Boek-uittreksel: Help! My kind is anders!

Hier volg  ʼn uittreksel uit die boek Help! My kind is anders! deur Christien Neser.

Waarom is soveel kinders in terapie? 

“Hoekom is elke tweede kind in die een of ander vorm van terapie? Is dit regtig noodsaaklik, of is dit voorstedelike neurose?”

My vriendin Marlene is ’n oudonderwyseres en ouma van drie. Sy kén kinders. Haar vraag hierbo het ’n boek tot gevolg gehad, die een wat jy nou in jou hand vashou.

Die kwessie het opgeduik terwyl Marlene my vertel het van haar kleindogter se verjaarsdagpartytjie. “Sy is nou vyf en in ’n oulike kleuterskool. My dogter het die hele klas én hul mammas genooi. Totale chaos, soos jy kan dink, want boeties en sussies het ook saamgekom.”

Dit het Marlene opgeval dat die klomp jong ma’s omtrent net oor hul kinders se terapieë kon praat. “Spraakterapie, arbeidsterapie, perdryterapie, spelterapie, fisioterapie, psigoterapie, oogterapie. Vyfjariges in terapie? Dit was beslis nie dertig, veertig jaar gelede só nie. Wat het in dertig jaar verander? Het kinders meer probleme ontwikkel, of is ouers vandag meer neuroties? Is terapie noodsaaklik of is dit ’n modeneiging? Is terapie broodnodig of net ’n buitemuurse aktiwiteit soos karate of kuns? Help terapie regtig of is dit ’n geldmaakstorie? Wat gaan aan?”

Ons het lank oor hierdie vrae gesels. Daar kan baie redes wees hoekom soveel meer kinders nou terapie ontvang. Kom ons praat daaroor.

***

Superbesige ouers

Besige ouers delegeer makliker die taak van hulpverlening na ’n terapeut toe. Dié ouers het ook minder tyd om een-tot-een-aandag aan hul kinders te gee, wat ’n rede kan wees waarom taalstimulasie afgeskeep word. Met minder tyd, is dit logies dat daar minder verbale kommunikasie tussen ouer en kind sal wees. Sorggewers wat die kinders oppas, is nie altyd die beste rolmodelle vir taalontwikkeling nie. Sorggewers is ook nie noodwendig ingestel om ’n kind se vrye spel te maksimaliseer nie. Deur spel ontwikkel kinders fyn- en grootmotoriek, balans, koördinasie en verbeter hulle spiertonus. Dit gebeur nie as die kleuters ure lank voor ʼn skerm neergesit word nie.

Buiten dat ouers net te besig is om met hul kinders te speel, is die veiligheidsituasie en die kleiner ruimtes waarbinne kinders grootword, ook faktore. Dertig jaar gelede het kinders met fietse in die strate rondgery, sonder toesig by maats gaan speel en self skool toe geloop. Alles het intussen verander. Kinders is in groot mate slagoffers van hul ouers se pogings om hulle veilig te hou, ingehok agter veiligheidsmure of in die huis. Arbeidsterapie en fisioterapie moet dikwels die gebrek aan genoeg spel ondervang. Waar dit vir ’n gesin finansieel moontlik is, bied terapie dus ’n oplossing. Maar hou in gedagte: Terapeute is dit eens dat daardie een uur se terapie by die huis opgevolg moet word met die voorgeskrewe tuisprogram.

Die kanse dat ten minste ’n handvol ma’s by die partytjie superbesig is, in woonstelle of veiligheidskomplekse met klein tuine woon of bloot nie beskikbaar is vir hul kinders se spesiale ontwikkelingsbehoeftes nie, is groot. Terapie is waarskynlik ’n doodnormale deel van hul kinders se program. My vriendin moes toegee: Dertig jaar gelede het sy en haar vriendinne halfdag gewerk, sodat hulle middae tuis kon wees. Tuine was groot en kinders het bome gehad om te klim, fietse om te ry, modder om in te speel en uitgebreide familiestrukture wat ondersteuning gegee het. Dis luukses wat baie gesinne vandag nie het nie.

Die oorheersing van skerms in kinders se lewens

Navorsing dui daarop dat te veel skermtyd kinders nadelig beïnvloed. Van die mees ooglopende probleme is dat kinders se postuur daaronder ly, luistervaardighede verswak en dat die oogspiere aangetas word. Wanneer kinders patologies aan hul skerms verknog raak, is daar gewoonlik ’n ander onderliggende probleem, soos lae spiertonus, sensoriese-integrasieprobleme of aandagafleibaarheid. Vir ’n kind met lae spiertonus is ’n rekenaarspeletjie baie lekkerder as om buite te speel, bloot omdat dit die weg van die minste weerstand is. Kinders met aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) floreer ook op die visuele impak en die vinnige motoriese reaksies wat ’n rekenaarspeletjie vereis. Die linkerbrein word volledig gestimuleer en kinders kan ure lank só besig bly. Ongelukkig word die regterbrein afgeskeep, waar onder meer empatie en ouditiewe aandag gesetel is. Is dit ’n wonder dat boetie glad nie reageer as iemand met hom praat terwyl hy speel nie? En dat hy ontsettend geïrriteerd raak as sy speletjie onderbreek word? Dis nie nodig om alarmisties te raak nie, maar balans in enige aktiwiteit is belangrik. Een van die beste maniere om die balans te herstel, is om jou kleuter te kry om die speletjie aan jou te verduidelik. ’n Kleuter het ’n geweldige groot woordeskat nodig om al die strategieë en spelreëls vir ’n dom ma verstaanbaar te maak. Buiten dat die kleuter se taalformulering verbeter, verstaan die ouer dan ook die geheime wêreld van haar kind se speletjies soveel beter. Dis ’n wen-wen-situasie.

Wat die voorskoolse kind betref, stel die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne slegs ’n uur se sit- en skermtyd per dag voor, met ten minste 180 minute se fisieke aktiwiteit as teenwig.

Die kanse dat elkeen van die mammas op die partytjie ’n slimfoon of ’n tablet met speletjies in haar handsak het, is uitstekend. Die kanse dat sy ’n digitale skerm in haar kleuter se hande sal sit die oomblik as sy hom in sy stoeltjie vasgegespe het vir die rit huis toe, is net so goed. Skerms is deel van die kinders se lewe, die stoeltjies waarin hulle agterin motors rondry, ook. En hoewel die stoeltjies wetlik verpligtend, noodsaaklik en lewensbelangrik is, kan hulle ook ’n potensiële probleem word. Dis ’n bron van kommer vir fisioterapeute en arbeidsterapeute wat voel dat die kinders se postuur en spiertonus aangetas word as hulle ure en ure per dag in motorstoeltjies deurbring. Dis veral jong babas wat hopeloos te veel in stoeltjies sit en te min op ’n kombers lê en speel as deel van sogenaamde magietyd of tummy time (lees meer in hoofstuk 9). Die WGO se riglyne dat ’n baba onder ’n jaar nie langer as ’n uur in ʼn sittende posisie moet bly nie, is vir baie Suid-Afrikaanse ouers net nie haalbaar nie. Pendelende ouers bestee maklik tot drie uur per dag met babas en kleuters in motorstoeltjies vasgemaak.

Laat ons volstaan met die veronderstelling dat lang ure in motorstoeltjies plus lang ure se skermtyd ’n waarborg is dat terapeute in die afsienbare toekoms werk sal hê. Die waarskynlikheid is groot dat die kleuters op die partytjie ook produkte van die motorstoeltjie-en-skermverskynsel is.

Allergieë en onverdraagsaamhede

My vriendin het so terloops ook genoem dat die fiemies van die kinders haar verstom het. Die een mag nie melk inkry nie, die ander nie gluten nie, die helfte nie suiker nie. Is dit regtig net fiemies? Waar kom al die loopneuse skielik vandaan? Wat is die storie met allergieë?

Boonstelugweginfeksies is in baie gevalle die gevolg van allergiese reaksies. Lugbesoedeling, stuifmeel, melk (laktose), koring (gluten) en ’n magdom ander allergene kan inflammasie veroorsaak wat oorgaan in sinusitis, neusslymvliesontsteking, faringitis en middeloorontsteking. Hierdie kinders word dikwels oopmond-asemhalers. Met chroniese middeloorontsteking is daar boonop tydperke van gehoorverlies. Herhaalde episodes kan funksionele en soms selfs organiese skade veroorsaak en kan tot permanente gehoorverlies lei (sien hoofstuk 4). Spraak- en taalontwikkeling ly ook hieronder. Met ’n toename in allergieë kan ’n mens aanvaar dat die voorkoms van boonstelugweginfeksies ook sal verhoog. Statistieke uit die VSA dui op ’n 500%-toename in mediese eise wat aan voedselallergieë verwant is (2007-2017). Onderwysers in preprimêre klasse gee dikwels te kenne dat die kinders wat oopmond-asemhalers is, juis die kinders is wat sukkel met luisteroefeninge.

Oopmond-asemhalers is geneig om met ’n oop mondjie te sit en luister. Hierdie kinders het gewoonlik ’n chroniese toe neus. Maar ’n oop mondjie kan ook aanduidend wees van lae spiertonus. As ’n algemene reël moet ’n oopmond-asemhalertjie deur ’n mediese praktisyn ondersoek word met die oog op verdere verwysing.

’n Kind wat vir die proteïen in melk allergies is, sal tipies boonstelugwegprobleme ontwikkel. Ander kan ’n veluitslag kry, selfs asemnood. As kinders net intolerant vir melk is, sal hulle spysverteringsimptome kry, soos opgeblasenheid, naarheid of krampe.

Die groot verskil tussen ’n voedselallergie en ’n voedselsensitiwiteit of -intoleransie is die liggaam se reaksie. As jy allergies is vir iets, kom jou liggaam se immuunstelsel in opstand. As jy sensitief is, kom jou spysvertering in opstand.

Allergieë kan nie ligtelik opgeneem word nie. ’n Kind wat byvoorbeeld vir grondboontjies allergies is, kan sterf van anafilaktiese skok. As die grondboontjies net ongemak sou veroorsaak het, sou dit as ’n intoleransie geklassifiseer kon word. Wat die allergiese reaksie op grondboontjies betref, is die saak só ernstig dat sommige skole grondboontjies in die skoolkosblik verbied, ook grondboontjiebotter, koekies of stafies wat die produk bevat. Dit is dan ook die een element wat op kinderpartytjies vermy moet word, want om die een of ander rede is grondbone ook geneig om hul pad na neusholtes, ore en lugpype te vind.

Dis hoogs waarskynlik dat ’n hele paar kinders op daardie partytjie allergiese reaksies het vir sekere stowwe en dat hulle met chroniese boonstelugwegprobleme sukkel. Die kanse is dus goed dat daar ook gepaardgaande ouditiewe perseptuele probleme, taalprobleme of selfs gehoorverlies by ’n paar van hulle kan voorkom. In hoofstuk 5 verduidelik ʼn oudioloog hoe die oudiogram van ’n kind met ’n middeloorinfeksie lyk en wat die uitwerking op die gehoorfunksie kan wees.

Allergieë kan ook ’n meer kommerwekkende oorsaak hê. Herhalende en skynbaar onverklaarbare allergiese toestande wat oorgaan in virale of bakteriële infeksies kan dui op ’n immuungebrek. Die oorsaak van die allergiese reaksie moet dus deur die beste span moontlik ondersoek word. ’n Ma mag vrae vra as sy onseker is. Sy móét trouens vrae vra totdat sy tevrede is met die antwoorde. Allergiese toestande kan nie net met ’n voorskrif afgemaak word nie. Die allergiese simptome moet ’n oorsaak hê. Dis harde werk en ’n mens voel soms neuroties, maar om die oorsaak te vind is soveel beter as om heeltyd simptomaties te behandel. Allergieë kan ook heenwys na ’n onderliggende sindroom of siektetoestand, soos wat talle ouers kan getuig.

In deel 3 kyk ons na die verhaal van ’n seuntjie wat deur skynbaar onverklaarbare veluitslae en boonstelugweginfeksies geteister is. Pediaters het allergieë die skuld gegee. Voedingsformules is sonder sukses verander. Ná amper twee jaar van dieetaanpassings, kortisoon, antibiotika en hospitalisering is vasgestel dat hy aan ’n kritieke immuniteitsgebrek ly, ’n kenmerk van die baie skaars genetiese sindroom wat intussen by hom gediagnoseer is.

