Boek-uittreksel: God se stem in put van donkerte

Hier volg ʼn uittreksel uit Michele Potgieter se boek, Sonneblomme en sneeu in Oekraïne.

Daar is ʼn put van hopeloosheid. Daar is ʼn dal van doodskaduwee. Dié plek waar jy met jou vingers aan die rotse vasklou, waar jy vastrapplek vir jou voete soek. Maar die modder maak die rotse glad, en jy gly net weer af. En jy val. Ál dieper in die donkerte om jou. Waar my liefde en elke vorm van liefhê weg is, dood is.

Ek dink terug aan die laaste soen in die hospitaalkamer, op sy wang, langs die suurstofmasker. Die laaste “love you” waarmee hy my gegroet het. Sy blou oë. Die plooitjies om sy oë. Sy sagte hare wat deur my vingers gly.

Here, help my!

Hoe kan dit wees? Dis te groot vir my om te hanteer. As ek net geweet het dat dit die laaste keer was, sou ek hom nie laat gaan het nie. Ek sou sy hand nog stywer vasgehou het, sy vingers ʼn laaste keer gestreel het.

Êrens in die vroeë oggendure het die slaap my ʼn rukkie kom optel en wegdra om my van my seer en pyn te laat vergeet. Net vir ʼn oomblik was alles ʼn droom. Toe skrik ek wakker, en dit is steeds nag. Ek staan steeds voor die waarheid wat soos ʼn groot swart brander oor my breek, gereed om my rond te slinger en my te verpletter.

Hy is dood.

Dit is die donkerste, langste swart nag ooit. Ek is leeg. Alle lewe het ek uit my uitgehuil.

Dan word ek bewus daarvan. My eerste dagbreek sonder hom. Ek kyk deur die oop venster oor die wye see. Die see is pikswart, maar teen die horison is daar ʼn sagte, klein strepie lig. Asof die Kunstenaar ʼn fyn kwassie gevat en ʼn ligte lyntjie lig in die swart en grys wolke getrek het, net daar waar die see en die heelal ontmoet. ʼn Klein bietjie hoop. Waar aarde en hemel ontmoet.

Die nag is amper verby. Ek sit vasgevang en kyk met daardie klein bietjie hoop in my na die stukkie lig wat elke minuut stadig groei en groter word. Soos die Kunstenaar op ʼn doek lig inwerk met ʼn verfkwas en die lig invryf oor die donker om hoop te bring. Skakerings van grys en wit en ʼn druppel geel olieverf.

Woordeloos sit ek op die rand van die bed en wieg myself terwyl ek huil en na die stukkie lig kyk. Ek kan my oë nie van die bietjie lig afhaal nie. Ek moet nader. Ek moet afgaan strand toe. See toe. Trane hou net aan loop. Die lig bring ʼn bietjie hoop van ʼn nuwe dag.

Met my nagklere aan, gooi ek net die kombers om my skouers, soos ʼn roukleed. Almal in die huis slaap nog. Dit is stil. Ek stap saggies tot in die sitkamer, sluit die groot glasdeur oop en skuif dit saggies weg. Die oggendbries is koel. Die gras is nat en koud onder my kaal voete. Ek trek die kombers stywer om my skouers. Die klein houthekkie kreun oop.

Ek slinger van die pyn binne-in my soos ’n dronk vrou.

Af met die trappies en oor die gras tot tussen plante in, tot op die sand, al in die kronkelpaadjie af wat strand toe lei. Ek loop vooroor gebuig met die seer binne my, soos iemand wat iets swaars dra, my arms om my gevou. Ek is stukkend.

Die lig begin oor die branders aanrol. Die donker word soos ʼn sluier gelig. Die lig word in alle heerlikheid oopgebreek in ʼn kragtige vertoning van kleur en glorie. Die Lig kruip oor die golwe en deinings en vat saggies aan my gesig met sy hande. Jesus, my Here, is hier by my. Sy lig omhels my en maak my warm. Ek hoor sy stem: Michele, Ek is lief vir jou. Ek is naby aan dié wat gebroke van hart is. Ek sal jou nooit begewe of verlaat nie. Ek tel jou op en Ek maak jou heel en sterk. Ek is by jou.

Die Here lig my kop op. Ek sit regop en sy lig verlig my. Ek kan asemhaal. Dit voel of Hy sy arms om my sit en my styf vashou met die belofte: Ek gee om. Ek gee hoop. Ek gee ʼn toekoms. Michele, Ek is jou Maker, jou Man. Ek is jou Vader. Ek sal jou vertroos en jou versterk om ʼn getuie van my goedheid te wees. Ek sal deure vir jou oopmaak en niemand sal dit kan toemaak nie. Ek sal vir jou veg. Wees nie bevrees nie, want jy sal nie beskaamd staan nie. En vrees is nie ʼn skande nie. Jy sal nie dink aan die smaad van jou weduweeskap nie. Want jou Maker is jou Man. Here van die leërskare is sy Naam. Soos ʼn verlate vrou en ’n bedroefde van gees roep Ek, die Here, jou. Ek ontferm My oor jou. Niks kan jou van my liefde skei nie. Ek tel jou uit die dieptes op en sit jou voete op ʼn stewige rots neer. Ek is Lig, en in my lig sien jy die lig. Gaan wees dan ook lig. Ek stuur jou terug na Oekraïne om die werk wat daar begin is, klaar te maak. Ek sal by jou wees en dit vir jou maklik maak. Gaan werk, terwyl dit nog lig is.

Ek voel hoe ek stadig die seer begin uitasem. My seer voel soos sand waarop ek sit, maar met elke uitasem is die seer effens minder. Een skeppie sand minder. Daar lê ʼn seer pad voor my waarvoor ek nooit gereed sou kon wees nie. ʼn Pad teen ʼn hoë, steil krans op. Met geen einde in sig nie.

Al wat ek weet, is dat die leemte in my ʼn belofte is wat net die Here kan vul.

Ek staan op van die sand af en gaan staan in die vlak water terwyl die branders oor my voete spoel. Dit is ʼn nuwe dag. Skielik is dit ʼn pragtige somersoggend.

Die Here het my opgetel en my versterk deur sy woord aan my.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf. Klik hier om Sonneblomme en sneeu in Oekraïne by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.