Boek-uittreksel: Die verlore seun vannie Gaatjie

Hier volg ʼn uittreksel uit Die verlore seun vannie Gaatjie deur Ivor Swartz.

***

Bosstraat 197

Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?” was Natanael se reaksie. “Kom kyk self,” het Filippus egter volgehou.  – Johannes 1:46 (Die Boodskap)

In Bosstraat 197, Pineview, is ek gemaak en laat staan, en oorgelaat aan ’n lot wat enige duiwel ’n run vir sy money sou gee. Jy’t ’n PhD plus 15 jaar se ondervinding in survival nodig om by hom kers op te steek. Dis ’n huis wat se fondasie nie die gewig van al sy stories kon dra nie.

Ons het in die middelste huis van drie gebly – ’n skakelhuiseenheid reg langs die bruin hoërskool, Groenberg Sekondêr. Net die skool se vibracrete-muur het ons van mekaar geskei. Al drie families in ons eenheid van huise het weduwees as hoofde van die huis gehad. Antie Nettie aan ons regterkant en antie Meisie aan ons linkerkant. Saam met my ma het hulle gereeld gekuier en by mekaar gekla.

Die huise was daai soort waar jy alles kon hoor wat by die bure aangaan as jy jou oor teen die muur sit met ’n koppie of ’n glas. So dun was die mure. Ek het baiekeer myself verbeel ek hoor hoe die bure aangaan oor watter slim kind ek is en dat ek dit nog eendag groot gaan maak.

Ek verbeel my steeds dat mense dit van my sê in my afwesigheid – al het ek “groot gaan maak” se definisie al ’n paar keer verander.

Maar dis waar ek grootgemaak en gevorm is. Dis waar ek hardop gedroom het, en saggies gehuil het, en bang was vir God. Dis waar ek gewys is hoe liefde nié moet lyk nie.

Dis waar ek gehoor het God tug dié wat Hy liefhet, en waar ek een aand op die agterstoep gesit en huil het terwyl die reuk van vars dagga in die lug hang, en ek vir God gevra het om ons nie meer lief te hê nie, want sy tug los merke.

Al is ek die tweede jongste van ses kinders, het Bosstraat 197 meestal gedraai om die stories van die drie jongstes – almal seuns. Deon, die oudste, en Peter, die jongste. Ek en Peter was baie laatlammertjies, soos ’n mens sou sê. Almal ken vir Peter as Pikes, of “Korrupt” – vanweë die tatoe in sy nek. Ons almal het vir Deon “Boet” geroep.

Ek wil glo ons het hom so geroep omdat ons respek vir hom gehad het, of omdat hy ’n rolmodel vir ons was. Maar dit sou ’n leuen wees.

Ek kan wel goed onthou hoe ouer ek geword het, hoe meer het ek “Boet” uit my woordeskat gehaal wanneer ek na hom verwys het. Want hy was die monster aan my tafel. Hy was die nagmerrie wat ek gesukkel het om af te skud, wat ek by tye steeds sukkel om af te skud. Ek het so lank doelbewus geweier om sy naam te gebruik as ek van hom praat. Hy was altyd maar net “die monster van die blou huis”.

***

Ou Pieter-Bingo

Today I wonder why it is God refers to Himself as ‘Father’ at all. This, to me, in light of the earthly representation of the role, seems a marketing mistake. – Donald Miller, in Blue Like Jazz

My pa se naam was Pieter, en hy is dood toe ek drie jaar oud was. Ek het nie een enkele herinnering van hom nie. Ek hoor hy was lank, maer en baie donker van kleur. Blykbaar het almal hom geken as Pieter-Bingo, om redes wat tot vandag toe nog onbekend by my spook. Ou Pieter-Bingo het, soos baie ander mans in die vrugteseisoen, op die appelplase gewerk en oor naweke huis toe gegaan.

Dit was ’n Dinsdagnag in die koue winter van 1987 toe Pieter-Bingo en een van sy medeplaaswerkers ’n vuur gemaak het (in ’n ghellieblik, soos ons dit noem) in die kamer waar hulle sou slaap. Maar nie een van hulle het die volgende dag die lig gesien nie. Hulle is al twee in hul slaap dood oor hulle versmoor het.

Ek het later gehoor dat hulle my pa op die vloer onder die venster gevind het, daar waar hy probeer het om die venster oop te maak om lug in die vertrek te probeer inkry. Wat ek nie sou gee om ou Pieter-Bingo daai nag te kon aancheer nie, om net daai ekstra bietjie nodige energie en wilskrag bymekaar te skraap om die venster oop te kry sodat hy kon huis toe kom en ons van sy avontuur kon vertel. Ons sou elke jaar daaroor lag, want hy sou dieselfde storie oor en oor vertel – soos die families in die flieks.

Maar ’n paar meter was die maak-of-breek-verskil tussen ’n moontlike gesonde toekoms en ’n lewenslange soektog na identiteit, na behoort, na die man-wees wat nét ’n pa kan bevestig. En breek het geseëvier. So naby, en tog so ver! Daai paar meter se mis het my jare se verkeerde keuses laat maak.

Maar dalk sou ek die verkeerde keuses gemaak het, ongeag of Bingo lewend daar uitgekom het of nie. Die enigste oorblywende stukkie herinnering wat ek nog van Pieter-Bingo het, is ’n ou foto waar hy en vriende iewers in ’n boskoppie sit – al laggend en vintage, soos net die goeie ou dae kon lyk. Dis eintlik ’n foto van ’n foto, en omdat Pieter-Bingo so donker van kleur was, kan jy amper nie meer sy gesig sien nie. Daar is net ’n swart kol waar sy gesig is, en ietwat van ’n tevrede glimlag. Selfs op ’n foto is hy vir my net ’n donker skaduwee – alles van hom.

In die foto is Pieter-Bingo besig om ’n daggapyp aan te steek vir die vriend wat langs hom sit. Dié foto sal loshande die eerste prys wen in die “bring die coolste foto van jou pa skool toe”-kompetisie. Ek grap ook baiekeer in my praatjies deur te sê ek hou dié foto van my pa om vir mense te wys dat ek nie die daggalewe gekies het nie; dit het mý gekies. Soos jy op die foto kan sien. Dis mos net baie makliker om die oorsprong van jou pyn en swart hart aan iets of iemand anders op te dra. Want dan hoef jy nie enige verantwoordelikheid vir jou lewe, jou keuses, jou toekoms en jou potensiaal te aanvaar nie.

Oor die boek

Ivor Swartz kom van die Gaatjie in Grabouw, ʼn plek dikwels sonder hoop. Sy pa is reeds vroeg dood en sy ma maak die kinders alleen groot. Sy oudste broer, hulle selfaangestelde “oppasser”, terroriseer die gesin.

Een aand kan Ivor net nie meer nie. Hy en sy vriend neem ʼn vreeslike besluit wat hulle lewe ingrypend verander. Hierdie aangrypende verhaal, eerlik vertel deur Ivor self, sal jou aan die hart ruk en met verwondering oor God se genade los.

Ivor is deesdae ʼn jeugdominee in Pretoria met ʼn passie vir die Here wat sy storie gebruik om ander te inspireer.

Die verlore seun vannie Gaatjie is ʼn storie van die verlore seun wat huis toe kom.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R240,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.