Boek-uittreksel: Die opstand van Poppie Nel

Hier volg hoofstuk een uit die boek Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis.

En dit is hoe arme Poppie Nel op 29 November in Lukas Lucas se ontwrigte lewe gekom het.

Vroegoggend het hy in die rooison op Hengelaarskroon se strandjie gaan stap. Die hele see en die groen berg het net aan hom behoort, want die luidrugtige spul vakansiegangers met hulle stink handdoeke en jillende kinders onder skel sambrele het nog nie die rus kom bevlieg nie – asof al sewe en negentig huise in die oord net aan hulle en hulle keffende honde behoort. Die oggend ruik nog meer na see as na sonbrandolie.

Lukas gaan staan en voel die klam sand onder sy kaal voete, voor hom het die nag die strand waterglad gevee. Seemeeue slaap kop in die effense wind op die sand sonder spore. Hy kyk om: Agter hom lê net sy eie twee rye verlate voete in die stil sand.

Stap is terapie, want ná drie lang en donker maande sukkel hy steeds sonder sy Amanda. Hy worstel nog met die gedagte dat sy nie meer is nie. Hy trek sy asem diep in om die swaar sug te keer, maar dit werk nie; selfs die naaste meeu kyk net gesteurd op toe die man die sug uitblaas.

“Sorrie,” sê hy vir die meeue net toe die brander in die vlak water langs hom breek, “ek probeer haar skielike weg wees verwerk.” Hy slenter verder, sug weer en wens sy pa het nog gelewe, want hy sou raad geweet het. Hy sou kon troos, hy het homself destyds bemoedig toe Ma so ontydig deur die dronk student sonder ’n lisensie voor die Spar doodgetrap is. Nou is Pa ook nie meer daar nie, en hy wat Lukas is, moet alleen oor Amanda treur.

Lukas moes, tot sy skande, selfs vir sy kerkraad ’n bietjie lieg om net asseblief ’n week of drie verlof te kon neem. Studieverlof. Hy weet hy het nie gesê hy wil homself en sy verlange na haar kom bestudeer nie. Tog stil die stilte die greintjie gewete, en die vrede van die milieu vloei oor hom soos ’n lou stort.

Totdat iemand skielik agter hom praat. Praat is eintlik ook nie die regte woord nie, bulder met ’n lag uit sy groot maag miskien. Sonder om om te kyk weet Lukas dit kan net sy dik diaken met die swart hare wees. Diaken Gawie Galant, log soos ’n vaskopstut met die hartjie van ’n bang binnesenter. Skriklik skielik hier reg agter hom, asof hy soos ’n plomp engel uit die hemel neergeplof het. Dié stem sal dominee Lukas Lucas tussen ’n koor van duisend stemme uitken.

“Ek dog jy is met studieverlof?” Soos altyd kan die diaken skerp sê sonder om skerp te wees. Die kerkraad se vredemaker, konsistorie se sagter siel. ’n Mens moet ’n kerkraad ken om te weet hoe bitter nodig ’n vredemaker soms is; ’n konsistorie ken om te wens daar is partykeer net een sagte siel.

Dit is net dat hy wat Lukas is, op hierdie mooi môre selfs nie vir gawe Gawie Galant met sy sawwe siel en al lus het nie. Vir twee volle weke koester Lukas met heilige hartseer die eensaamheid van die buiteseisoen in ’n strandoord met ’n siel sonder mense.

Gelukkig is geveinsdheid een van die genadegawes van ’n goeie stadspredikant. Daarom groet Lukas sy diaken gul met die hand – al is hy vanmôre nie eers vir homself lus nie.

“Gedog dis jy, gister al gesien jy is hier, en in watter huis jy is,” en diaken Gawie beduie met die oorwinningswuif van ’n suksesvolle huisagent na Lukas se huis op die westelike punt van die strand. “Die wit een met die groot stoep en die blou reling, die een wat oor die Perdegat uitkyk. Alkantmooi, nogal ’n mooi naam vir ’n strandhuis tussen die see en die berg.”

Die diaken is darem effens ongemaklik, sien Lukas, maar Gawie praat aan. “Ek wou jou egter aanvanklik nie steur nie. Ek weet jy kry ook swaar.”

Nou steur jy tog, wil Lukas sê, maar die wag voor sy mond is ook al vroeg op.

“Ek weet jy het dinktyd kom soek, maar ek wil jou tog ’n groot guns vra, Lukas. Nie vir myself nie.” Hy huiwer toe Lukas nie reageer nie, maar gaan nogtans voort. “My ou jeugmaat en sy suster is saam met my hier bo in ’n huurhuis. Sy het ook ewewig kom soek, maar nou het sy dringend iemand nodig met wie sy kan praat.”

“Ek is nog nie gereed om met iemand, veral ’n vrou, oor hulle moeilikheid te praat nie. Jy behoort te verstaan dat ek my eie verlange na Amanda moet vertroetel.”

“Ek weet, en ek is jammer oor Amanda, maar ek sou nie gevra het as dit nie ’n krisis was nie.”

Vir ’n vreemdeling sien ek nie kans nie, wil Lukas verder protesteer, veral nie vir ’n vrou met ’n probleem nie! Daarvoor behoort Gawie tog begrip te hê. “Sy kan mos met jou praat?” skerm Lukas, maar aan die trek op die jongman se gesig kan hy aflei dat Gawie dit nie nou sal wil verstaan nie. “Of hoe?”

“Dit is nie sommer praat nie, Lukas, en sy wil nie met my praat nie, want sy sê ek kan haar nie help nie.”

“Hoe sal ek haar kan help as jy haar nie kan help nie?” probeer Lukas, al ken hy Gawie goed genoeg om te verwag dat hy nie gaan besgee nie.

