Boek-uittreksel: Hykie Berg – My storie van hoop

Hykie Berg (Foto: Hykie Berg, Facebook)

ʼn Nuwe begin

My pa het besef dat ek rehab toe moes gaan. Vriende van my by wie ek gesteel het, het besluit om met my ouers kontak te maak. Hulle het vir my ouers gesê as ek nie rehab toe gaan nie, sal ek óf nie meer lank lewe nie óf permanent in die tronk beland.

Dit was 10 Junie 1999 en ek was 21 jaar oud. Dit was die eerste van ’n paar besoeke aan ’n rehabilitasiesentrum, maar dit was ook my heel eerste kennismaking met die Twaalf Stappe. Dis ook ongetwyfeld waar ek God vir die eerste keer ontmoet het.

My pa, wat in daai stadium in die Kaap gewoon het, het my laat weet hy gaan ’n vliegkaartjie vir my reël en ek moet afvlieg Kaap toe. Diep binne-in my was ek verlig. Ek het altyd geweet die enigste manier hoe ek ooit van heroïen verlos sal word, is as ek na ’n rehabilitasiesentrum toe gaan. Teen daai tyd het ek al alles onder die son probeer om myself van heroïen af te kry. Ek het enige opiaat in die hande probeer kry en gekyk of ek nie die een met die ander kan vervang nie om sodoende my daaglikse gebruik te verminder. Dit was alles tevergeefs. Ek het gevind dat metadoon ’n ruk lank gewerk het, maar ek kon dit nie beheer nie en het dit totaal misbruik. Ek het beide kodeïen en Physeptone op die proef gestel en selfs vir NAD- (nikotienamiedadeniendinukleotied-) vervangingsterapie by plaaslike klinieke gegaan – niks het gewerk nie. My manier het nie gewerk nie; ek moes iets anders probeer.

Die oggend voordat ek Kaap toe sou vlieg, het ek vinnig ’n laaste keer Hillbrow toe gery om 3 g heroïen te gaan kry. My vlug was eers die middag en ek sou die volgende dag rehab toe gaan. Ek was nie bereid om by my pa se huis te onttrek nie.

My pa het my by die Kaapstadse lughawe kom oplaai en nie veel gesê nie. Hy was wys om nie met my te baklei nie, want dan sou ek tien teen een maar net weer weggehardloop het. Hy was kalm en het my ’n drukkie gegee. Daai aand het hy my in een van die huis se kamers toegesluit en vir my ’n bottel metadoon gegee om te help met die cravings. Natuurlik het ek dit nie eintlik nodig gehad nie, want ek het nog heroïen by my gehad. Tog het ek dieselfde aand nog al die heroïen en die metadoon opgebruik. Ek was bang en rusteloos, en ek kon nie regtig slaap nie. Ek het nie geweet wat op my wag nie.

Weer het ek my afgevra: Hoe het ek ooit hier beland? Ek was 21 jaar oud en het maar 78 kg geweeg. Ek was moeg en woedend … kwaad vir die wêreld, kwaad vir my vriende, kwaad vir my familie, kwaad vir hoe ek grootgeword het, kwaad vir alles! Ek was leeg. Ek was deurmekaar en op moedverloor se drempel.

Die rehabilitasiesentrum was in Kommetjie. Hulle volg die bekende Minnesota-model en het hoogs opgeleide personeellede wat heeltemal in staat was om iemand soos ek te hanteer. Ons het vroeg die volgende oggend soontoe vertrek om my daar te gaan aflaai. Ek het ingestap en ’n suster het my vriendelik verwelkom. Sy was liefdevol en het my ’n stewige drukkie gegee. Sy het my sakke deursoek om te kyk of ek niks ingesmokkel het nie en my toe opgestuur met die trap. “Gaan vat gou ’n stort,” het sy gesê nadat sy my goed deursoek het. Sy het vir my gewys waar my kamer is en vir my gesê dat ek rustig moet raak. Ek gaan toe my kamer binne en voel dadelik hoe ’n gevoel van verligting oor my spoel. Dit was werklik ’n plek van genesing.

Teen die muur van die kamer was daar ’n groot spieël. Ek trek toe my skoene en klere uit, en gaan staan kaal voor die spieël. Terwyl ek myself op en af in die spieël bekyk, besef ek iets lyk net nie vir my reg nie. Dit het gelyk of daar bewegende skaduwees tussen die spieël en my eie spieëlbeeld beweeg.

Ek was toe nog lekker hoog, maar iets van daai spieël het my gepla. Toe ek nader gaan om ondersoek in te stel, sien ek dis ’n eenrigtingspieël.

Al die susters sit toe aan die ander kant en lag hul alies af vir my. Ek het my doodgeskrik en hulle gevloek dat die see hulle nie kon afwas nie. Daar was reeds niks van my selfbeeld oor nie, maar ná die voorval voor die susters was daar nie eens hoop op ’n bietjie integriteit nie. Vandag kan ek my doodlag daaroor. Hulle het daardie kamer die fishbowl genoem. Dis waar pasiënte met erge onttrekking slaap sodat die susters en die personeel hulle kan dophou en monitor. Hulle het my metadoon gegee om te help met die onttrekking, maar enige heroïenverslaafde sal vir jou kan sê: Wanneer dit vir jou op ’n beheerde wyse gegee word sodat die dosis elke dag verminder word, bly die onttrekking maar steeds rof. Al wat die metadoon doen, is om die ergste te verlig.

