Boek-uittreksel: Knooppunte – Opstelle vir en oor Danie Goosen

Prof. Danie Goosen

Hier volg ʼn uittreksel uit die voorwoord van Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen. Dit is onder redaksie van Koos Malan, Johann Rossouw en Carel Boshoff saamgestel.  

Voorwoord

Met hierdie merkwaardige gedenkbundel word die leser die geleentheid gebied om met ’n verskeidenheid vooraanstaande gemeenskapsdenkers vanuit sowel die Afrikaanse wêreld as uit Europa en die VSA kennis te maak. Nieteenstaande die wyduiteenlopende aard van die bydraes bied hulle ooreenstemmende perspektiewe op die uitdagings waarvoor gemeenskappe vandag te staan gekom het. Met reg kan na dié bundel verwys word as een van die mees betekenisvolle ‘internasionale’ gedenkbundels wat in ’n lang tydperk deur ’n Afrikaanse uitgewer gepubliseer word.

In die agtergrond van die verskeidenheid stemme vanuit die hedendaagse gemeenskapsdenke staan die akademiese lewe en denke van Danie Goosen, die akademiese hoof van Akademia en emeritusprofessor verbonde aan Unisa. In vele opsigte kan die verskeidenheid stemme in hierdie gedenkbundel verstaan word as belangrike wegwysers van die intellektuele reis wat Goosen self tot dusver gevolg het. Die voorwoord tot hierdie gedenkbundel vertel iets meer oor die intellektuele reis wat Goosen onderneem het.

Goosen se lang intellektuele reis vertoon ’n sirkelagtige, meer bepaald elliptiese, gang. Sy reis het in die wêreld van die tradisionele begin. Daarna het hy in vele opsigte van die tradisie soos wat hy dit geken het afskeid geneem, om na jare as beleë intellektueel en met ’n veel grondiger begrip van die onuitputlike rykdom van ons Westerse tradisie daarheen terug te keer – en sy besondere bydrae daartoe te lewer.

Ooreenkomstig die elliptiese aard van die reis gaan die terugkeer na die tradisionele egter nie soos in ’n geslote sirkel met ’n blote herhaling van die aanvanklike tradisie gepaard nie. Nee, dit word eerder deur iets soos ’n nie-identiese herhaling van die tradisie gekenmerk, dit wil sê deur ’n herhaling waarin die tradisionele vertrekpunte nou op ’n andersoortige (verdiepte en onbevange) wyse aan die lig kom.

Ter wille daarvan om oor die sirkulêre reismotief ten grondslag van die denke te skryf, kan Goosen egter self aan die woord gestel word. In ’n ongepubliseerde artikel oor die sirkulêre aard van die intellektuele reis skryf hy onder meer die volgende.

***

Ook in die derde fase tree verskeie denkers as verwysingsbronne op. Hedendaagse denkers wat onder die vaandel van ressourcement (herontdek die bronne) vaar, asook denkers uit die ‘radikale ortodoksie’ van John Milbank oefen ’n beduidende invloed op Goosen uit om weer die gesag van die tradisie te ontdek. Hy beskryf dit as die terugreis na ’n “verdiepte sin vir die onuitputlike diepte van die tradisie”.

Ter sprake is uiteenlopende hedendaagse denkers soos Wendell Berry, Patrick Deneen, Alasdair MacIntyre, John Milbank, Eric D. Perl, Josef Pieper, Catherine Pickstock, R.R. Reno, Michael Sandel, David L. Schindler, D.C. Schindler, Ad Verbrugge en Graham Ward. Reno, Milbank, Verbrugge en Ward lewer dan ook almal essays in hierdie bundel, wat nie net tekenend is van hulle invloed op Goosen nie, maar ook op ’n wederkerigheid dui wat sy invloed op en verhouding met hulle illustreer. Bykans sonder uitsondering skryf elkeen van hierdie gerekende akademici oor aspekte van wat as ’n herontdekking van die tradisie beskryf kan word. ’n Tradisie wat waarskynlik op sy mees grandiose wyse deur Milbank as ’n ‘deelnemende ontologie’ beskryf word.

Laastens moet op ’n groot aantal skrywers en openbare figure onder Afrikaners gewys word wat as mededenkers en vriende van Goosen optree. Ons verwys hier met groot waardering na die Afrikaanse medeskrywers aan hierdie gedenkbundel: Elirea Bornman, Flip Buys, Wikus Buys, Amanda du Preez-Goosen, Pieter Duvenage, Hermann Giliomee, Dirk Hermann, Kobus Krüger, Danie Langner, Piet le Roux, Heinrich Matthee, Marinus Schoeman, Jaap Steyn en Alwyn Swanepoel.

Ondanks die wyduiteenlopende benaderinge wat hulle onderling volg, spits hierdie skrywers dikwels hul denke en dade toe op vrae wat ook ’n wesenlike rol in die denke van Goosen speel. Alhoewel dit onmoontlik is om hier ’n volle opgawe daarvan te gee, sluit dit vrae in oor die historiese wording van die Afrikaners as kultuurgemeenskap; vrae oor die simbole ten grondslag van die heersende politieke orde; vrae oor die begrip ‘tuiste’ vir Afrikaners en die toekoms van die multikulturalisme; vrae oor die republikeinse tradisie en die betekenis van die begrippe ‘gemeenskap’ en ‘globale indiwidualisme’; oor die alledaagse ervaring; oor die aard van die politieke hermeneutiek; oor die hedendaagse vrees (maar ook liefde) vir die eie; oor die wyse waarop ’n ‘ander’ tradisie oor gemeenskap dink; oor die rol wat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), waarvan Goosen reeds sestien jaar die voorsitter is, in die vorming van ’n gemeenskapsidentiteit gespeel het; oor die belangrikheid van tussen-instellings as antwoord op die sentralistiese en verswakkende staat; ’n beroep op die federatiewe tradisie en ’n klem op konstitusionele ordes wat in die gedagte van ’n gemeenskap van gemeenskappe eerder as in ’n kontrak tussen indiwidu en staat gegrond is; oor identiteit op die breuklyn tussen uiteenlopende kragte en tye; oor die eise waaraan demokratiese ordes vandag onderwerp word, en oor die wesenlike problematiek van toenemende eentaligheid (verengelsing) in ’n veeltalige land. Met enkele uitsonderings na kan die historiese oorspronge van die idees wat genoemde skrywers hanteer na bogenoemde tradisie teruggevoer word.

Danie Goosen is ’n besondere begaafde mens – ’n mens wat langs die intellektuele en persoonlike weg wat hy bewandel ook die sonderlinge gawe van die goeie oordeel by uitnemendheid geslyp het. Sy begaafdheid en sy afgeronde goeie oordeel het van Goosen ook ’n dankbare en gelowige mens gemaak.

As dankbare, begaafde mens is hy ook ’n mededeelsame mens – iemand wat mildelik die sonderlinge kennis, ervaring en insig wat hy op sy elliptiese reis opgedoen het, deel. Elkeen van die bydraes tot hierdie bundel en talle ander begunstigdes van hierdie mededeelsaamheid kan met genoegdoening hiervan getuig. Juis daarom is dit gepas en meer nog, ’n vreugde, om Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen die lig te laat sien.

***

Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen is aanlyn te koop by Die Winkel en by Protea Boekwinkel se hooftak in Pretoria. Die uittreksel is goedgunstig deur Akademia Uitgewery verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae