Boek-uittreksel: Helena Hugo se brief aan lesers

Hier volg ʼn uittreksel uit Onthou my deur Helena Hugo.

***

Toe Janine en Jessie teen halfses tuiskom, lyk die huis onheilspellend stil. Die gordyne is toegetrek en die honde nêrens te sien nie. Riekie hardloop vooruit en roep, maar nie een maak sy verskyning nie.

“In die huis by Jenny,” troos Janine. “Kom, ons gaan gee vir sussie haar swieties.”

“Siena het seker als toegemaak toe die son begin sak,” sê Jessie.

Hulle stap agterom, gaan by die kombuis in waar Siena se strykgoed oor die staanders hang. Die kombuis is silwerskoon. Nie ’n teken van Siena nie.

“Kyk seker TV.” Janine sit haar winkelsakke op die kombuistafel neer. Uncle Abie het vis en tjips ingepak. Al wat hulle nog vir aandete moet doen, is ’n slaaitjie aanmekaarslaan.

Jessie staan sommer in die gangdeur en skree. “Siena!” Sy hou haar kop skeef en luister. “Geen antwoord nie. Sit seker maar en slaap, goeie ou siel.”

“Dalk by Jenny in die kamer.” Janine haal die lekkers uit en gee dit vir Riekie. “Vir ná ete, nè? Sê vir sussie.”

Riekie knik vernaam. Sy hardloop vooruit.

Janine tel haar handsak op, stap niksvermoedend agterna, sien Jessie aan die bopunt van die gang, hande in die sye, duidelik die vieste in. Riekie staan teen Jenny se bed. Dis so deurmekaar, die komberse hang op die vloer.

“Weg,” sê Riekie.

Janine gee een tree nader. Lig die komberse. Nie ’n teken van die kind nie. Dalk onder die laken? Sy skrik toe Pink Panther uitval en gil beangs. “Jenny-by! Jenny! Kom uit! Waar kruip jy weg?”

Riekie is so oulik, sy kyk onder die bed. Janine soek agter die deur, in die kas, weer onder die bed, stamp in haar haas vir Riekie onderstebo. Sy gaan aan die huil. Janine gryp haar en druk haar teen haar vas. Dis hoe Jessie hulle kry.

“Janine!” roep sy geskok.

“Hy het haar, hy het haar.”

“Wie?”

“Greg! Hy’t gesê hy kom haar haal.”

Jessie gaan sit op haar knieë. “Gee Riekie vir my.”

Maar Janine klou vas. “Nee.”

Riekie se gesnik verander in ’n gehyg.

“Jy ontstel haar. Toe, jy maak haar benoud.” Jessie klink merkwaardig kalm en skielik is sy kwaad. “Janine, as jy haar nie nou vir my gee nie, klap ek jou.”

Sy laat gaan, voel hoe haar arms leeg word, sien deur haar trane die voetjies lig.

Jessie sing, sy sus Riekie tot sy bedaar, laat sak haar stadig in die bababed, paai en troos. “Hier’s jou teddie, vat jou teddie, my skat. Doedoe, baba. Doedoe, Teddie. Tannie Jessie kom nou-nou weer, dan eet ons vissies en tjippies.”

Sy kom staan voor Janine, kyk af. “Miskien het Siena haar saamgeneem langsaan toe.”

“Is sy nie in die badkamer nie?”

“Nêrens, ek het die hele huis deurgeloop.” Jessie maak kussings bymekaar, prop dit agter Janine se rug in. “Die skok is nie goed vir jou nie. Bly jy net so, ek gaan bel.”

Janine sit soos iemand wat self in ’n kussing verander het. Sy leef, want daar knaag iets aan haar ingewande, dit pyn verskriklik.

In die gang sukkel Jessie met die foon. Sy praat lelik, sy vloek vreeslik. Toe loer sy om die deurkosyn. “Janine, werk jou selfoon?”

“Selfoon? Nee.”

“Ek hardloop gou langsaan toe, moenie roer nie.”

Janine val op haar sy. Die baba in haar rol saam met haar, om en om.

***

Janine lê lank voordat sy weer notisie neem van wat om haar aangaan. Dis oggend, kan sy sien aan die lig teen die muur waar die balletprent hang: vaal verbleik, haar balletprent. Iemand, dis aunty Anny, sit langs haar bed en brei.

“Aunty Anny?”

Sy laat sak haar breiwerk. “Lekker geslaap?”

“Ek het ’n nagmerrie gehad. Jenny is weg. Is dit Greg?”

“Ja, dis hy.”

“Hy sal haar Londen toe vat.”

“Nee, hy’s nie landuit nie. Die polisie is op sy spoor. Nou enige dag, dan kry hulle hom.”

“Hoekom is ek so moeg?”

“Dis van skok. Dokter Joubert het jou ’n ligte kalmeermiddel ingespuit. Ons was bekommerd oor die baba, dat jy te vroeg begin kraam.”

“Wat brei Aunty?”

Sy hou dit op, wit en kanterig. “ ’n Bababaadjie. Die winter gaan koud wees.”

“Dis baie mooi. Ek probeer, maar ek kon nog nooit brei nie.”

“Dit gee my die plesier.”

“Dankie, Aunty. Dis amper tyd, miskien oor drie weke.”

“As Greg Walker maar weet hoe bevoorreg hy is met twee pragtige dogters en nog een op pad.”

“Jenny is siek. Hoekom vat hy ’n siek kind?”

“Ek glo nie hy dink wat hy doen nie. Maar jy moet jou nie bekommer nie. Hulle sal hom kry. Bennie soek ook, hy’s hier weg op sy motorfiets.”

“En die winkel, wie help agter die toonbank?”

“Patience.”

“Moet sy nie die tafels doen nie?”

“Dis winter, mense sit nie graag wintertyd op die stoep nie. Patience is byderhand, indien nodig.”

“Ons kan haar bevorder. ’n Nuwe een oplei vir die tafels. Hier is oulike kinders met matriek wat werk soek, meisies en seuns.”

Aunty Anny glimlag. “Jy dink al nes Bennie oor die besigheid. Wil jy bietjie opstaan, badkamer toe gaan of so?”

“O ja, ek voel baie beter.”

Aunty Anny maak tee, haal vars skons uit die oond. Hulle sit by die kombuistafel en eet.

“Die wonderdrankie,” sê Janine toe sy haar tee omroer.

“Waar is Riekie?”

“By Tienke, dis haar beurt.”

“So, alles gaan aan soos voorheen?”

“Ons moet positief bly.”

“Waar is Kolle en Snoepie?”

“Buite. Greg het hulle die straat ingejaag, toe loop hulle die dorp vol. Maar hulle is nou terug, oom Jasper se honde ook.”

“Siena was hier, hoekom het sy hom nie gekeer nie?”

“Sy kon niks teen hom doen nie.”

“Ek ook nie.”

Aunty Anny kry trane in haar oë. “Jy moet maar dat James Mordant jou help om te skei.”

Janine knik, sy stem saam, dis die laaste strooi.

Daardie aand toe Riekie veilig in haar bedjie is en Riaan Cruywagen die nuus klaar gelees het, skakel Jessie die TV af en praat. Greg het kom aanklop, toe maak Siena oop en herken hom. Reguit soos sy is, spreek sy hom aan oor die messegoed wat hy gegaps het. Toe skree hy op haar en storm in op soek na Oupa, nugter weet waarom. Bennie reken hy het per ongeluk op Jenny afgekom. Siena is dadelik foon toe om te bel, maar sy kon nie deurkom nie.

“Bennie het vasgestel dat die koord uitgepluk is. Greg moes dit in die verbygaan gedoen het. Wys jou hoe werk sy kop. Siena draf toe na oom Jasper, ontsteld en met daai ongemaklike lyf van haar. Weet nie hoe haar hart dit gehou het nie.”