“Ek ken haar storie te goed. Ek en haar broer Markus is al maats vandat ons in graad drie was, en wat ek nie self van sy suster weet nie, het Markus my oor die jare so bietjie-bietjie vertel. En,” Gawie bly dramaties stil, glimlag en werp met ’n teatrale trek van sy oë sy troefkaart, “jou deeglike verslae aan die kerkraad oor probleemgevalle in ons gemeente beïndruk gewoonlik selfs vir ou ouderling Botes. Jy doen altyd eers deeglike huiswerk voordat jy oordeel.”

“Waaroor wil sy praat, Gawie?” Miskien moet hy luister, want luister kan ook vir hom terapie wees. “Hoekom met my?” Die gemeente dink mos die kudde se herder is, soos die Liewe Heer, voltyds in diens van die trop.

“Sy wil net haar storie vir jou vertel, jy hoef net te luister. Dis al wat ek vra.”

“Ek ken ook al stories wat niks meer as ’n storie is nie.”

“Sy was ’n droomverlore kind, en vandag is sy ’n droomverlore engel.”

“Dan was dit seker ook nou nie só erg nie,” probeer Lukas uit ’n bose biegsessie vlug. Hy het self ’n biegvader nodig, en hy sien nie daarvoor kans om ’n ander olike siel te salf nie.

“Sy sukkel om te glo.”

“Ek sukkel self soms daarmee. Veral nou.”

“Ek verstaan,” sê Gawie, “en ek weet jy het jou vrou verloor, maar jy sal my vriendin kan help.”

“Wat van haar eie predikant?”

“Ek dink nie hulle pastoor kan help nie.”

“Jou pastoor kan mos ook net na haar storie luister?”

“Dis g’n my pastoor nie, jý is my pastoor.”

“Pastor, miskien, die o maak ’n verskil. Maar ek is nie jou vriendin se pastor nie.”

“’n Dominee is almal se dominee. Praat groot asseblief met Poppie, asseblief, Lukas, jy sal haar kan help.” Gawie sit sy hand vir ’n oomblik op Lukas se arm.

“Ek is nie ’n pastorale sielkundige nie, en ek het juis verlof gevra om my eie hartseer te kom vertroetel.” Lukas probeer om sy hande ongemerk agter sy rug te kry.

“Praat net ’n slag met haar. Ek vra mooi.”

“Hoekom praat jy nie met haar nie?”

“Ek moet met haar broer praat, die ou het self iemand nodig.”

“Is sy geloof ook iewers heen?”

“Is jy nou laf, hy het sy werk verloor.”

“Nou het hy ook berading nodig?” Lukas besef hy klink onsimpatiek en voeg verskonend by: “Baie mense verloor deesdae hulle werk.”

“Hy word onregverdig van rassisme beskuldig.”

“Ook nie juis vreemd nie. Hoekom praat jy nie sommer met albei nie?”

“Ek sê mos ek ken haar te goed en Markus het gedink iemand wat sy glad nie ken nie, sal beter na haar luister. Sy worstel om aan te pas by die lewe. En jy is in elk geval die dominee, nie ek nie, en moeilikheid vat nie verlof nie.”

Ek weet, maar dié is nie my moeilikheid nie, wil Lukas nog keer.

“Jou kerkraad dink jy is met studieverlof … ” Gawie laat die res van sy sin in die lug hang.

“Dis afpersing,” verweer Lukas onoortuigend.

“Nee, ek probeer net beklemtoon hoe nodig ons jou het.”

Hoe sê ’n dienaar nee vir nooddiens? Hoe ignoreer die toegewyde predikant die pleidooi van sy groot diaken met die sagte hart?

“Ek bring haar so teen negeuur oor daar na jou toe.” Gawie weet hoe wen voel. “Sy het hulp nodig, bitter, bitter nodig. Werk saggies met haar, sy sukkel nou al lank met die teenswoordige wêreld, ’n wêreld wat ek self nie mooi verstaan nie, al is ek en jy deel daarvan. Sy moet dit nog ontdek en alleen is dit vir haar te swaar.”

Hy sê nog een en ander oor Poppie voor hy sy loop kry.

Lukas kyk sy diaken effe gesteurd agterna soos wat dié ’n nuwe ry spore in die sand trap.

Asof ék, Lukas Lucas, die teenswoordige wêreld verstaan!

Dit is dan hoe Poppie Nel op ’n dag in November ongenooid in Lukas se lewe ingestap gekom het, net toe hy self probeer regop kom. Vóór dit het hy haar nie geken nie, nie eens van haar geweet nie.

***

Meer oor die boek

Daar onder raas die see toe Poppie Nel dié dag voor dominee Lukas Lucas op sy stoep staan in haar kuise lang romp. Sy moet glo met iemand praat sodat sy kan opstaan. Poppie is uit die kerk, maar die kerk is nie uit haar nie.

Dit lyk of sy nie wil nie – nie wil praat of opstaan nie.

Lukas het ook nie regtig trek vir ’n pratery nie, sy eie pyn is nog vir hom te kosbaar, maar hy het nou hierdie herderlike plig, so dan moet dit maar.

Só ontvou Poppie se verhaal, sy vertel vir Lukas van ’n pastoor wat openbarings kry, hoe die pastoor haar misbruik en hoe haar gesin, veral haar ma, medepligtig is.

Die boek slaan die hart hard, maar Lukas berei teen die einde ’n preek oor die liefde voor, want om te praat bring albei nader aan mekaar.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers verskaf.

Genre: Fiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R255,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die e-boek by Lapa Uitgewers

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.