[Boek-uittreksel] Leeg

Argieffoto (Foto: StockSnap, Pixabay)

Miskrame en stilgeboortes is ʼn hartverskeurende werklikheid – een wat dikwels misken word. Leeg – God se troos na swangerskapverlies of miskraam is ʼn praktiese gids, saamgestel deur dr. Marlena du Toit, ds. Braam Klopper en past. Justine Pike. Dié boek is vir ma’s wat ná ʼn miskraam of stilgeboorte worstel met vrae soos: Waarom, Here? Het ek iets verkeerd gedoen?

In Deel 1 deel Du Toit, ‘n ginekoloog, die mediese feite rondom miskrame en stilgeboortes. Pike, ʼn pastoor, deel in Deel 2 haar eie verhaal aan die hand van die vraag: Is daar lewe ná ʼn miskraam? In Deel 3 gee Klopper, ‘n pastorale berader, leiding oor die rouproses, geloofsvrae en jou beeld van God ná so ʼn verlies. In Deel 4 deel drie vroue hul getuienisse – stories van geloof en hoop te midde van die seer. Leeg is vir elke vrou wat magteloos voel teen hierdie verlies. Die pad van rou en aanvaarding is geensins maklik nie, maar die kernboodskap van dié boek is eenvoudig: Te midde van dit alles ís daar hoop.

Oor die outeur:
Braam is ʼn gemeenteleraar by die NG Gemeente Kempton Park Oos vir die afgelope 30 jaar. Hy is ook ʼn pastorale terapeut wat spesialiseer in rouberading en alles wat te make het met die rouproses. Braam is ʼn aanbieder op Radio Kansel en tree gereeld op as spesialis op ander radiostasies en op televisie.

Marlena du Toit is ʼn ginekoloog en verloskundige in privaatpraktyk in Bellville Kaapstad. Sy het ʼn passie vir vrouegesondheid en is mal oor kinders. Sy is die mede-outeur van Bid vir jou ongebore baba.

Justine Pike is al ses jaar mede-leier en hoof van die Kinkerkerk by Die Bron-gemeente in Bellville, asook bestuurder en uitgewer van Pike Music. Na die verlies van een van hulle kinders het sy uit haar gebrokenheid ander families begin bedien wat dieselfde hartseer beleef deur haar getuienis te deel op radio en televisie.

__

Uittreksel:
Justine Pike, een van die skrywers van Leeg, wat self ook ʼn baba weens miskraam verloor het, gee raad na aanleiding van die vraag: Is daar lewe ná ʼn miskraam?

Ontvang troos

Een van die beste troosvolle herinneringe wat ek het, is die dag toe Isabelle haar gesiggie teen myne kom druk het terwyl ek op die vloer gesit en huil het. Sy het my trane afgedroog en haar kombersie, die enigste ding wat vir haar troos kon gee, vir my gegee. Die feit dat sy nie bang was vir my hartseer nie, maar haarself deel daarvan gemaak het deur by my te kom sit en my te troos op die enigste manier wat sy geken het, het vir my die wêreld beteken.

God het onlangs ook deur Livia met my gepraat. Sy was besig om in die huis te speel toe ek skielik ’n harde geluid hoor. Livia het verskriklik begin huil. Haar voete het onder haar uitgegly en sy het op haar rug geval en haar kop op die teëlvloer gekap. Terwyl ek haar op my skoot vasgehou het, het ek God met my hoor praat: “Moenie nou met haar praat nie. Hou haar net vas en laat haar toe om te huil.” My eerste instink was om te sê: “Dis oukei. Moenie huil nie. Laat ek dit beter soen. Kom ons bid dat die pyn sal weggaan. Jy is oukei.” Maar ek het haar net styf vasgehou.

Wanneer ons seerkry – en om ’n kind te verloor is sekerlik die grootste, diepste seer wat enige mens ooit kan ervaar – het ons dit nodig om al ons emosies en pyn te ervaar en die seer te erken. Die eerste stap in die rigting van ons genesing is dat mense ons net sal vashou en ons sal toelaat om te huil, sonder om ’n woord te sê.

Erken die pyn

Terwyl ek vir Livia vasgehou het, het ek ervaar dat ek vir haar moes sê: “Ek is so jammer dat jy seergekry het.” Deur haar trane heen het sy my geantwoord: “Dis nie jou skuld nie, Mamma.”

Dadelik het ek besef dit is die tweede stap. Ons het dit nodig dat mense ons pyn sal erken, nie dat hulle dit probeer wegpraat of weg verduidelik of sal maak of dit nie gebeur het nie. Om te hoor: “Ek is so jammer dat dit met jou gebeur het,” laat jou toe om te besef jy mág maar jou pyn so intens voel. Ons mág ons emosies ervaar. Wanneer iemand erken dat jy seergekry het, bring dit reeds geweldig baie troos.

Deur Livia se val het ek ervaar God sê vir my: “Ek is so jammer dat jou baba dood is en dat jy so seergekry het.” Vir die eerste keer in drie jaar kon ek my dogtertjie se voorbeeld volg en vir God sê ek blameer Hom nie vir my baba se dood en vir die pyn waardeur ek is nie. Ek wéét God is goed en alles wat Hy doen, is goed, soos die Skrif aan ons bevestig:

“U is goed en doen net wat goed is” – Psalm 119:68.

Jesus het vir sy dissipels gesê: “Want die Seun van die mens het nie gekom om die mense se lewe te verderf nie, maar te red” – Lukas 9:56.

“Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” – Johannes 10:9-11.

Argieffoto (Foto: ErikaWittlieb, Pixabay)

Laat toe dat jy bedien word

Ná haar val het ek vir Livia gevra: “Kan ek vir jou kop bid?” Sy het ingestem. Terwyl ek vir haar gebid het, het ek gesien hoe ons eenjarige dogtertjie ook haar handjie op haar sussie se kop kom sit en vir haar “bid”.

Net so het ons bediening en genesing nodig. Ons moet toelaat dat God en mense ons bedien sodat ons emosionele en liggaamlike genesing kan ervaar.

Staan op

Toe ons klaar gebid het, het Livia opgespring en verder gaan speel. Terwyl ek vir haar gekyk het, het ek besef: Ek kan ook weer opstaan en gaan “speel”, gaan leef. Die seerkry en hartseer om ’n kind te verloor is so oorheersend en oorweldigend dat ons liewer in ’n bondeltjie op die vloer wil bly lê. Maar daar kom ’n tyd dat dit belangrik is om op te staan en die wil te hê om aan te gaan met jou lewe.

Ek wéét my dogtertjie in die hemel wil nie hê ek moet my lewe lank ellendig en depressief voel nie. Dan sal ek nie ’n goeie mamma vir haar wees nie. Om ’n vol en vreugdevolle lewe mét my littekens te leef en ʼn goeie vrou vir my man en ʼn goeie mamma vir my dogters hier op aarde te wees, beteken ek sal ook vir haar ’n goeie mamma wees. Sy het nie op die oomblik enige behoefte waarin ek kan voorsien nie. Sy is in God se teenwoordigheid waar sy alles ontvang wat sy nodig het. Om haar lewe te vier, moet ek my lewe met oorgawe leef, tot die dag dat ek haar weer sien.

Om ʼn kind te verloor is nie iets waaroor jy sommer kom nie. Jy kan nie onmiddellik met jou lewe aangaan nie. Dit kos tyd. Heling kom egter vinniger wanneer jy jouself toelaat om elke emosie te voel en te deurleef. Om dag ná dag, uur vir uur, minuut ná minuut daarmee te stoei.

Ek ken nie jou storie nie, maar ek hoop jy kan vir jou iets positief uit my ervaring neem. Ek stap steeds op hierdie pad; daar is steeds onverwagte dinge wat my emosies trigger. Dan huil ek, praat met God, met my man, my ma en mense wat ek kan vertrou en stap verder vorentoe.

Terwyl ek my hart nou hier so op papier neergesit het, is ek oorweldig deur God se liefde vir my. Om te kan sien hoe Hy my gedra het, hoe baie moeite Hy gedoen het om ekstra spesiale aandag aan my te gee, en hoe Hy elke keer presies geweet het wat ek nodig gehad het en dit op die regte tyd vir my kom gee het, is so vertroostend.

Ek huil al weer my oë bloedrooi vandag, maar hierdie keer oor die oorweldigende liefde wat ek vir God ervaar en oor die dankbaarheid teenoor Hom omdat Hy my lewe gered het. Ten spyte van my twyfel, my onsekerheid en my probeerslae om Hom van my af weg te stoot, het sy onvoorwaardelike liefde vir my nooit verander nie. Ek is hartseer dat ek myself nie vroeër aan God oorgegee het nie, maar ek besef nou die pad wat ek gestap het, was nodig sodat ek kon uitkom waar ek vandag is. My liefde vir my God en my geloof in Hom het die verlies van my kind oorskadu, nie andersom nie.

Ek bid dat jy God se genesing, hoop en vrede sal ervaar namate Hy jou hart herstel en dat Hy dit op sy bonatuurlike manier vir jou – ’n ma wat haar kind verloor het – sal moontlik maak om weer te lag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae