Boek-uittreksel: Israel-reeks 11 – ‘Hooglied’

Hier volg ʼn uittreksel uit die boek Israel-reeks 11: Hooglied deur Marzanne Leroux-Van der Boon.

***

Toe hulle Jerusalem binnekom, kry Re’uven die boodskap dat die helikopter veilig geland het en dat Rivkah reeds in die teater is. Dani’el ook.

Marc luister hoe kalm hy dié nuus aan sy ouers oordra wat by die Kriges se huis is. Omdat Re’uven nie sy oorfoon gebruik nie, hoor hy Chaim sê dat hulle die nuus so goed moontlik met die kinders gedeel het en dat hulle rustig is. Omdat die televisie-nuus vol is van die voorval, hou hulle dit nog van die kinders weg. Hy vra hoe dit met Marc gaan.

“Marc is by my in die motor, Abba. Ons is op pad Hadassah toe. Julle moet bid.”

“Julle kan verseker wees dat ons dit doen; ons en baie ander wat nou bewus is van wat gebeur het.”

Dan praat Re’uven ook nog vlugtig met Shlomit om haar op hoogte te hou. Hy hoor die verandering in sy swaer se stemtoon as hy na Amir vra. Hy dink oor die uitwerking van die nuus op sy drie kinders en hy bid hulpeloos vir genade.

By die Hadassah-hospitaal aangekom, is daar min anders wat Marc kan doen as om te wag en te bid. Re’uven het voorlopig verdwyn op ander dringende sake.

’n Emosionele suster het vir hom toebroodjies en tee gebring wat hy maar eet en drink om haar te plesier. Van die teater hoor hy nog niks. Vrees wurg sy asem en hy roep sonder woorde na die Ewige.

Hy gaan by die venster staan om oor die stad uit te kyk. Dit tref hom meteens hoeveel keer in die 17 jaar dat hy al ’n Israeli is, hy hier uit die Hadassah-hopitaal in sulke benoudheid oor die stad uitgekyk het wat God sy eie noem. Daar was die keer toe Rivkah in ’n terreuraanval beseer is, toe sy hul eerste baba verloor het, twee maal met Natan se breinoperasies, en toe weer met Chaya se moeilike geboorte, wat byna Rivkah se lewe gekos het.

Hy maak sy oë styf toe. “Abba,” kreun hy in sy hart, “wat doen ek verkeerd? Waar skiet ek te kort? Moet asseblief b’Shem Yeshua nie die een wat ek liefhet, wegneem nie. Ek pleit by U in die Naam van u Seun, wat sy lewe gegee het, en ter wille van u heilige Naam, om my te hoor.”

Toe hy voetstappe agter hom hoor, draai hy vervaard om. Maar dis nie die natgeswete, vermoeide dokter in teaterdrag wat hy verwag het nie. Daar staan ’n sigbaar verleë jong soldaat.”

“Adon Krige?”

Marc knik.

“Ek is Ilan Lazarus, majoor Cohen het my gestuur om u in te lig oor hoe ons Rivkah Krige en Dani’el ben Yosef uit die hande van die terroriste gekry het.”

“Todah, Ilan, dat jy gekom het.”

“Ek wens dat ons dit kon doen sonder dat sy geskiet is, maar dit was ’n uiters moeilike situasie.”

“Ek begryp. En ek weet ook dat dit nie Israel se beginsel is om aan die eise van terroriste toe te gee nie.”

Die soldaat gee ’n wrang laggie. “So is dit. Ek en Avner Rivkin is albei opgeleide snipers en het al sukses gehad met sulke soort omstandighede; dus is ons gevra om oor te neem. Maar ons was natuurlik nie alleen in die span wat alles beplan het nie. En daar was die tydfaktor.”

Marc knik en probeer diep asemhaal om die benoudheid in sy bors te verlig.

“Ons voordeel was dat daar redelik digte struike in die nabyheid was. ’n Klein deel wat nog nie deur die brandende ballonne daar afgebrand is nie. Baruch HaShem daarvoor.”

Marc se bene wil onder hom ingee en hy gaan sit. Ilan doen dieselfde.

“Wat ons gedoen het, was om die twee mechabelim se aandag af te trek sodat ek en Avner ’n kans kon kry om naby genoeg te kom sonder dat hulle ons sien. Dus het ’n helikopter eers laag oor hulle gesirkel en toe binne hulle gesigsveld kom land. Dit het ons die kans gegee om tot vlak by hulle in die struike te kom sonder dat hulle ons gesien het.”

Hy blaas sy asem stadig deur sy saamgeperste lippe, duidelik getraumatiseer deur die ondervinding.

“Adon Krige, ek het nog nooit iemand so gefokus en beheers soos jou vrou gesien in sulke omstandighede nie. Met ’n pistool in haar rug en ’n Uzi op haar gemik, het sy nie geval vir die scam van die helikopter nie. Sy alleen het ons in die struike gewaar en geen aanduiding, behalwe ’n effense vernouing van haar oë, gegee nie. Maar ons het begryp sy sien ons en sy weet haar posisie het meteens nog gevaarliker geword.”

Marc se oë skiet vol trane en hy laat sy kop in sy hande sak. Dieselfde suster van vroeër kom aan met twee koppies koffie en die twee mans neem elk dankbaar ’n paar slukke daarvan.

