Boek-uittreksel: Marja gekatvis ná huwelik met narsis, leuenaar

Hier volg ʼn uittreksel uit Annelie Botes se jongste roman, Katvis.

***

Elke kilometer dat sy ooswaarts wegry uit Port Elizabeth, in die rigting van Grahamstad en uiteindelik Maclear, word die gevoel van nuutgeborenheid groter in haar.

Weg van ʼn lewe van armoede in Forest Hill.

Weg van Gerhardus wat haar twee-en-twintig jaar lank oorheers het, en hulle twaalf huweliksjare in ʼn maalkolk omskep het. Weg van haar temende ma uit wie se mond die verwyte tot op die laaste uur gestroom het. Swart pêrels van kritiek, blaam en betigting.

Jy is ondankbaar, Maria. Jy tel nie jou seëninge nie, Maria. Die Woord van die Jirre sê egskeiding is sonde. Jy het ʼn ryk man getrou, jy kon op jou boude deur die botter gegly het. Jy sou nooit nodig hê om jou hande in koue water te steek nie. Jy sou mý in my armoede hier in Forest Hill kon versôre tot my kop die laaste keer sak. Maar jy verbeel jou jy is slim om by ʼn bed-en-brekfis te wil voetvel speel. Kwansuis ʼn gasteplaas. Ek dink anyway dis is ʼn opmaaksel, want hoekom mag ek nie weet waar dit is nie? Ek is jou ma, ek mag alles weet.

“Ma, asseblief …”

“Laat ek, jou Selina-ma, vandag vir jou sê, dáár sal jy ʼn low-class bediende wees. Die dag sal kom dat jy verrinneweer en pennieloos terugkruip Forest Hill toe. Soos jou ouma, om op mý skof te kom lê.” Sy skiet die vetterige skottelgoedwater in die blou skottel oor die agterdeur. “As oupa Hans nie voor haar afgesterwe het nie, en sy darem ʼn skamele weduweespensioen gekry het, en die ou huisie in Maclear kon verkoop vir ʼn skandeprys, sou sy nie ʼn onderrok gehad het om mee kerk toe te …”

“Ma …”

“Die Jirre hoor my vandag, Maria.”

Maria. Maria. Maria. Haar noemnaam is Marja. Almal, behalwe haar ma, noem haar so. Dit krenk haar dat sy na haar ouma vernoem is. Maria Jacoba.

Want ouma Jacoba was breed genoeg om ʼn rusbank vol te sit. Sy het galsterig na boerseep en beesvet geruik en haar mondhoeke was skuimerig van Grand-Pa-poeiers wat sy soos fynsuiker afsluk. Aan die einde van haar dae het sy sewe vergeelde tande oorgehad. Drie bo, vier onder. En hulle het nie regoormekaar gesit nie. Maar sy kon ʼn hoendernekkie afeet dat net die kaal werweltjies oorbly.

“Kom ons laat maak vir Ouma kunstande, toe? Ek sal Ouma tandarts toe neem, en ek sal vir alles betaal.”

“Wat is miskien fout met my tande?” Sy gooi die kaal nekwerwels in ʼn piering, vee die olierigheid rondom haar lippe af met ʼn kombuisvadoek. “Of skaam jy jou vir my omdat jy in ʼn dubbelverdiepinghuis in die grênde Millpark bly?”

Twee aflosspanne van agt manne elk het destyds met haar kis graf toe gestrompel daar in die onkruidbegroeide Forest Hill-begraafplaas.

Tot op haar sterfbed het sy verseg om langs oupa Hans in haar uitgemesselde graf in Maclear te lê. Want al waarmee hy haar glo agtergelos het, is ʼn kous met ʼn handvol tiekies in. Versamelaarstiekies wat hy in sy spoorwegjare opgetel het wanneer die rooi telefoonhokkies op die stasies afgebreek is. Seker in die donker tussen die voetstuk van die hokkie en die sementfondament ingerol en die beller kon dit nie uitkry nie. Hy wou nog eendag die tiekies by die bank inruil vir groot geld.

Donkerhoutkis met koperhandvatsels waarin ouma Jacoba weggelê is. Vollengte kisruiker van wit rose en joseflelies. Begrafnistraktate in kleur en op gladde papier. Haar ma was in trane oor die bewoording van die agterlatingsboodskap: ʼn Moeder en grootmoeder meer werd as korale. Rus sag aan Jesus se voete. Selina en Maria.

Was dit nie dat Gerhardus vir alles betaal het nie, sou dit ʼn bedroë inspitting gewees het.

Toe skroei die nuus soos die bergwind deur die versukkelde Forest Hill dat daar roomterte en opgesnyde skaapboude en reënboogtoebroodjies by die agternatee gaan wees. Amper die hele Forest Hill was daar. Allermins om te rou oor ouma Jacoba, maar om soos rawe te vreet en hul handsakke vol te stop.

Die dag ná die begrafnis het oom Tallie van Aloestraat, wat ʼn Ou Apostool is en nie van “begrafnis” praat nie, heeloggend op die sypaadjie voor Forest Hill Supermarket gesit en vir almal wat inkom of verbyloop vertel dit was die beste lykstasie waarby hy nog in sy dag des bestaans was. Sy baadjiesakke het glo gebult van frikkadelletjies en hoendervlerkies.

Gerhardus was nie by die begrafnis nie. Hy het haar mense geminag. Selde dat hy ná hulle troue sy voete in hulle huis in Forest Hill gesit het. Bly in sy kar sit wanneer hy haar soontoe neem. Of hy sê hoe laat hy haar weer kom haal, dan moet sy buite staan en inklim wanneer hy stop.

“Die plek laat my smerterig voel, Marja. Asof daar weeluise op my vel kriewel.”

“Dalk vóél dit so, vir jou.” Sy het geweet sy moenie teëpraat nie, want die gevolge kan rampspoedig wees. “Maar as jy soveel soos een weeluis in my ma se huis kry, lek ek jou gat sewentien keer op en agtien keer af.”

Toe klap hy haar teen die kant van haar kop daar voor die Fresh Stop by die Caltex-garage in Forest Hill. Tot die petroljoggie het soos ʼn soutpilaar gevries.

Kwart voor agt stop sy voor die padstal by Nanaga. Wag in die vroeë Aprilson tot die deure oopmaak. Sit by ʼn stoeptafel en bestel Franse roosterbrood met spek en heuning. Dink aan Gerhardus wat alewig die duurste item op die spyskaart bestel het. Maar op hierdie Sondag van 10 April in die jaar van onse Heer 2022 hoef sy nie ʼn gedagte op hom te verspil nie.

Sy het hom agtergelaat. Einde ten laaste is sy op pad na ʼn skuiling waar die kans nul is dat hy haar sal uitsnuffel en op haar sal afsluip.

Sy betaal die rekening, gebruik die badkamer. Stoot aan Grahamstad toe.

Vannag slaap sy by die Twin Lodge in Mthatha. Sy hoop die swembad is skoon, want sy wil die Baai se smet van haar afwas. Gewigloos in die donker dryf en vir die sterre vertel sy gaan nie gou weer terug nie.

Indien ooit.

Tussen Grahamstad en Peddie kruis sy die Visrivier. Sy stop om bene te rek en agter ʼn graspol te hurk. Sy is nie moeg nie. Maar sy moet konsentreer op slaggate en daar wei beeste en boerbokke in die rooigras langs die pad.

Sy sit met ʼn beker fleskoffie op ʼn leë miershoop, en bid dat haar tuiste by Matoli Meadow die uitkoms sal wees waarna sy so naarstiglik smag.

Terwyl sy toe-oë sit, hoor sy die raspergeluid van ʼn nonnetjiesuil, gevolg deur die stygende gorrelgeluid. Haar maag ruk toe sy opkyk en die wit hartvormige uilgesig naby haar op ʼn heiningpaal sien. Hy kyk reguit na haar met sy groot geel-en-swart oë.

Die dag toe sy en Gerhardus op die wynlandgoed naby Stellenbosch getroud is, het ʼn nonnetjiesuil onheilspellend op die kapel se dak sit en gorrel.

Ouma Jacoba het meermale vertel van die voordag toe oupa Hans gesterf het met die kous tiekies in sy graatmaer hand vasgeknyp. “Die hele nag het daar ʼn uil op die dak gesit en hoe-hoe. Toe weet ek die doodsengel is op pad, en sy’s naby ons huisdrempel.”

“Bel Ouma toe die dorpsdokter om te kom?”

“Nee, want ek het duisend keer vir hom gesê tering en pyprook is nie skape wat in dieselfde land wei nie. Maar hy het nie ore aan sy kop gehad nie. Regte ou ingat gewees, jou oupa. Altoos geld gehad vir sy sakkies Dingler’s Black and White-twak, maar as ek vra hy moet fish paste by die winkelgoed opskryf, sê hy dis te duur.”

Die uil bly sit, selfs toe sy die motordeur toeklap en wegry.

Is daar ʼn verborgenheid waarvan die nonnetjiesuil op die heiningpaal haar op hierdie oggend wil vertel?

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Penguin Random House Suid-Afrika verskaf.

  • Katvis kos R300 (prys onderworpe aan verandering). Klik hier om die boek by Graffiti Boeke aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Faraway ·

Ai tog . . . Lees so lekker en ingedagte en skoon vies op einde toe ek besef dis net n uittreksel uit die boek. Sal moet aankoop om my nuskurigheid te blus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.