Boek-uittreksel: Hekel en word heel

Hiermee ʼn uittreksel uit die boek Hekel en word heel wat deur Nadia de Kock en Hilda Steyn saamgestel is.

‘Allegro’

“Kort voor my troue 40 jaar gelede het ek en my ma saans aan my trousseau sit en hekel, soos baie ander voornemende bruide van daardie tyd gedoen het.”

Aan die woord is Hester Buchner Bester, eienaar van MoYa Yarn in Somerset-Wes. Dié blonde vrou sprankel soos sjampanje en haar lewensblyheid val dadelik op. “Dit was ook die laaste gehekel vir baie, baie jare.

“Sewe jaar gelede is my dierbare mammie aan longkanker oorlede. Dit was die verskriklikste tyd van my lewe. My pappie was totaal verpletter en ek was heeltyd daar om hom te ondersteun.

“’n Skrale vier dae ná Mammie se afsterwe kry ek ’n histeriese oproep van my dogter wat saam met haar man met vakansie in Griekeland was. Hulle het, soos ons altyd met vakansies op eilande gedoen het, elkeen ’n bromponie gehuur en my skoonseun is reg van voor deur ʼn motor getref. Lang storie kort, sy linkerbeen was nie gebreek nie, maar letterlik van enkel tot knie oopgeskeur.

“Ná ’n week in die hospitaal in Griekeland, waar dokters die wond geheg het, is hulle terugna hulle huis in Dubai.  Daar bevind die dokters dat gangreen ingetree het en so begin die bitter lang pad na herstel. My skoonseun het al 25 operasies en tientalle veloorplantings gehad. Ná sewe jaar is daar steeds wonde wat maande neem om te herstel.

“Tussen die versorging en vertroostingvan my verpletterde pappie en die ondersteuning van my dogter en skoonseun, was daar nie tyd of geleentheid om behoorlik oor Mammie te rou en haar dood te verwerk nie. Die kersie op die koek was dat ons ses weke ná Mammie se dood Zambië toe verhuis het. Ná ’n (gelukkig) rustige jaar in die nuwe land is ons terug Suid-Afrika toe.

“Kort ná ons terugkeer, in Augustus daardie jaar, word ek met ovariumkanker gediagnoseer. Oktober volg die histerektomie, November en Desember kry ek bestraling en Januarie is ek skoon. Dit is nou amper sewe jaar later, en ek is steeds gesond.

“Al hierdie dinge het in ’n kort tyd gebeur. Dit is egter gevolg deur die vreugdevolle nuus dat ek vir die eerste keer ouma gaan word. ʼn Demper op die vreugde is die feit dat my kinders in Dubai is. Hoe gereeld gaan ek my kleinkind sien?

“My kinders laat weet my toe twee maande voor die kleinding se geboorte dat hulle Kaap toe verhuis, en ons eindig almal daar. En hier begin my éintlike storie.

“’n Goeie vriendin in Dubai, Magda de Lange, het op ’n dag voorgestel dat Hester en haar dogter, Martine, jaarn moet kleur. Martine was ook vuur en vlam en hulle het 30 kg wol bestel en jaarn gekleur vir ’n sjaal wat Magda moes maak. Die helfte van die jaarn moes weggegooi word, omdat die kleur nie suksesvolwas nie, maar die ander helfte is gebruik. MoYa Yarn is so in die Kaap gebore.

Sonnige siersprei.

Sonnige siersprei.

“Vandag kleur en verskaf ons jaarn groothandel aan ’n klomp winkels in Suid-Afrika sowel as in die buiteland. Ek moes destyds noodgedwonge my hekelvaardighede, 40 jaar laas gebruik, uithaal en afstof. Twee, drie jaar lank het ek klein goedjies gehekel, maar getrou aan my aard wou ek self ontwerp ook. Dit is in my gene. My ouma aan moederskant was ʼn bekende modeontwerper in haar tyd en Mammie was briljant met baie goed. Sy kon met ’n koppie maalvleis tien mense se mae vul, en met twee meter lap die mooiste rokke maak. Ek het hier en daar ʼn bietjie talent van hulle geërf.

“Ek het nog nooit in my lewe ʼn kombers gehekel nie en besluit toe sommer om my eie een te ontwerp. Die ontwerp heet ‘Allegro’, wat ‘vreugde’ in Afrikaans en ‘joy’ in Engels is. Mammie se naam is Joyce en almal het haar Jollie genoem. Vir my is die naam ‘Allegro’ dus honderd persent gepas. Ek het nie’n gunstelingkleur nie – almal is vir my mooi! Ek gryp eenvoudig kleure wat ek instinktief weet by ’n sekere projek gaan pas. Vir hierdie een het ek warm, gelukkige kleure gebruik. Die gebruik van die helder kleure het my ’n bietjie uit my gemaksone geneem, maar dit het gewerk; ek het ’n goeie gevoel van vertroosting by die Allegro gekry.

“Met elke steek wat ek aan daardie kombers gehekel het, het ek aan Mammie gedink. Ek het ook baie gehuil, en baie glase wyn gedrink. Ek het vrede in my hart gekry. Ek kon rou oor my mammie en ek kon dit op my eie tyd doen. Ek was, en is, trots op die Allegro. Ek weet ook Mammie het gedurig van Bo af gekyk en geglimlag en ek kon ‘hoor’ en ‘voel’ hoe trots sy op my is. Was dit nie vir die hekel en jaarn nie, sou ek nie vrede en rustigheid gehad het nie. Dit is iets wat ons jare gelede gedeel het, en nou kon ek op my tyd, die regte tyd, oor haar weggaan rou.

“Ek verlang so baie, maar vandag, met elke steek, hoor ek steeds vir Mammie sê: ‘Dis so mooi, poppie.’”

[pdf-embedder url=”https://s3-eu-west-1.amazonaws.com/rak2.spens.co.za/maroelamedia/hekelpatroon-sonnige-siersprei.pdf”]

Laai die patroon af

Uittreksel uit die boek: Hekel en word heel
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R295,00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Zettie ·

Baie dankie vir die brokkie goeie nuus. Ek het dit nou so nodig gehad…….

Nita ·

As al die stories in die boek so aangrypend is gaan ek vanmiddag my kopie koop!!!
Pragtig, dankie vir die uittreksel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.