Boek-uittreksel: Fanie Viljoen weef ʼn ‘Donker Web’

Hier volg hoofstuk een van die boek Donker Web deur Fanie Viljoen.

Greg Owen is oorlede. ’n Span duikers het sy liggaam gister uit die Canale Grande in Venesië gehaal.

Dis wat die koerante in die Turret Media-groep oor my berig.

Greg Owen is dood.

Kan dit waar wees, na alles wat gebeur het? Miskien is daar meer aan die storie.

Ja, ek was in Venesië, waar die hoofkanaal soos ’n reuseslang deur die stad kronkel, en ja, iemand is uit die donker water gehaal. Maar ander mense was saam met my daar. Ons was vyf.

Een van hulle is dood.

Hierdie is ons storie.

Dis hoe dit begin.

Ons huis in Sandhurst het ’n skemeragtige plek geword, meestal sonder klank, buiten vir ’n selfoon wat af en toe lui, die geluid van ’n motor in die straat, ’n sjef wat kosmaak in die kombuis, of wanneer ek doelbewus musiek hard aansit om die stilte te verdryf.

Kom jy die huis binne, stap jy met die gang af of sit jy in die sonkamer, is daar altyd hierdie swaar gevoel wat binne jou lê, soos ’n opgekrulde slang.

So het dit begin voel die aand toe ons by die huis arriveer nadat ek teen die middel van matriek weg is by Lawson Kollege, nou al ’n jaar en ’n half gelede. So iets. Ook tyd het ’n ander betekenis gekry in hierdie somberte. Dae het soms verbygegaan terwyl jy afgestomp daardeur worstel, net om aan die einde van so ’n dag in die hof of waar ook al te wonder hoe jy daardeur gekom het.

Dit was byna soos wanneer ’n mens se gedagtes begin dwaal terwyl jy kar bestuur, en jy later wonder hoe op aarde jy by die huis gekom het, want jy kan niks van die rit onthou nie.

Besigheidsvennote en mense wat vroeër goeie vriende met my pa was, het hulself skaars gehou. Altyd besig. Dit was asof hulle bang was dat ’n smet aan hulle sou afsmeer. Een unlikely ou het egter op ’n dag by die huis opgedaag, ’n ruiker blomme in die hand.

“Let me know if there is anything you need, Mrs Owen. Anything at all.”

Thomas Lawson. TJ, wat saam met my in matriek was, se oupa.

Asof hy my pa iets skuld.

En noudat alles verby is – skool, Dok en my pa se hofsaak, die media-vreetfees – is die neerdrukkende gevoel in ons huis steeds daar. Dit besef ek toe ek die aand vir die laaste keer in my bed lê. More is dit tyd vir ’n nuwe begin, of so vertel ek myself. Die een of ander tyd moet ’n mens voortgaan. Dis die lewe.

Ek laat my asem stadig uit, my oë gerig op die muur oorkant die bed waar ’n Conrad Botes-skildery hang. Dis uit sy The Temptation to Exist-reeks. ’n Selfportret wat ek nie verstaan nie, maar waarna ek ure lank kan kyk. Waaroor ek kan wonder. My ma het dit vir my gekoop omdat sy weet ek hou van sy hardegat kuns. In my kas is daar nog ’n stapel Bitterkomix-strokies met Botes, Anton Kannemeyer en ander kunsrebelle se werk in.

Van die skildery af beweeg my oë na die bokse by die deur. Die tasse en ander random goed wat more moet saamgaan Stellenbosch toe. Dis waar ek nou gaan bly. Stellies.

Ek probeer my aandag vir ’n oomblik daarvan afkry, want ek weet ek moet slaap. Dis al na twaalf.

Met my oë toe, lê en luister ek na my eie asemhaling. Weer intens bewus van die verraad in my: die ou wat sy eie pa vir die wolwe gevoer het. Dit steek in my bors. Jy kan skoert van die huis af, Greg, maar so maklik kom geen mens weg van die swakheid binne jou nie. Ook nie van die verlede se skaduwee nie.

