Boek-uittreksel: Hartebreker – Christiaan Barnard en die eerste hartoorplanting

Christiaan Barnard (Argieffoto)

James Styan

Vyftig jaar gelede op 3 Desember 1967 het Christiaan Barnard en ‘n span van 29 mediese spesialiste, die onmoontlike reggekry en die eerste suksesvolle mens tot mens hartoorplanting uitgevoer. Barnard het superster status bereik en was in dieselfde lig beskou as die ruimtevaarder Niel Armstrong en die held van Everest Edmund Hillary.

Barnard se sukses is voorafgegaan deur dekades se harde werk en intensiewe navorsing maar dit het als uitgeloop op daardie suksesvolle operasie 50-jaar gelede. Hier volg ‘n uittreksel van wat volgende gebeur het.

Enkele dae na Louis Washkansky se begrafnis is Christiaan Barnard op sy eerste warrelwindtoer na Europa en die VSA om gehore oor die wonder-operasie in Kaapstad te gaan toespreek. Louwtjie is saam.

Die paartjie is eers na Washington DC toe, waar Barnard op 24 Desember 1967 saam met sy Amerikaanse eweknieë Adriaan Kantrowitz en Michael DeBakey op ʼn televisieprogram verskyn het.

Die Barnards het Kersfees in New York, ver van hul vriende en familie, deurgebring.

Dit was ʼn wonderlike tyd vir Chris, ʼn totaal ander ervaring as die eerste keer in 1955, toe hy as vreemdeling in Amerika aangekom het en sneeu moes skoffel om geld vir kos te verdien. Dié keer is hy op die hande gedra en hy was die middelpunt van belangstelling in die stad wat nooit slaap nie. Vir Louwtjie was dit haar eerste slegte ervaring met die roem wat Chris ontketen het.

“Ons het in die Plaza Hotel-suite met ʼn pragtige uitsig oor Central Park gebly. Dit was bitter koud. Deur die venster het ek kinders gesien ysskaats. Daardie dag was ek vir die eerste keer hartseer. Dit was die eerste keer wat ek van my huis en kinders af weg was oor Kersfees en daar was geen bekendes om ‘Geseende Kersfees’ voor te sê nie. Daar was geen presente nie. Daar was nie eens ʼn Kersboodskap van my man nie.” Haar man was elders besig om hande te skud.

Sy eertydse mentor, die wêreldbekende Walt Lillehei, was saam. Lillehei het oor die hartoorplanting gesê: “Ek was nie verras toe ek daardie 3de Desember die nuus hoor dat dokters in Kaapstad dit gedoen het nie. Ek het natuurlik dadelik geweet dit was hy.” Volgens Lillehei was die Amerikaners Norman Shumway en Adrian Kantrowitz gereed om voort te gaan en die eerste hartoorplanting te doen, maar dat hulle gekniehalter was deur Amerikaanse wetgewing.

Shumway “het geglo die publiek sou nie gelukkig wees as ʼn skenkershart uit ʼn lewende skenker geneem word terwyl dit nog klop nie. Dit het groot durf van Chris gevat om voort te gaan,” het Lillehei gesê.

Louwtjie het ten spyte van haar verlange die eerste blitstoer aan die VSA geniet en besef sy was deel van ʼn spesiale ondervinding.

“Ek het gereeld vir myself gesê: Vrou, geniet dit. Hierdie ondervinding kom net een maal in ʼn mens se lewe. Die groot hotelkamerkaste met ons min klere in het egter naderhand bra verlore gelyk.”

Aan die einde van die toer is die Barnards Texas toe om Lyndon Johnson, die president van die VSA te ontmoet.

“Sy plaas was net ʼn doodgewone plaas. Al verskil was die gewapende lyfwagte. Sy vrou was baie innemend en ʼn lieflike mens, baie mooi. Haar eerste woorde was: ‘Hi folks, welcome to America,’” onthou Louwtjie. Louwtjie was op haar gemak.

“Die president en sy vrou was niks anders as gewone mense nie, doodgewoon. Die president was groot en fris. Ek het soos ʼn dwerg gevoel, maar hulle was vriendelik en padlangs. Chris en die president het aanvanklik oor die hartoorplantings gesels en toe oor die boerdery. Ons afspraak sou net ʼn halfuur wees, maar dit word toe vier uur langer toe ons genooi word vir middagete.”

Johnson het Barnard in ʼn helikopter oor sy plaas laat vlieg, die eerste keer wat die Karooseun in ʼn helikopter was.
“Dit het gelyk of daar meer wild op die plaas was as in die Kruger-wildtuin!” het Barnard gesê.

Die volgende dag is die Barnards terug Suid-Afrika toe waar Chris sy tweede hartoorplanting sou uitvoer.

Kliek hier vir meer inligting oor die boek.

Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
Prys: R250,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.