Boek-uittreksel: Engele tot die redding wanneer drama dreig

Hier volg ʼn uittreksel uit hoofstuk een van Engele in Kosmoslaan deur Elsa Winckler.

***

“Kan ek net weer sê hoe ek uitsien na ons breigroep-byeenkoms?” Alma glimlag terwyl sy die gordyne toetrek. “So baie dinge het oor die afgelope twee jaar verander, maar ons hou nog vol met ons maandelikse kuiers. Ek is veral bly ons kan bymekaarkom voor die skole begin.”

“Hierdie kuiers mis ek ook vir niks,” sê Ellie. “Tannie Ida, ek sien daar is vandag meubels by jou huis afgelewer. Ek neem aan die nuwe eienaars trek in?”

Ida knik. “Ja, ek is so dankbaar die huis is uiteindelik verkoop danksy Alma se harde werk. Nogmaals baie dankie, buurvrou.”

“Ek glo mos elke huis sal die regte eienaar kry,” glimlag Alma. “En uiteindelik het dit gebeur.”

“Wie is die nuwe intrekkers?” vra Marella. “Met ons byeenkoms verlede maand was die huis mos nog nie verkoop nie.” Sy nies in ʼn snesie in haar hand. “Skies, julle. Ek is regtig oukei, dit is net die hoeveelste simpel verkoue.”

“Ene Conrad Enslin en sy gesin. Hulle is van Worcester. Hy is glo in die onderwys,” antwoord Alma. “Die hele transaksie is aanlyn gedoen. Dit is wonderlik wat ʼn mens deesdae alles van ʼn eiendom aanlyn kan sien, maar ek weet darem nie of ek sommer ʼn huis sal koop sonder om dit self te sien nie.”

Julia kyk vinnig op. “Enslin? Ook in die onderwys, sê jy? Die nuwe skoolhoof wat nou by die skool moet begin se van is ook Enslin, en …” Sy frons. “Kom hy nie ook van Worcester af nie? Dis seker net toevallig. Sy aanstelling was ʼn vreeslike uitgerekte affêre. Die onderwysdepartement kan so sukkel om dinge te finaliseer. Hy het wel by die skool besoek afgelê, maar ek het daardie dag van die kinders na die eisteddfod geneem en het hom nie ontmoet nie.”

“Solank dit net nie weer daai man is wat jou lewe so versuur het nie,” frons Ellie.

Julia kreun. “Moenie eens Manie Bruwer se naam noem nie. Dit kan nie hy wees nie; hy is gelukkig by ʼn ander skool in een van die suidelike voorstede. Ek het by Dawn, die sekretaresse, gehoor hy is intussen ook van sy vrou geskei.”

Alma gaan sit. “Foeitog, sy het seker haar lewe lank gely onder ’n narsis soos hy. Ek kan nog steeds nie glo die hofsaak is uitgegooi nie.”

“Ek raak sommer dadelik weer opgewerk,” brom Marella terwyl sy konsentreer op haar breiwerk. “Howe funksioneer nie regtig meer deesdae nie. Dis ʼn wonderwerk indien ʼn saak uiteindelik voor ʼn regter of landdros beland. In hierdie geval het die verfmonsters wat hulle van Manie se motor en Rudi se fiets geneem het, weggeraak uit die SAP 13-bewysstukkluis. Moenie eens vra nie.”

“Ek moet bieg, ek is maar bly,” sê Julia. “Vir ʼn lang uitgerekte hofsaak waar ek elke dag vir Manie moet sien, sien ek eenvoudig nie kans nie. Solank ek net nooit weer iets met hom te doen hoef te hê nie en hy ver van my en my kind af wegbly, is ek tevrede.” Sy ril. “Kan ons asseblief oor iets anders praat? Ek begin sommer hiperventileer as ek net dink aan wat gebeur het. Alma, sien Sabina al uit na Stellenbosch?”

Alma druk Julia se hand. Sy verstaan maar te goed hoekom sy eerder oor iets anders wil praat. Hulle almal onthou die aand toe Rudi raakgery is nog baie goed. “Ja, sy is baie opgewonde. Sy is maar op haar senuwees omdat sy ʼn kamer met iemand moet deel, maar sy sien baie uit na haar studies.”

“Wat gaan sy nou weer swot?” vra Ida.

“Rekenaarwetenskap en inligtingstelsels, Tannie. Pa se kind. Sy is so anders as Dalene – háár enigste fokus is die volgende partytjie. Ons probeer met haar oor volgende jaar praat want sy moet begin planne maak oor wat sy ná skool wil doen, maar sy lag dit net weg.”

“Is Sabina en Klein-Lourens nog bymekaar?” wil Claire weet.

Alma haal haar skouers op. “Hy was lanklaas by ons, so ek weet nie regtig nie. Ek het probeer uitvra, maar Sabina wil nie praat nie. Marella, weet jy iets?”

Marella kyk op van haar breiwerk. Daar is ʼn effense frons tussen haar wenkbroue. “Nou dat jy dit noem … ek kan ook nie onthou wanneer laas ek vir Sabina gesien het nie. Klein-Lourens was nog altyd baie erg oor haar; ek sal tog vra. Wat my meer bekommer op die oomblik is sy studies. Hy begin vanjaar met sy finale jaar BCom Regte, maar ek is bevrees hy spandeer baie meer tyd aan rugby as aan sy studies.”

“Hulle maak mos darem deesdae goed geld met rugby, of hoe?” sê-vra Ellie.