Ek rol om. Al probeer ek hoe, die slaap wil nie kom nie.

Uiteindelik gooi ek die beddegoed eenkant toe, klim uit die bed en stap badkamer toe. Die lig gloei helderder toe ek die vertrek binnestap. Ek sluk ’n glas water af. Vang nog ’n stroom water in die holte van my hande, spat dit oor my gesig en kyk hoe die water oor my vel blink, hoe dit in strome oor my ken afloop na my nek, oor my kaal bolyf.

My gesig het verander. Die gedagte tref my onverhoeds. Ek is glad nie meer dieselfde matrieklaaitie wat ek in Lawson Kollege was nie. Daar is iets forsers aan die manier waarop my gesig se hoeke sny. Iets treurigers in my oë. ’n Bitterheid in die manier waarop my lippe trek.

’n Mens leer ook uit die wedstryde wat jy verloor, kom ’n les van ’n rugbyafrigter na my toe terug.

Leer ’n rugbywedstryd jou dat die lewe unfair is? wonder ek wrang. Waar ek nou is, en hoe ek hier gekom het – dis nie hoe my lewe moes wees nie.

Met daardie gedagte wat deur my kop maal, stap ek terug kamer toe. My vingers vee oor die bokse by die deur toe ek my kamerdeur oopmaak. Die gangmat is sag onder my voete.

By my broer, John, se kamer stop ek. Vir ’n oomblik wil ek klop en is daar die vae hoop dat hy sal antwoord. “Kom in as jy ’n broek aanhet.” Dis hoe hy altyd geantwoord het. Ek kry ’n effense laggie, maak die deur oop en stap in. Die lig gaan le sag oor die kamer toe ek die skakelaar teen die muur druk.

Nog herinneringe stroom deur my, duisel in my kop.

Die bed is opgemaak. Die gordyne wat die donker moet buite hou, is toe. Al John se goed is net soos dit was toe hy nog geleef het. My ma hou dit so. Daaroor is ek nogal bly. Al is dit tragies, amper ’n gedenk-altaar, is dit een van die min dinge wat ons van my broer in die huis het.

Om sy gedagtenis in my lewendig te hou, probeer ek verbete vasklou aan die tye wat ons saam was. Soos die keer toe ons by die Orlando-torings in Soweto gaan bungee jump het. Later was ons by Bloukrans se bungee en toe by die reusetouswaai by die Moses Mabhida-stadion in Durban. John het gelewe vir daardie adrenalienstorm in die bloed.

“Hoekom doen ons dit?” het ek hom gevra toe ons daar op die platform by die stadion staan en afkyk na die sportveld doer onder. John was alreeds vas aan die springtou se harnas. Die seewind daar bo het aan ons hare gepluk en ons T-hemde teen ons lywe vasgedruk.

Dit was asof John na die antwoord binne hom gesoek het.

“Hoekom?” het ek weer gevra.

“Vir die val. Vir die vrees,” het hy na ’n ruk geantwoord, sy wenkbroue uitdagend gelig, en skewerig geglimlag.

Toe spring hy.

Die rek het hom soos ’n naelstring verbind aan die middel van die massiewe boog wat oor die stadion span. John het sy arms oopgegooi en uitgelate diep uit sy maag geskree.

Vir die val. Vir die vrees.

Hy het my op elke avontuur saamgesleep. Bungee, white-water rafting op die Oranjerivier. Rotsklim in Kaapstad. Dit was asof hy met al hierdie adrenalieninspuitings die grense van die lewe wou toets.

Die grens het hy gekry. Nie in een van die gevaarlike sporte nie. In ’n bottel pille. So is my broer weg.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Tafelberg, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Fanie Viljoen het ook ʼn video gemaak waarin hy meer oor die verhaal en karakters in Donker Web vertel. Kyk hier:

Genre: Kinder- en jeugfiksie
Ouderdom: 14 en ouer
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R250,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by 
NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.