Die onttrekking was pleinweg hel. Die depressie is iets om van te skree. Alles is donker en negatief. Daar is niks goeds aan nie. ’n Vakuum van donkerte sluk elke greintjie lewe in.

Dit voel of jy in ’n ewige draaikolk van wanhoop vasgekeer is. My liggaam was in ’n toestand. Ek het letterlik die bloed in my are voel vloei. Elke spier en gewrig in jou liggaam pyn, jy is seer en onbeskryflik ongemaklik in jou eie lyf. Jou sintuiglike waarneming word so aangetas; dit maak nie saak of jy nou sit of staan, lê of spring of op die vloer neerval nie, niks maar niks bring verligting nie.

Ek het natuurlik in daai stadium gedink niemand het dit erger as ek nie. Tot my verligting ontmoet ek toe ander verslaafdes wat nes ek is en met wie dit selfs slegter gegaan het. Dit het my hoop gegee. Ek was nie die enigste persoon wat met hierdie probleme geworstel het nie. Die hele rehabilitasieproses was bitter ver verwyder van my gemaksone, maar dit het my nader gebring aan iets wat ek nooit tevore kon droom of dink moontlik sou wees nie: ’n kans op ’n nuwe lewe, ’n nuwe begin.

Ek was nie aldag die maklikste pasiënt nie. Ek het vloermoere gegooi, gehuil en op almal geskree. Al emosies wat ek geken het, was woede en vrees. Ek het uit woede die telefone uit die mure gepluk en die kamers se deure afgeskop. Die verpleegpersoneel was ongelooflik, selfs al moes hulle my bed in die middel van die nag kom skoonmaak omdat ek nie my eie liggaamsfunksies kon beheer nie.

Die onbeheerbare diarree was vernederend. Vrees, woede en angs het my deurspoel. Dit was moeilik om my emosies te hanteer. Dit was net te skrikwekkend. Dis nie maklik om die donkerte binne jou in die oë te kyk nie. Jy weet nooit wat jy gaan vind nie. Dis ’n stryd van gees en vlees; niemand hou daarvan om hul skadukant aan die lig bloot te stel nie. Dit laat jou magteloos, weerloos en swak voel. Dis werklik verskriklik om deur daardie hel te gaan.

Verslaafdes het egter nie ’n ander keuse nie – óf ons doen wat gedoen moet word om skoon te kom, óf ons eindig in die graf. Dis so eenvoudig soos dit.

’n Verhouding met ’n liefdevolle God, ’n God in wie ek nooit geglo het nie, was ’n moeilike taak. Vertroue was ’n groot probleem en dit was ’n groot uitdaging om al my tekortkominge te laat vaar en aan my karakter te begin werk. Elke oomblik van die dag het ek vir moed en krag gebid. Ek het nie geweet tot wie of wat ek bid nie, maar ek het gebid. Die idee om reg te maak met die mense wat ek seergemaak het, het my bang gemaak. Dit was ’n verskriklike skoonmaakproses.

My sponsor, ’n baie wyse en sagmoedige man, het my aanhou herinner dat die taak wat vir my voorlê nooit groter kan wees as die Krag agter my nie. Ek moes net glo. Dit het my gehelp om belangrike lewenslesse te leer: Ek het geleer wat dit beteken om nederig te wees, hoe belangrik dit is om ’n eerlike en skuldlose lewe te lei, en ek het geleer oor verantwoordelikheid, respek en grense. Hierdie proses het nie oornag gebeur nie. Hierdie lesse sal ek my hele lewe lank moet toepas.

Een aand, net nadat ons op die rehabilitasiesentrum se stoep gerook het, het ek televisie gaan kyk. Dit was die Oscar-toekennings wat gebeeldsaai is. Of dit ’n regstreekse program of ’n heruitsending was, kan ek nie onthou nie.

Nietemin, terwyl ek na die program gekyk het, ervaar ek een van die mees lewensveranderende gebeurtenis van my lewe. Dit was amper asof ’n vinger uit die hemel na my toe wys en sê: “Dit is wat jy moet gaan doen!”

Niks was nog ooit vir my so duidelik soos op daardie oomblik nie. Dit was vir seker bonatuurlik gewees; dit was nie sommer net iets wat ek self uitgedink het nie. “Dit is dít! Dit kan net van U af wees!” het ek geskree. Ek kon nie glo wat gebeur het nie. Dit was of my hele bestaan op aarde nie werklik saak gemaak het tot op daardie punt nie. Vir die eerste keer in my lewe het ek geweet wat ek met my lewe wou doen. Ek wil ’n akteur word. En ek wil ’n Oscar wen.

Lees ‘n onderhoud met Hykie Berg oor sy boek op Maroela Media.
Klik hier vir meer inligting oor die boek.

Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R180-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke vir slegs R144-00

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Respek ·

Sjoe, Hykie. Ek haal my hoed vir jou af. Ek het groot respek vir ‘n persoon wat kan omdraai van verslawing en ‘n nuwe storieboek van haar/sy lewe van sukses en positiwiteit kan skryf. Die verlede agter jou sit en vorentoe kyk met jou oë op Hom gerig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.