Boek-uittreksel: ‘Man van Cirene’ – FA Venter

Argieffoto (Foto: alohamalakhov/Pixabay)

Hier volg ʼn uittreksel uit Man van Cirene deur FA Venter.

***

Op ’n hoogland van Afrika, net bo die see, lê Cirene, haelwit stad wat die Grieke gebou het toe Rome nog ’n kind was. In die somergloed skitter die koepels en lok die koel suilegange van tempels.

Rondom Cirene strek die vrugbare kontreie uit, al langs die see af; na die suide die woestyn wat selfs Rome nie kan tem nie. Noordwaarts lê die see tot aan die voetbanke van Rome, en ooswaarts tot aan die tempels van Alexandrië, die papirusvelde van Egipte, die vaal kuste van Judea…

In die buurt waar die gewone volk in hul plat huise woon en dadelpalms en moerbeibome klein agterplase versier, pronk die praetorium van die Romeinse goewerneur, hoog en massief. ’n Triomfboog verkondig ’n oorwinning van die legioene. Hoog bo-op die toring van ’n basiliek roer ’n duif sy vere.

Op hierdie uur is dit stil in Cirene – geen vragwaens wat deur die klipstrate rammel nie, geen Romeinse soldate wat op die plaveisel dobbelstene gooi nie, geen smouse wat met belaaide esels rondtrek nie, geen vroue wat groot kruike op hul kop dra en agter sluiers uit na die wêreld loer nie, geen hamerslae in die smidswinkels nie, en geen groot karavane wat na die markte deurgedryf word nie.

Want dit is die uur van stilstand en rus in die stad waaroor die fyn wasigheid lê. Die son brand fel en dryf die volk na die koelte van suilegange, onder bome in, of na die seilbedekkings op die markte. Dít is die tyd vir gesels, of sluimer, of bepeinsing. In die forum, na die see se kant toe, sit die geleerdes in hul wit togas, die perkamente oopgesprei. Adellike burgers loop naak in die ruim marmerbadplase rond. Die amfiteater lê en bak verlate in die son. Net die verstoorde grond getuig van die kragmetings wat kort gelede daar plaasgevind het – die bloed van ’n bul, die pootmerke van ’n leeu wat in die slag gebly het. Dit is die rustyd in Cirene. Behalwe op die terrasse. Daar word gewerk, want die wind waai van die see af en laat die olyfbome sing.

Die wind waai uit die rigting van Rome…

Cirene se terrasse, gebou uit die donker grond van Afrika, strek tot teenaan die see; vrugbare vlakke waarop die olyfboorde, wingerde en graanlande lê, gevoed deur slikwater uit die waterleiding wat keiser Augustus laat bou het.

Op die terrasse rus hulle nie; daar soek hulle nie koelte nie. Oor die boorde en stoppellande huiwer ’n goue wolk, want dit is oestyd. Op die trapvloere sweet hulle en dryf die diere meedoënloos in die rondte. En wanneer die trapsels deur is, word houtgaffels hoog geswaai. Die wind vang die bondels strooi en dryf dit hoog deur die lug van Cirene.

Die koringkorrels val ritselend op die hope wat hoër groei. Die wind suiwer die oes.

Swaar houtskopgrawe glip onder die koringhope in, word in sakke omgekeer. Oë glinster in die gesigte, vaal van die koringstof.

Die terrasse woel en wemel soos die burgers van Cirene vir Rome oes…

Simon, die Jood, laat sy jaagbesem saggies oor die hoop glip en bring die litjies en stokkies kant toe. Hy doen dit behendig, streel al die los kluitjies uit die koring weg, want vir hom moet alles perfek wees. Vir hom is die arbeid hier in die son ’n vreugde en elke nuwe mud koring ’n oorwinning. Hy is ’n man van die grond. Die vrug van son en grond en reën is vir hom ’n seëning.

’n Groot man, hierdie Jood – groter as die meeste, nie log nie, maar kragtig en lenig, met yslike hande en arms wat twee mud koring op sy heupe kan swaai. En ’n nek soos die stam van ’n jong sipres.

Sy gelaat is fors en vriendelik. En hy is donker. Amper so swart soos ’n Numidiër. Daarom noem hulle hom Simon Niger. Maar dit kwel hom nie, want hy is verdraagsaam, al kan ’n skewe woord sy oë laat gloei.

Sy oë het die kleur van ou wyn. Hulle is nou kalm, maar diep agter die kalmte skuil die opstand. Sy mond is nou sag, want daar is vrede in sy hart, maar partykeer word dit ’n dun, woedende lyn.

Hy is nie ’n ou man nie. Skaars veertig. Tog loop daar kepe oor sy gesig omdat hy al op sy dag gely het; nie soseer na die liggaam nie, maar na die gees, want hy is ’n vaderlander wat seerkry onder die hiel van die Ryk. Hy is ’n seun van Israel wat moet asemhaal in die lug van Tiberius se Rome.

So, nou is die hoop skoon. Esegiël, die bejaarde Jood wat al so ver saam met hom gekom het, en Juba, die fris Numidiër, sy vrywillige slaaf, het hul laaste trapsel ook amper skoongegooi. Goeie werkers, hierdie Esegiël en Juba.

Simon Niger leun op sy jaagbesem, kyk af na die see wat die Romeine “Ons See” noem, en die ou bitterheid wil net weer in hom roer.

Maar dan verower die skoonheid voor hom sy gemoed – die wingerde wat groen in die son blink, die olyfboorde, koel en donker, die bondels kaf wat telkens in die son opbreek daar waar die ander manne staan en oes net soos hy. Hy kyk in die verte tot waar die ou Griekse pilare van Cirene in die son blink. Dan terug na die see, die wye see wat Cirene aanraak, asook die kuste van Rome – en dié van Judea.

Simon kyk graag na die see. Altyd met verwagting, altyd soekend, steeds hopend. Met verlange en hunkering…

Skielik verstrak sy oë. ’n Swaar vaartuig gly nader oor die baai van Cirene. Die vaarseil staan hoog en wit, en hy kan hiervandaan die kol sien wat die teken van die fasces moet wees. Die voorstewe pronk trots bo die wit skuim wat weerskante toe wegval. Simon verkyk hom aan die roeislawe wat die lang spane reëlmatig uit die water lig en hulle dan weer onder die branders wegdruk.

Opstandigheid flikker in hom. Maar net ’n oomblik. Dan wel die ou hunkering weer in hom op, en hy sug. Sy Alexander… waar sou hy wees? Die jong man met die swart baard net soos hy, met sý skouers en sý oë.

***

Oor die boek

Simon van Cirene word gelas om Jesus se kruis te dra, op pad na Golgota. Simon, die man wat nie glo nie. Maar hoe kan ’n mens onveranderd gelaat word deur ’n ontmoeting met Christus? Hierdie is die verhaal van Christus se aanslag op ’n heidense wêreld. Dit is ʼn beeld van wroeging en botsing en van haat en liefde, van ongeloof en nyd teenoor katarsis en geloof.

Oor die skrywer

FA Venter is bekend vir sy geskiedkundige romans, kortverhale en jeugboeke. Hy het die Hertzogprys vir prosa vir Swart pelgrim en Geknelde land gewen, sowel as die Andrew Murray-prys vir sy outobiografie Die keer toe ek my naam vergeet het.

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Prys: R295,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris

Een van die beste Afrikaanse boeke. F.A. Venter laat jou saamleef in Man van Cirene.

JM

FA Venter, was een van die uitmuntendste skrywers wat ons land nog opgelewer het.