“Arme Siena.”

“Janine, hy was klaar daar, vir oom Jasper vasgebind en gesteel wat hy kon. Hy’t Jennie in sy kar geprop en Siena gaan inwag. Toe gryp hy haar en bind haar ook vas. Natuurlik kon hulle nie alarm maak nie en dit gee hom toe die kans om weg te kom.”

“Alles net om my te wys hy kan doen wat hy wil. Wonder watse stories vertel hy vir Jenny.”

“Ons weet ten minste hy sal haar nie seermaak nie.”

“Maar sy is siek, Jessie. En waar is hulle? Is daar enige leidraad?”

“Die speurders wat aangewys is, weet wat hulle doen.”

“Help niks as hulle nie my kind kan kry nie.”

“Janine, Lilian het vandag vir hulle ’n lys van sy vriende gegee. Dis ’n kwessie van tyd, dan het hulle hom.”

“Jy en Lilian praat met mekaar en jy sê my nou eers!”

“Ek wou jou nie vals hoop gee nie, maar jy is sterker as wat ek gedink het. Lilian reken dit frustreer Greg dat hy jou nie meer kan beheer nie. As kind het hy tantrums gegooi, dan kry hy sy sin. Jy het op jou regte begin staan.”

***

Boodskap aan lesers

Liewe leser

Soms onthou jy, soms vergeet jy. En as jy moet weggaan, tydelik of vir altyd, waarvoor sal jy graag onthou wil word?

Vir die onregte wat jy mense aangedoen het, of vir jou mooi geaardheid en jou onwankelbare geloof? Ek dra hierdie verhaal op aan ’n liewe vriendin wat ek nie kan of wil vergeet nie. Ek onthou ons gesprekke so goed, die boeke wat ons saam gelees het, ons kuiers tuis of in teetuine en gebakte roomkaaskoek, ons albei se gunsteling. Bo alles onthou ek haar geloof, die hoop wat sy gekoester het om eendag weer op te staan en te loop en dat sy ten spyte van haar pyn nog kon grappe maak en lag.

Ek hoop van harte dat ek ook eendag só onthou sal word. Want in hierdie lewe is die teenoorgestelde te dikwels die norm. In Onthou my word Janine verbygesteek en uitgeskuif deur haar beste vriendin, nie wat geestelike groei betref nie, maar oor geld, status en mag wat getuig van wêreldse sukses. In skaamte moet sy erken dat nie almal haar veroordeel nie, dat diegene van wie sy dit die minste verwag het, haar heelhartig vergewe het en steeds liefhet. Al wat sy moet doen is oorgee en aanvaar dat God die beste vir haar uitgesoek het.

Miskien lyk hierdie verhaal vir jou na ’n gewone liefdesverhaal, na Janine en Bennie se storie. Ek wil jou aanmoedig om dit ook te lees as God se liefdesverhaal, sy liefde vir jou ongeag hoe jy elke dag voel en wat jy van die lewe begeer.

Só weet ek, het God my ook lief en kan ek nie anders as om in dankbaarheid te leef nie. Dankie vir ons land en sy mense wat ek in my verbeelding kan besoek.

Vir jou, my liewe leser, ’n groot dankie dat jy die pad met my saamstap.

Liefde

Helena

Oor die skrywer

Helena Hugo het haar loopbaan as aktrise begin, maar skryf en vertaal deesdae voltyds. Benewens talle boeiende verhale oor verskillende genres heen, is sy ook regisseur en skrywer van radiodramas en -vervolgverhale. Luisteraars sal haar veral vir Blinkwater en Mooi mense onthou. Sy het ook al drie keer die eerste plek in die Sanlam/RSG-skryfkompetisie gewen en haar drama Swane is met ‘n ATKV-Woordveertjie bekroon. Helena en haar man, Henk, woon in Roodepoort en het drie volwasse kinders.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Prys: R220,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae