad te saai, maar daar kom ook ’n tyd dat die komynsaad gemaai moet word. Dit is nou sý tyd om komynsaad te maai, dink MacArthur met groot entoesiasme toe hulle die stad binnery.

Hier ry hy die stad in soos ’n adellike, in ’n koets deftiger as wat hy nog ooit gehad het. Dit is die manier waarop die Johannesburgers hul eer reeds aan hom betoon. Wat gaan gebeur as hy hul stad van ondergang red? wonder hy nou. Hiér in Johannesburg gaan hy sy naam en sy fortuin maak. Dit sal hom die moderne Archimedes van die mynbedryf maak.

 

Deborah hou haar asem op sodat Ma-Fytjie haar korset soos altyd in die eerste ry gaatjies kan toeryg. Ongemaklik wonder sy hoe lank sy nog met die voordoenery sal kan aangaan. Hoewel daar nog geen opvallende veranderinge aan haar te bespeur is nie, is sy self bewus van haar borste wat groter is en haar heupe wat vir die eerste keer in haar lewe kurwes maak. Net so raak sy nou ook al hoe meer bewus van die ongemak wat haar kleredrag haar veroorsaak, en sy weet dat Ma-Fytjie in die stilligheid al twee tabberds se middellywe wyer gemaak het.

“So, dis styf genoeg, Ma-Fytjie . . .” pleit sy.

Die ou dame knik beterweterig. “Dit kan jy weer sê, nooientjie. Elke keer as ek nou vir jou vasmaak, is ek bekommerd dat jy weer sal omkap.

Van nou af aan sal dit beter wees as ons die tweede ry se gaatjies inryg. Jy moet maar maak of jy baie lekkernye eet, laat die ander kan dink dis van dié dat jy so uitsit . . .”

Deborah lag en trek Ma-Fytjie se kop teen haar aan. “Jy het ook raad vir alles, Ma-Fytjie!” sê sy liefdevol.

“Nee, dié het ek nie, ek sê steeds dit sal beter wees as jy nou maar praat, missie. Jy en seurtjie Karl is nou weer so half bevriend, of dan nie?”

“Nog ’n rukkie . . . Ek sal praat voordat ek regtig begin wys, ek belowe ek sal jou nie in die skande steek nie. Nou moet ons gou maak, Karl wag al op my.”

Fytjie knik stil, dan draai sy om en haal die uitrusting wat reeds aan die kas hang af. Dis ’n rooi rok. Na Fytjie se sin is die diep wynrooi ’n gans te blertsende rooi vir ’n jong dame om in die publiek te dra, maar dan dra Deborah dit ook darem nooit as sy uitgaan nie. Fytjie weet dat die kleur haar versie aanstaan, soos ’n vlam lyk haar missie Deborah in die gloeiende fluweelrok met sy fyn roomkleurige Brusselse kant. Die ander ding wat ook vir Fytjie oor die rok laat wonder, is juis die feit dat Deborah dit nog nooit aangetrek het om uit te gaan nie. Dis net vir saans voor ete en vir die aandmaal wat sy dit ooit dra, dink Fytjie nou terwyl sy die laaste knopie van die bostuk vasknoop.

Daar is ’n klop aan die deur. “Mevrou! Ma-Fytjie! Kom gou! Seblief, kom gou, dis ouseur!”

Ma-Fytjie en Deborah kyk verskrik na mekaar, dan kom Deborah tot verhaal, storm na die deur en pluk dit oop. Sam se oë is wydgerek. Sonder om te dink gryp hy Deborah se hand en trek haar half die kamer uit.

“Kom gou, ouseur is besig om te sterwe, mevrou!”

In holderstebolder haas volg die vroue vir Sam na die konservatorium, waar Kurt hom altyd vir ’n uur of wat ná werk afsonder om aandag te gee aan sy geliefde orgideë.

In sy haas praat Sam hortend. “Ag genade, mevrou Deborah, ek het die ouseur se tweede whisky loop skink. Toe ek terugkom, toe lyk dit hy wil-wil so half orent kom en sy mond gaan oop om te praat, maar dié trek skeef en hy gryp na sy hart en net daar vou hy inmekaar. Ek was net betyds om te keer dat hy nie val en lelik seerkry nie!”

Hulle bereik die konservatorium en vind Kurt op die sofa waar Sam hom neergelê het. Die ou man klem sy bors vas en is duidelik in uiterste pyn. Sy gelaatskleur is ’n sieklike grys en daar is ’n wit kring om sy mond. In haar skok storm Deborah op hom af en kniel langs hom neer. “Pa, wat het gebeur?”

Dit is die eerste keer in baie maande dat sy hom weer só noem, en dit dwing ’n skadu van ’n glimlag na die ou man se mond. “Goed dat jy hier –” ’n Nuwe hartkramp trek deur sy borskas en voorkom dat hy sy sin voltooi. Sy woorde gaan oor in ’n kreet.

Ma-Fytjie neem oor. “Gou, Sam! Skreeu vir Pollie! Sy weet waar my medisynesak is, en sy’t kiewietbene wat vinnig kan draf. Sê sy moet dit bring, Sam Naudies! En stuur vir Basjan, laat hy vir vadertjie John loop haal! Miss Deborah, jy bly hier, ons probeer om vir ouseur gemaklik te maak . . .” Sy begin Kurt se krawat loswikkel, dan knoop sy die onderbaadjie se knope los en beduie Deborah moet ontslae raak van sy hoë oprygskoene.

Boek: Die Mannheim-sage 1: Die fortuinsoekers
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R295-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Jeannette ·

Fantasties! Ek wag al lank vir die hele trilogie van Die Mannheim Sage!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.