Boek-uittreksel: Die ystervarke se skrikmaakspeletjies

Hiermee ʼn uittreksel uit die kortverhaal Die ystervarke se skrikmaakspeletjies deur Leon de Villiers wat in Maroelaboomstoriesverskyn.

Dit is donkermaan en die veld is onrustig. Oral is daar vreemde geluide en snaakse bewegings. Sliertjie die ystervark staan doodstil agter die boom se dik stam. Sy hart klop baie vinnig. Dit is die perfekte nag vir wat hy wil doen, maar al die geluide maak hom benoud. Hy loer weer oor sy skouer. Nee, dink hy en skud sy lang, dik haardos, hy kan nie bekostig om bang te wees nie.

Vannag is die nag wat hy sy boetie, Stoppeltjie, en sy sussie, Karteltjie, gaan terugkry. Binnekort gaan hulle in hierdie veldpaadjie aangestap kom. Dan gaan hy hulle skrikmaak soos wat hulle nog nooit skrikgemaak is nie. Dit sal hulle leer.

Hulle wou hom mos so laat skrik.

Net laasnag nog het Stoppeltjie ’n stuk luislangvel oor homself getrek en skielik snaakse sisgeluide reg agter Sliertjie gemaak. Sjoe, Sliertjie het hom byna nat geskrik. En drie nagte tevore het Karteltjie haar weer vol rooi bessiesap gesmeer en gemaak asof ’n leeu haar gebyt het. Sliertjie se hart het toe ook amper gaan staan.

Sliertjie vat twee lang wit pendorings en sit dit in sy bek. Nou lyk dit soos wrede slagtande. Versigtig sit hy ’n groot stuk boombas op sy kop. So moet ʼn verskriklike, wilde, wrede gedierte mos lyk. ’n Wilde, wrede gedierte wat honger is vir sappige ystervarkvleis!

Net toe hoor Sliertjie iemand in die paadjie aangestap kom. Hy maak gereed.

Nog net ’n paar tree, dan….

“Rrrraaaa!” brul hy en spring tot in die middel van die paadjie.

“Jieeeeee!” gil die ystervark en slaan reg agteroor.

“Het jou!” roep Sliertjie en gee ’n sprongetjie. “Het jou, het jou, het jou!”

Maar toe hy mooi kyk, sien hy dit is nie Stoppeltjie of Karteltjie wat so doodstil

daar lê nie! Dit is niemand anders as sy eie oupa Kuif nie!

“O, geitjie-geit,” prewel Sliertjie en sluip stadig nader. Oupa Kuif het hom dood­geskrik! Wat op aarde gaan hy vir sy ouma sê?

Die ou ystervark lê roerloos. Sliertjie se onderlip begin bewe.

“Oupa Kuif? Oupatjie!” roep hy saggies.

Die ou ystervark roer nie eers ’n snorbaard nie.

“Ek is jammer, Oupatjie,” snik Sliertjie en buk laag oor sy oupa. “Vergewe my, asseblief. Ek het gedog Oupa is Stoppeltjie of Karteltjie. Oupatjie moet tog asseblief net nie dood wees nie.”

Die volgende oomblik vlieg die ou ystervark met ’n harde snork orent.

“Wieee!” gil Sliertjie van die skrik en slaan self reg agteroor.

“Hiehie, hohoho, hahaha,” lag oupa Kuif. Hy draai in die rondte en hou sy maag vas.

“Oupa!” raas Sliertjie. Hy kom stadig orent, skoon duiselig geskrik.

Oupa Kuif snik soos hy lag. “Wieee!” proes hy. “Wieeee! Dit is die snaaksste geluid wat ek ’n ystervark nog hoor maak het. Soos ’n brulpadda wat uit ’n boom val. Wieeee!”

Eers wil Sliertjie vir sy oupa kwaad word, maar sy oupa se lag is so aansteeklik dat hy self ook begin lag. Ja, sy oupa het hom darem baie lekker uitgevang.

Toe hulle ophou lag, vra Sliertjie: “Maar hoe het Oupa geweet dit is nie ’n wilde,

wrede gedierte nie?”

“Wilde, wrede gediertes maak nie so baie geluide as hulle hul prooi bekruip nie,” lag oupa Kuif. “Ek kon jou van wie weet waar af hoor. Julle jonges moet nog by ons oues kom leer van suutjies trap.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lapa Uitgewers verskaf.

Genre: Kinderfiksie
Ouderdom: 7 en ouer
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R280,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by Lapa Uitgewers

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae