Boek-uittreksel: Gedugte Boervroue

Hiermee ‘n uittreksel uit Herman Giliomee se boek, Die Afrikaners (2018-uitgawe).

Gedugte Boervroue

Die Afrikaner-vrou het ’n deurslaggewende rol in die twee sleutelgebeurtenisse in die Afrikaner-geskiedenis gespeel – die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog.

Terwyl die Groot Trek op dreef gekom het, het ’n Britse setlaar aan die Oosgrens geskryf: “Die trekkers verbeel hulle dat hulle onder ’n goddelike roeping staan” en bygevoeg: “Dit lyk of die vroue meer vasbeslote is as die mans.”

Die Voortrekkervroue het nie die kolonie verlaat as aanhangsels van hul mans nie; hulle was deel van die besluit en het dit help uitvoer.

In die Anglo-Boereoorlog het die vroue hul mans en seuns op groot skaal teruggestuur om voort te veg. Die historikus GM Theal, wat in dié tyd geleef het, skryf: “Die vroue is die vurigste voorstanders van oorlog tot die bitter einde. Boervroue sal hul mans en die een seun ná die ander stuur om tot die laaste vir onafhanklikheid te veg.”

’n Britse waarnemer het tot hierdie slotsom gekom: “Dit was die vrou wat die oorlog so lank laat aanhou het. In haar hart het patriotisme opgevlam tot ’n allesverterende vuur. Sy is die een wat niks vergewe nie en niks vergeet nie.”

Grondige argumente kan aangevoer word dat die Boervrou die sterkste posisie in die gesin gehad het van alle vroue in die agtiende en negentiende eeuse Europa en Europese kolonies. Ironies genoeg het die vrou se posisie in die Afrikaner-gemeenskap verswak nadat stemreg in 1930 aan wit vroue in Suid-Afrika toegeken is.

Waar kom die gedugte Boervrou van die agtiende en negentiende eeu vandaan?

Die antwoord lê in die intellektuele bagasie waarmee die Nederlandse vrou na die Kaap gekom het.

’n Ondersoek moet begin by ’n bondige vergelyking tussen die Engelse en die Romeins-Hollandse erf- en familiereg tussen die sewentiende en twintigste eeu.

Huwelike in die Engelse reg het veral oor eiendom gegaan, met die man wat die eienaar van die vrou se roerende bates geword het. Die vrou het alle aanspraak daarop verloor, al het sy die man oorleef.

Met eersgeboortereg, wat wyd in Engeland en sy kolonies voorgekom het, erf die oudste seun die meeste. In Engeland kon dogters erf, maar daar was ’n sterk neiging om seuns te bevoordeel.

Die Romeins-Hollandse reg wat aan die Kaap toegepas is, het verder gegaan as enige ander destydse regstelsel in sy erkenning dat alle vry mense – mans en vroue – gelyke regte het. Dié sogenaamde “gewettigde gelykmaking” het diepgaande sosiale en politieke gevolge gehad.

Man en vrou het saam gelyke dele van hul bates en laste besit, al het die man die gesamentlike boedel gedurende die huwelik bestuur. Met die een se dood het die helfte van die boedel na die oorlewende lid gegaan en die ander helfte in gelyke mate na hul kinders.

Aan die Kaap het vroue meestal hul mans oorleef. In welvarende gesinne het die weduwee beheer oor substansiële eiendom, veral grond en slawe, gekry.

Later is selfs gepraat van ’n “regering deur weduwees”. ’n Vermoënde weduwee kon haar moontlikhede, byvoorbeeld nog ’n huwelik, sorgvuldig vanuit ’n finansiële oogpunt oorweeg. Baie Kaapse weduwees het etlike kere hertrou en so ’n klein fortuin bymekaar gemaak.

Die Romeins-Hollandse erfreg en die Gereformeerde Kerk het gesorg dat Europese vroue aan die Kaap veel groter beskerming geniet as in ’n Europese kolonie soos Brasilië waar die Rooms-Katolieke Kerk oorheers het. Kaapse vroue kon skei op grond van owerspel, kwaadwillige verlating en fisieke mishandeling. As die man skuldig was, het die vrou sy helfte van die boedel ontvang. Sy kon ook enige eiendom wat die man aan sy minnares of houvrou gegee het, terugkry. Dieselfde het natuurlik gebeur as die vrou oor die tou trap.

’n Kaapse man se buite-egtelike kinders het nie in sy boedel gedeel nie. Hulle het net geërf as die pa dit spesifiek bepaal het. Dit het min, indien ooit, gebeur dat die man sy kind by ’n slavin laat doop of erf het.

Die Romeins-Hollandse reg het die vrou se posisie ook op ander gebiede versterk. Hulle kon ooreenkomste aangaan en notariële akte-dokumente teken en ’n onderneming of beroep bedryf sonder hul man se toestemming. Hulle was nou betrokke by hul man se werk, veral as hy ’n sakeman of handelaar was en het dikwels volle erkenning vir hul rol gekry.

Vroue aan die Kaap was aktief deel van die hawestad se besige handel en het lisensies gekry om onder meer gastehuise of tavernes te bedryf.

Die erflatingsreg het ook ’n ander belangrike gevolg gehad. Aangesien elke kind, ongeag geslag, sy “wettige porsie” moes kry, was ouers genoodsaak om die grond tussen hulle te verdeel. Die onderverdeling van plase in onekonomiese eenhede was dus wydverspreid.

Baie families het chronies in die skuld beland weens verbande wat hulle op die plaas moes uitgeneem om die jonger seuns en dogters uit te betaal. Dikwels is plase verkoop en die opbrengs verdeel, wat seuns gedwing het om nuwe grond elders te soek of bywoners te word.

 

Gerugsteun deur die Romeins-Hollandse reg en die Gereformeerde Kerk het dogters en vroue aan die Kaap gou ’n sterk en selfs onafhanklike posisie ontwikkel.

Dogters en seuns het grootliks as gelykes grootgeword. Op plase het hulle dieselfde primitiewe onderwys van rondreisende onderwysers ontvang.

In die loop van die agtiende eeu het die vrou ’n sleutelrol begin speel in die ontwikkeling van ’n kerkvaste burgerlike gemeenskap. Vroeëre historici het die rol van geloof in die eerste eeu van die nedersetting oordryf. Die burger-gemeenskap was egter vir ’n groot deel van die Kompanjie-tyd geensins besonder godsdienstig nie.

Vroue het lank voor die meeste mans bevestigde lidmate geword. Eers aan die einde van die agtiende eeu het die mans bygekom. Waarnemers het nou vir die eerste keer die buite-distrikte se burgers as godsdienstig bestempel.

Huwelike tussen Europeërs en nie-Europeërs het ná 1730 skerp afgeneem, maar geslagsomgang buite die huwelik tussen Europese seuns of mans en slavinne was aan die orde van die dag. In sy skrywe oor die Kaap sê Mentzel dat Europese seuns dikwels by ’n slavin van die huishouding betrokke geraak het sonder dat hul ouers omgegee het.

Die pa moes by wees om ’n buite-egtelike kind deur die doop te laat legitimeer en hy moes in die openbaar erken dat hy die kind verwek het. Dit het min gebeur as die ma ’n slavin of vryswarte was.

Die meeste kinders uit buite-egtelike verhoudings tussen wit en swart ouers het in die slawegemeenskap opgegaan. In die treffende woorde van JS Marais, die groot historikus van die bruin gemeenskap: “Thus did the Boers keep their own race pure and bring into existence a race of half-breeds.”

 

Die Britte, wat die Kaap vroeg in die negentiende eeu in besit geneem het, het slawerny hervorm. Hulle het slawe-invoer beëindig en die regering veel meer mag gegee om slawe te beskerm. In 1823 het die regering minimum standaarde vir kos, klere, werkure en maksimum straf neergelê en in 1826 het hy die aantekening van straf verpligtend gemaak en verdere beperkings daarop ingestel.

Slavinne kon nou klagtes indien by die nuut-aangestelde “beskermer van die slawe” en hul eienaar hof toe vat. Hierdie verwikkelinge was ’n nekslag vir die hele paternalistiese orde.

Behalwe vir kriminele rekords weet ons nie veel van wat gebeur het wanneer die verhouding tussen die vrou en haar slavin skeef geloop het nie. Die omvangryke dokumentasie daaroor in die Amerikaanse suide gee ’n goeie prentjie wat waarskynlik ook hier geldig was.

Eugene Genovese, ’n voorste Amerikaanse historikus, skryf oor dié verhouding: “As daar op die lande ’n botsing tussen ’n baas en ’n slaaf was, was daar uitkomkans. Die slaaf het gewoonlik sy kop laat sak, weggeskuifel en homself beheer. Dit was ’n ander storie in die kombuis waar die vrou en haar slavin daagliks skouers geskuur het. Die vrou het haar slavin goed genoeg geken om te sien wanneer sy haar opruk – miskien ’n stuurs kyk, ’n nors stemtoon of miskien net die ophaal van die skouers.” Die vrou het miskien die slavin ’n klap gegee of iets ergers gedoen.

Kaapse slavinne kon voorheen op geen manier hul regte opeis nie, maar nou kon hulle gaan kla. Dit is moontlik dat die Boervrou se wrewel teenoor die Britse gesag begin het met wat sy beskou het as die regering se onbehoorlike inmenging in die verhouding tussen haar en haar slavin in die kombuis.

Die regering het ook in kerklike sake ingegryp. As deel van sy poging om gelykheid te bewerkstellig het hy aparte Nagmaal vir wit en swart in 1829 afgeskaf.

Opvallend genoeg was dit ’n vrou, Anna Steenkamp, ’n niggie van Piet Retief, wat die sterkste geprotesteer het. Sy het gekla dat die “gelykstelling [van slawe] met Christene strydig was met die wette van God en die natuurlike onderskeid van afkoms en geloof”. Die trekkers het hulle liewer aan die kolonie onttrek om hul “geloof en leer in suiwerheid te behou”.

Die vroue was vasberade om nie na die kolonie terug te keer nie. Dit het gou vir maj. Samuel Charters, in 1838 bevelvoerder van die Britse mag in Durban, duidelik geword toe ’n geselskap trekkers daar ingetrek het. Onder hulle was gesinne wat vroeër “goed en gemaklik” gelewe het, maar nou in haglike “armoede en ellende” verval het, het hy geskryf.

Volgens Charters het hulle nietemin “met wonderlike vasberadenheid teen hierdie rampe gestry”. Hulle het gemeen hulle is onregverdig en sleg deur die Kaapse regering behandel terwyl hulle onder sy jurisdiksie was. Veral die vroue het die Britse heerskappy sterk verafsku. “As van die mans uitsak of moed verloor, het die vroue hulle aangemoedig om voort te gaan en die gees van verset lewend gehou,” het Charters bygevoeg.

In 1839 het hierdie trekkers die republiek van Natalia uitgeroep onder ’n Volksraad. Drie jaar later het die Kaapse regering ’n mag van 250 man na Port Natal gestuur om die gebied te annekseer. In hul geledere was Henry Cloete, ’n verengelsde Kaapse Afrikaner, wat trekkers moes oorhaal om die besetting te aanvaar.

Cloete het ’n vuurdoop gekry toe ’n afvaardiging van Voortrekkervroue onder leiding van die gedugte Susanna Smit hom gekonfronteer het. Sy was die trekleier Gerrit Maritz se suster en vrou van Erasmus Smit, ’n Hollandse lekeprediker. Smit was bekend as ’n sukkelaar wat sy vrou met haar sterk wil moeilik beheer het.

Cloete het gerapporteer dat die vroue by monde van Susanna Smit “hul vaste voorneme” uitgespreek het om nooit voor Britse gesag te swig nie. Hulle sal eerder “kaalvoet oor die Draaksberg [Drakensberg] loop om vry te sterf, aangesien die dood vir hulle beter was as die verlies van vryheid”.

Smit en die vroue by haar was ook vir hul mans kwaad. Hulle het langs die mans teen inboorlingstamme geveg. Volgens Smit het die mans aan hulle “’n stem beloof in alle sake rakende die stand van hierdie land”. Tog het die Volksraad, wat net uit mans bestaan het, nou aan die Britte oorgegee ondanks die vroue se protes.

’n Ontstelde Cloete het die vroue se toorn beskou as “’n skande” wat die mans oor hulself gebring het deur hul vroue “so ’n staat van vryheid te veroorloof”.

Iets uitsonderliks het kennelik gebeur. Vroue aan albei kante van die Atlantiese oseaan is tot laat in die negentiende eeu stemreg geweier omdat hulle óf geen eiendom besit het nie óf gebrekkige opvoeding gehad het óf weens ’n gewaande natuurlike onbekwaamheid om ’n sê oor openbare sake te hê. Dit was eers in 1893 toe Nieu-Seeland stemreg aan vroue gegee het dat ’n nasionale of koloniale staat vroue in nasionale verkiesings laat stem het.

Dis teen hierdie agtergrond dat ’n mens die radikale aard van Susanna Smit se optrede en Henry Cloete se ontsteltenis moet verstaan.

Vroue was ook aan die voorpunt van vroeë uitings van Afrikaner-nasionalisme. Die eerste was die opstand in 1880 en 1881 van die Transvaalse Afrikaners teen die Britse besetting van die republiek. Dit het tot ’n klinkklare Boere-oorwinning by Majuba en die Britse onttrekking aan die Transvaal gelei.

 

Uittreksel uit die boek: Die Afrikaners (2018-uitgawe) deur Herman Giliomee
Uitgewer: Tafelberg
Prys: R290-00
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.