Boek-uittreksel: Gebede vir elke vrou

Hier volg ʼn uittreksel uit die boek Gebede vir elke vrou deur Nina Smit.

Voorwoord

“Ek roep tot U, o God, want ek weet U sal antwoord. Buig af en luister as ek bid.” – Psalm 17:6 NLV

Jou Bybel verseker jou op baie plekke dat God hoor en antwoord wanneer sy kinders bid. Hoe meer ’n mens met iemand praat en hoe langer jy in daardie persoon se teenwoordigheid deurbring, hoe beter leer jy hom of haar ken. Dieselfde is waar van God.

Jy kan God nie werklik persoonlik ken as jy nie dikwels in gebed met Hom praat nie. Jy moet ook leer om die dinge wat in jou hart leef na God te bring. Nie net belangrike sake nie, maar ook die klein, alledaagse dinge wat deel uitmaak van jou lewe.

God is elke oomblik van die dag vir jou beskikbaar, en as jou woorde ontoereikend is, onderneem die Heilige Gees om in jou plek te bid en jou stamelende gebede reguit na God te neem. Jy mag maar met groot vrymoedigheid na God se genadetroon gaan omdat Jesus reeds vir jou daardie voorreg aan die kruis verdien het.

Onthou net dat jy ook tyd moet inruim om na God te luister. Só kan jy vir God elke oomblik van die dag by jou hê. ’n Mens leer bid deur te bid. Dit is my gebed dat die gebede in hierdie bundel byval in jou omstandighede sal vind, sodat dit vir jou makliker sal wees om jou eie gebeds­versoeke na God te bring.

Gebed: Danksegging

Hemelse Vader, vergewe my asseblief dat ek so dikwels voor die versoeking swig om klaerig en ondankbaar te wees.

Ek weet, Here, dat ek steeds soveel redes oor het waarvoor ek vir U dankie kan sê.

Ek loof U vir mense wat my liefhet, vir my kinders en kleinkinders, vir my vriende en familie.

Baie dankie vir gesondheid en lewenskrag, vir die nodige lewensmiddels, vir musiek en boeke en die natuur daarbuite.

Dankie dat U vir my dié dinge gee waarsonder ek nie kan klaarkom nie, hoewel ek nie altyd alles kry wat ek graag wil hê nie.

Here, maak my dankbaar in alles – selfs vir dié dinge wat ek liewers anders sou wou hê: vir siekte en swaarkry wat my nader aan U bring; vir gebrek aan fondse wat my verplig om op U te vertrou; vir eensaamheid wat my U laat opsoek – want ek weet uit ondervinding dat dit wat U gee altyd die heel beste vir my is.

***

Oor die boek

Dit maak nie saak wat jou ervaring is nie. Dié boek bied vir vroue ʼn verskeidenheid gebede: Of jy nou hartseer is, jou bekommer, eensaam en verlate voel of siek is.

Gebede vir elke vrou bevat ook wonderlike gebede vir jou huwelik, oor en vir jou kinders en oor vriendskap. Van groot vreugde tot die diepste hartseer – vind hier die gebed wat jou gemoed nodig het.

Oor die skrywer

Nina Smit was een van Suid-Afrika se bekendste en gewildste skrywers. Smit is ʼn bekroonde skrywer en is veral bekend vir haar inspirerende boeke vir vroue, maar het ook talle gesogte boeke vir kinders geskryf. Smit is in Januarie 2020 oorlede.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R140,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by NB-Uitgewers

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.