Marella skud haar kop. “Jong, hy kan nie die res van sy lewe rugby speel nie. En wat doen hy dan? Ons wil graag hê hy moet sy studies voltooi. Al gaan hy nie aan met LLB nie, sal ek bly wees as hy ten minste BCom Regte voltooi.” Sy kyk na Julia. “Dit klink my Rudi kry dit reg om sy rugby en studies te balanseer. Ek het hom nou die dag in die straat raakgeloop.”

“Ja, dit gaan goed met hom,” glimlag Julia. “Ek sien hom net te min. Ek weet byvoorbeeld nie eens of hy en Dalene nog iets aan het nie. Weet jy, Alma?”

“Sy praat ook nie,” sê Alma. “Trek net haar skouers op. Ek het gedink as hulle verby die tienerjare is, gaan dit beter. Ons gesels oor allerhande dinge, maar sy het nog nie weer oor Rudi gepraat nie.”

Marella kreun hardop. “Wel, Ada is sestien en heeltemal verslaaf aan haar foon. Deesdae is haar groot belangstelling mos modes. Sy is van vroeg soggens tot laat saans op sosiale media. Die nuutste gier is om makeovers te doen. Ek waarsku maar solank. Moenie verbaas wees as sy aan julle deure kom klop nie. Sy soek proefkonyne. Bouwer weer maak my heeltemal mal. Hy sit mos so heeldag agter sy rekenaar. Nes Dalene wil hy ook glad nie praat oor volgende jaar nie.” Sy steek vinnig ʼn hand uit na Ellie wat langs haar sit. “Skies, Ellie. Hier sit ons en kla oor kinders, en jy en Justin wil so graag ʼn baba hê.”

Ellie kyk nie op van haar breiwerk nie. Sy glimlag net baie effens. “Ek glo nog vas daar is ʼn dogtertjie in ons toekoms. Intussen skryf ek stories wat sy eendag kan lees.”

“Ek is so bly jou boeke doen so goed,” sê Alma. “Jy stap met die een prys ná die ander weg. Ek brag graag met my beroemde buurvrou.”

Ellie lag skaam. “Dankie. Ek is baie dankbaar.”

Claire maak keel skoon en loer onderlangs na haar skoonma. Ida knik baie effens. “Ek … ons het nuus. Ons … ek en Hugo is swanger. As alles reg loop, kom ons babatjie in September.”

Vir ʼn oomblik is dit doodstil in Alma se sitkamer. Dan vlieg Marella op met ’n gil en storm met oop arms op Claire af. “Ek is so bly vir julle!”

Die ander vroue kom vinnig nader. Ellie ook.

Claire gryp vir Ellie om die nek. “Ek is so jammer …” Haar oë skiet vol trane. “Ek weet hoe lank julle al wag … jy het ook nog ’n miskraam gehad … ek …”

Ellie gee haar ʼn drukkie. “Ek is bly vir julle. Dis wonderlike nuus. Dis seker nog te vroeg om te weet of dit ʼn dogtertjie of ʼn seuntjie is?”

“Ja, ʼn mens kan blykbaar so teen week veertien uitvind, maar dit maak regtig nie vir ons saak nie.” Claire lag so tussen haar trane deur. “Ek wou so graag vir julle vertel vanaand, maar ek …”

Ellie gee weer vir haar ʼn drukkie. “Dis wonderlike nuus so aan die begin van hierdie nuwe jaar.”

Uiteindelik gaan almal weer sit.

“Ek is regtig bly vir julle, Claire,” sê Julia. “Die manier waarop jy en Hugo by mekaar uitgekom het, gee my nou nog hoendervleis. Ek het nie ʼn goeie ondervinding van die huwelik gehad nie en wil regtig nooit weer trou nie, maar dis altyd vir my so mooi om stories te hoor oor mense wat kans sien om liefde ʼn tweede of selfs derde kans te gee.”

“Moet nooit sê nooit nie,” glimlag Claire. “Ek het baie beslis ook nie gedink ek kan weer lief raak vir iemand nie, maar toe ek die eerste keer in Hugo se blou oë kyk …” Sy druk haar hand teen haar hart en sug teatraal.

Almal lag.

“Dalk wag iemand baie spesiaal vir jou ook,” knipoog Claire. Julia skud haar kop beslis. “Nee wat. Ek is hopeloos te jonk getroud, en dis nie ʼn ondervinding wat ek wil herhaal nie. Ek sal nooit spyt wees daaroor nie, want anders het ek nie vir Rudi gehad nie.”

“Tannie Ida, wat van jou?” terg Marella. “Jy is nog eintlik jonk, dink jy ooit daaraan om weer te trou?”

Duidelik onthuts kyk Ida vinnig op. “Nee, o aarde, kind, ek het meer as wat ek verdien. Ek het mos vir julle my storie vertel. Toe my man en seun dood is, het ek gedink ek word gestraf oor die baba wat ek lank terug moes weggee. Maar toe stap Hugo in my en Claire se lewens in. Nie net het ek my kind teruggekry nie, daar is nou ook ’n kleinding op pad.” Haar oë blink van die trane. “My beker loop oor. Die liewe Heer se genade is baie groot. Buitendien, ek word een van die dae twee-en-sestig. Ek is heeltemal te oud vir sulke lawwigheid.”

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Luca, ʼn druknaam van Lapa Uitgewers, verskaf. Klik hier om Engele in Kosmoslaan op Lapa se webwerf of by Graffiti Boeke aan te skaf. Die boek kos R290 (prys onderworpe aan verandering).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.