“Nu, die helikopter-ouens het ’n hele performance opgesit. Kaptein Mandelbaum het voorgegee hulle het kom onderhandel. Hy het vlot Arabies met hulle gepraat en gemaak asof Israel desperaat genoeg is om die sogenaamde generaal Kabha vry te laat as hulle albei gyselaars sonder enige verdere beserings laat gaan. Maar hy het dit baie slim op so ’n manier gestel dat die kastige onderhandelinge lank genoeg geduur het vir ons om die twee teikens goed te bestudeer.”

“Wat van die een wat binne-in die ambulans was?”

“Hy was blootgestel in dié sin dat hy effens vorentoe geleun het om kaptein Mandelbaum te sien. Die een agter Rivkah het in daardie stadium met die kaptein gepraat. Toe skiet ons – albei gelyktydig en albei doodskote. Maar die een agter u vrou kon tóg nog sy pistool se sneller trek… ”

Hy aarsel en hervat: “Sy is ongelukkig deur haar rug en bors geskiet. Haar hart is rakelings gemis, verstaan ek, maar sy het baie bloed verloor. Hulle kon haar nie gestabiliseer kry voordat sy uitgevlieg is nie. Ek is jammer.”

Marc vat sy gesig in albei hande vas, klem sy vingers oor sy oë dat die kneukels wit uitslaan. Hy sit ’n rukkie so. Sy lyf ruk.

“Ek is jammer,” sê die soldaat nog ’n keer.

Geleidelik kry Marc beheer oor homself en laat sy hande sak.

“Julle het alles gedoen wat julle moontlik kon, Ilan. Sy het ten minste die hospitaal gehaal.”

“Wat vir ons die ergste is, is dat die twee mechabelim Israeliese burgerskap het…”

Marc skud sy kop. “Verskriklik.”

Ilan neem nog ’n rukkie om meer van die omstandighede te verduidelik, maar dit gaan grootliks by Marc verby. Re’uven kom weer binne. Die soldaat is onmiddellik op sy voete en salueer die majoor foutloos.

“Bevakasha, Ilan. Jy kan gaan. Jy en Avner het naweekpas, hoor.”

“Todah rabah, Majoor.”

Toe hy weg is, sê Marc: “Todah swaer, dat jy hom gestuur het. Dit was goed dat ek kon hoor hoe hulle ’n einde aan die gyselaarsdrama gemaak het. Maar hoe het hulle haar en Dani’el in die eerste plek in die hande gekry?”

“Ek het met Dani’el gepraat nadat hulle hom verder gestabiliseer het. Die pad na die wagpos is smal en nie geteer nie. Hulle het ’n dik boomstomp van een van die verbrande bome oor die pad gegooi. Dis slim gedoen, want dit het gelyk of dit daar geval het. Dit was inderdaad die boonste gedeelte van ’n uitgebrande boom wat blykbaar aanvanklik oor die pad geval het, maar die soldate daar het dit van die pad af gehaal. Dis inderwaarheid ’n boom en nie ’n stomp nie. Dié twee het beslis hulp gehad.”

“Rivkah-hulle kon nie daaroor ry nie?”

“Lo. Hulle het albei uitgeklim…”

“Lo!”

“Ken. Dit moes hulle nie gedoen het nie. Maar ek kan hulle frustrasie verstaan. Hulle was klaar laat…”

Hy bly ’n rukkie stil en skud sy kop.

“Hulle moes nie uitgeklim het nie. Hulle moes die pos geroep en gesê het wat die situasie was. Maar ja, hulle het ook geweet daar is net die een soldaat, ’n medic, wat die twee met die ernstige brandwonde versorg het en vir die ambulans gewag het. Die ander twee was uit op patrollie. En dit het werklik gelyk asof die boom gebrand en oor die pad geval het.”

“Hoekom het dit so laat geword voordat hulle vertrek het?”

“Hulle moes eers ’n ander ernstige ongeval na die naaste hospitaal bring. Dit was ’n kind wat lelik seergekry het toe missiele die vertrek waarin sy was, getref en laat instort het. Daar was nie plek vir drie agter in die ambulans nie.”

“Toe is Dani’el dadelik geskiet?”

“Ja, ek dink hulle wou hom buite aksie hê. Rivkah was ’n groter prys om vir die ‘generaal’ se bevryding te gebruik. Maar Dani’el was nie dood nie, hy het net gemaak asof hy dood is.”

“Hoe het julle geweet wat gebeur het?”

“Ons volg die ambulanse op radar en ons het na hulle geroep. Toe hulle nie antwoord nie, het ons dadelik hulp gestuur. Maar…” hy lig sy hande moedeloos, “dit was nie ’n maklike taak met daai twee wat Rivkah albei in hul mag gehad het nie. Daar moes fyn beplan word.”

Hulle is vir ’n ruk stil. Rondom hulle is die gewone hospitaalgeluide hoorbaar. Re’uven onderdruk ’n gaap. “Dit kan nou nie meer lank wees nie.”

Dis ook nie lank daarna nie dat die arts in die deur verskyn.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Genre: Fiksie
Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R240,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek en e-boek by NB-Uitgewers

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.