***

Gesinne onder druk

Ouers is besig. Waar daar net een ouer is, is die lading dubbel so groot. Volgens preprimêre skole word enkelouergesinne al hoe meer, tradisionele gesinne al hoe minder. Statistieke Suid-Afrika het in ’n 2016-verslag bevind dat vier uit tien Suid-Afrikaanse huwelike nie die eerste tien jaar oorleef nie en dat slegs 33% van Suid-Afrikaanse kinders in ’n twee-ouer-gesin grootword. Die druk op enkelouergesinne, waar net een ouer die primêre versorger is, is ontsaglik hoog. Verlengde werkure beteken dat kinders gewoonlik in naskoolsorg bly tot so laat moontlik. As ’n mens reken dat die meeste kinders reeds teen 07:00 soggens by die skool is en selde voor 17:00 gaan haal word, is die kontaktyd tussen kind en ouer baie beperk. Dit verklaar dalk ook Statistieke Suid-Afrika se verslag van Mei 2019, wat aandui dat amper 50% van Suid-Afrikaanse kinders nog nooit ’n boek saam met ’n ouer gelees het nie.

Terapeute is dit eens dat die tekort aan kontaktyd tussen ouer en kind enige tuisprogram in die wiele ry. ’n Skotse studie in 2016 het bevind dat die gemiddelde gesin 34 minute per dag saam deurbring. ’n Amerikaanse studie wat in 2018 gepubliseer is en waarin 2 000 gesinne bestudeer is, sê dat die gemiddelde tyd wat Amerikaanse gesinne saam deurbring, net 37 minute is. As ons dink dat ’n moedertaal by die huis aangeleer word, dan is die kanse goed dat die stimulasie net te min gaan wees om werklik goeie taal aan te leer. Waar skooltaal en huistaal verskil, moet die ouer eenvoudig meer gereeld met die kind in sy moedertaal gesels, lees en speel, anders is die balans tussen die tale versteur. Die brein werk met patrone en met herhaling. Dit geld in besonder ook vir taalaanleer. Die patrone wat hy die meeste hoor, gaan hy die vinnigste aanleer. Dis ’n besondere uitdaging vir ’n oorwerkte enkelouer sonder ’n uitgebreide ondersteuningstelsel.

Die kanse dat ’n hele paar van die mammas op die partytjie ’n enkelouer is, is goed. Die kanse dat sy bloot nie genoeg tyd en aandag aan haar kind se probleme kan gee nie, impliseer dat sy waarskynlik ’n terapeut se hulp sal moet inroep om te help. Dit kan enigiets wees, van taalontwikkeling wat agtergeraak het tot aandagafleibaarheid, lae spiertonus, hakkel of enige van die temas waaroor ons verder in die boek gaan gesels.

Gesinne, enkel of volledig, kan natuurlik ook ander vorme van druk ervaar, wat ’n regstreekse invloed op die welstand van kinders kan hê. Finansiële en ekonomiese druk is een voorbeeld. Voeg hierby hoë vlakke van huwelikspanning, misdaad, ekonomiese onsekerheid en moontlike emigrasie. Nie net die kinders nie, maar ook die ouers het ondersteuning nodig. Terapeute kan as weerligafleiers optree, perspektief help herstel en negatiewe denkpatrone probeer verander. Hulle het ’n verlenging van baie ouers se ondersteuningstelsel geword, veral waar daar nie familie is wat as vangnet kan optree nie. En dit is goed so. Terapie is nie ’n teken dat jy as ouer misluk het nie. Inteendeel, dis dalk een van die grootste geskenke wat ’n ouer aan ’n kind kan gee.

Geen rede om skaam te voel

Kom ons keer terug na die kinderpartytjie, of selfs enige kinderpartytjie waar daar ’n klomp vyf- en sesjariges is. Onder die groep kinders wat op die gras speel, sal daar waarskynlik ’n paar wees wat arbeidsterapie ontvang om die korrekte pengreep aan te leer, daar sal dalk twee wees wat fisioterapie kry om hul lae spiertonus te verbeter en daar sal dalk een wees wat ’n spelterapeut sien omdat sy so angstig is. Daar sal dalk ook een wees met simptome van aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) en nog een oor wie se skoolgereedheid daar ʼn vraagteken hang. Vir elkeen van hierdie kinders is terapie ’n lewenslyn. Ons het ’n sosiale omgewing wat druk op kinders plaas en ’n skoolstelsel wat geweldig baie van hulle verwag.

Baie ouers is gelukkig genoeg om kleuters te hê wat loshande en sonder veel hulp deur hul voorskoolse jare draf. As jy egter ’n unieke kind het, een wat hulp gaan nodig hê om vir die uitdagings van graad 1 voorbereid te wees, is jy in goeie geselskap. Daar is geen rede om skaam te voel omdat jou kind terapie nodig het nie. Inteendeel!

Die woord terapie is afgelei van die Griekse woord therapeia, wat beteken om te genees of om te versorg. As terapeut kan ek self getuig van die vreugde wanneer die langtermynvoordele van dié genesing en versorging begin vrugte dra. Daar is vir ’n terapeut niks lekkerder as wanneer hul oudleerlinge die lewe aanpak en ’n sukses daarvan maak nie. Om ’n gradeplegtigheid by te woon van ’n kind wat jare lank by jou in terapie was, is een van daardie vreugdes. Om ’n hakkelaar te sien goud wen vir voordrag, om ’n kind met lae spiertonus die A-span te sien haal, om ’n dowe kind te sien wat sy eie sakeonderneming bestuur, maak alles die moeite werd.

Ouers wat ’n hele middag lank oor terapie kan gesels, het waarskynlik superspesiale kinders. ’n Superspesiale kind is ’n kind met ’n uitdaging, ’n andersoortige breinprofiel, ’n atipiese neurologie, ’n genetiese abnormaliteit, ’n agterstand of ’n eienaardigheid. Soms net geite, soms gering, soms ernstig en met lewenslange implikasies. Sonder terapeutiese leiding sal hierdie kinders nie tot hul volle potensiaal ontwikkel nie. En sonder die rugsteun van ’n terapeut of twee sal hierdie mammas ook nie hul moederskap kan laat blom nie.

Die komplekse aard van terapiebesluite laat ouers egter steeds met ’n magdom vrae:

  • Wat is “normaal”? Hoe sal ek weet as my kind se ontwikkeling nie op peil is nie?
  • Watter terapeut is die regte een om te spreek?
  • Wat as ek op die platteland woon en nie terapeute agter elke bos kan uitskop nie?
  • Is daar dinge wat ek self tuis kan doen om my kind se ontwikkeling aan te help?
  • Wat as ek nie finansieel sterk genoeg is om private terapie te kan bekostig nie?

Lees gerus verder. Met die hulp van kollegas met wie ek oor baie jare saamgewerk het, hoop ek dat ons jou vrae gaan beantwoord.

***

Oor die boek

Om ’n tipiese kleuter groot te maak is geen grap nie. Hoe dan gemaak as jou kind “anders” is? Wat as hy hiperaktief en aandagafleibaar is? Wat as jy vermoed sy’s op die outismespektrum? Hoe gemaak met lae spiertonus en ’n swak pengreep? Wat as hy ’n taalagterstand het, lispel of hakkel?

En sê nou sy het nie leerprobleme nie, maar sukkel met angs?

In Help! My kind is anders! beantwoord ’n span kundiges dié en vele ander vrae waarmee ouers vandag worstel. Is terapie werklik nodig? Waar begin ’n mens as jy dink daar is fout?

In 30 boeiende gevallestudies vertel ouers en terapeute saam hul ware verhale van deursettingsvermoë en hoop. Sielkundiges, spraakterapeute, oudioloë, arbeidsterapeute, fisioterapeute, spelterapeute en ander medici deel hul kennis, ervaring en geheime.

Help! My kind is anders! is ’n praktiese gids deur Christien Neser wat jou met ’n gereedskapkis toerus om van jou en jou kind ’n kampioenspan te maak!

Die uittreksels is goedgunstig deur Lapa Uitgewers verskaf.

Genre: Niefiksie
Uitgewer: Lapa Uitgewers
Prys: R238,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by Lapa Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.