Boek-uittreksel: Lees ‘Absoluut Einstein’ deur Christien Neser

Hier volg hoofstuk een van Absoluut Einstein deur Christien Neser.

“Vrekkit! Kan oom Joof nie sy voet op die petrol sit nie? Net die gedagte aan Paap gaan my ’n aar laat bars.” Dylicia voel asof ’n horde rysmiere haar van binne af vreet. Die neus van haar regterskoen is al nerfaf teen die randsteen geskop. Sy weet dit help absoluut niks nie, maar sy kan nou spykers hoes van haas. Die bus is al sewentien minute laat. Parkrand Hoërskool se uithangbord by Busstop 4, die laaste een op die roete, hang aan net een geroeste skakel bo haar kop. Sou Paap weet hoe toiingrig dit lyk noudat die skool se naam so windskeef hang?

Hoog tyd dat iemand iets daaraan doen.

“Iemand?” hoor sy Paap se stem. Dis nou meneer Papenfus. Oepsie, doktor Papenfus. Die geraamde sertifikaat hang blinknuut in sy kantoor, en hy laat mens dit nie sommer vergeet nie. “Iemand en Almal en Hulle. Die universele sondebokke. Húlle het dit vergeet, álmal doen dit of dat. Nee, mense. Jy is tot die Verteenwoordigende Leerlingraad verkies en dit impliseer dat jy nou iémand is.”

Oe a ê-ê. Sug. Sal sy nou wraggies die een word wat met ’n tang en ’n rol draad elke slap naambord gaan regruk?

Nie sommer nie, want sy is uitgesonder deur sy edele die adjunkhoof vir ’n spesiale projek: die nuwe seun wat vandag by Parkrand begin. Paap sê hy neem Kuns en

Robotika soos sy en dis haar plig, nee, haar projek, om hom te help inskakel.

Sy kon ’n wawiel doen van blydskap. Dis stukke beter as kleedkamerdissipline.

Dylicia kyk op haar horlosie. Dis nie meer snaaks nie, oom Joof!

Sy verskuif die draband van haar portfolio met sketse na haar linkerskouer, want sy was van plan om gou by die kunsklas verby te gaan op pad na Paap se kantoor.

Juffrou Dommisse gaan trou en dis haar laaste dag voor sy vir die res van die jaar met verlof gaan.

Dylicia kan skree van blydskap, want die doodnormale, vaal kunsjuffrou het die laaste drie maande in ’n draak ontaard, ’n opregte Bridezilla wat vuur spoeg. Laas

Vrydag het sy ’n paar mense se sketse stukkend geskeur en gegil dat hulle praktiese werk moet in wees vóór die einde van vandag, of dis ’n ronde nul. Sy sal dit wraggies doen ook, sonder om ’n oog te knip.

Die nuwe kunsjuffrou sal met ’n swart kat op ’n besem moet invlieg as sy kwaaier as Bridezilla wil wees. En as oom Joof haar nóg vyf minute laat wag, gaan sy self ook in ’n heks verander.

Maar dan, asof uit die niet, swaai die skoolbus agter ’n vragmotor uit en skuur amper die velle van haar kniekoppe af.

“Netjiese stoppie daai, oom Joof. My neus was amper weg.” Sy swaai haar rugsak en haar kunstas tot op die boonste trappie. “Laat waai, asseblief? Ek is in my kanon in laat.”

“Die verkeer, juffie. Die verkeer,” maak oom Joof verskoning. Maar hy word oombliklik doodgeskree deur die klomp rampokkers in die tweede ry van voor.

“Delicious!” skree die spul soos ’n swak spreekkoor. Die graadneges. Die Vuilhonde. Haar klasmaats.

***

Oor die boek

Die outistiese Micha uit Amper Einstein (Tafelberg, 2013) is in Absoluut Einstein in graad nege, met Matriek-IT onder die knie. In sy nuwe skool moet Dylicia ’n ogie oor hom hou. Sy is die enigste meisie in die skool se Robotika-groep, wat vir die Grottobot Fest ’n robot bou en programmeer. Die Vuilhonde en Micha stamp eers koppe, maar Micha en Bees vorm ’n onwaarskynlike vriendskap, en gou lyk dit vir Dylicia asof die groep seuns, Micha inkluis, haar nie meer nodig het nie.

Oor die skrywer

Christien Neser is ’n spraakterapeut van Bryanston, Johannesburg.  Haar eerste boek, Kondensmelk, het in 2009 by Lapa Uitgewers verskyn. Dit was die begin van die gewilde Elle-reeks, waarvan boek 8 in 2017 verskyn het. Nes Nicci, die hoofkarakter in haar boek Pienk is nie vir sissies nie (Tafelberg, 2017) is Christien ook tuis op ’n bergfiets.

Die uittreksel is goedgunstig deur Tafelberg, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.