Hier volg ʼn uittreksel uit ‘n Tuin vir Tessa deur Helena Hugo.
***
Dieter het die dag ná sy besoek met ’n aanbod gekom wat haar traankrane byna weer oopgedraai het.
“Hier is ’n paartjie in die gemeente wat hul tuinwoonstel vir ons beskikbaar stel om na eie goeddunke as huisvesting aan te bied vir enige lid van die gemeente; gratis, vry en verniet. Dis nie naastenby wat julle aan gewoond is nie, maar dis ruim met ’n oopplanleefkamer en -kombuis, drie slaapkamers, een badkamer, aparte stort en toilet, én daar is ’n grasperk vir Venus en Pluto. Al wat julle moet betaal, is water en ligte en nou en dan die perseel oppas, tuin natgooi en so aan.”
“Nou en dan of elke dag? Ek is nie ondankbaar nie, ek wil net seker maak wat dit als behels.”
“Die mense toer graag en is soms lank uithuisig. Hulle soek dus betroubare loseerders wat toesig kan hou terwyl hulle weg is.”
“Gaan kyk,” het Altus uit die kliniek laat weet.
Sy het en sy was verstom. ’n Droomtuin het om haar uitgestrek: groen grasperke, bome, blommende struike, rose so geil dat sommige in die bome oprank.
Die eienares Ena te Water, is ’n ouerige Hollandse dame.
Sy en haar man is ywerige tuiniers. “Een voordeel van Suid-Afrika is, ons kan heeljaar tuinmaak en ons het ’n sterk boorgat, uitstekende besproeiing. As jy hom aan die gang moet sit, draai jy een kraan oop en die stelsel sorteer homself uit.
Verder doen tuindienste alles wat nodig is. Jy hoef nie jou hande vuil te maak nie. Hou net vir ons toesig terwyl ons in Nederland besoek aflê.”
“Ons doen dit met plesier,” het Tessa gesê en by haarself gedink, mevrou, jy weet nie hóé graag nie.
“Die cottage is bietjie beknop, en ek hoor julle het twee groot seuns?”
“Hulle kan ’n kamer deel.”
“Nee, dis nie nodig nie. Daar is drie slaapkamers, een wel erg knap.”
Die cottage is inderdaad beknop, maar gerieflik gemeubileer en ryklik versier met blou Delft en afdrukke van Rembrandt en Vermeer.
“Trek enige tyd van vandag af in, ons is juis oor een week weer op reis.”
Toe Tessa terugry huis toe, stroom die trane, dié keer trane van blydskap.
Dis met die aankoms dat sy die vreemde Toyota op die oprit kry.
Haar keel trek toe. Haar hart sê beangs vir haar dis hý, hy is hier met sy sakrekenaar en sy skerp oë, sy neus wat die kleinste ou silwerteelepeltjie uitsnuffel en opskryf. Onwillekeurig haal sy haar verloofring af en steek dit in haar sak. Sou hy handsakke ook deursoek? Sy het vergeet om George te vra, maar dis seker onaanvaarbaar?
Die balju is ’n lang man, bleek met yl hare wat oor sy ore hang. Hy staan voor ’n oop kombuiskas. Sy helper gee vir hom potte en panne aan wat hy handig terugpak. Agter hom op die tafel lê sy sakrekenaar, ’n pak lêers en ’n bondel penne.
Anna staan arms gevou in die hoek hulle en aangluur.
Die honde is by Gerhard, anders het hulle teen die glasdeur op- en afgehardloop.
Die man se helper trek aan sy baadjie. “Meneer…” Hy maak ’n beweging met sy kop in Tessa se rigting.
Die balju het hangwange, sy mondhoeke volg troosteloos dieselfde patroon. Hoe hy met sy klein ogies alles sien wat hy moet sien, is sy geheim. Sy neus is egter groot genoeg om goed te kan ruik.
Tessa hou haar kalm. “Ek is Tessa Heyns, aangename kennis.”
Hy gee sy hand en glimlag onverwags innemend. “Mevrou Heyns, u weet natuurlik hoekom ek u woning betree? U huishulp het die dagvaarding namens u ontvang, u kan dit vir my teken en dan doen ons ons werk rustig. U het baie besittings, mevrou. Dit neem moontlik twee dae om op te skryf. Verstaan asseblief, dis ons plig en nie ons plesier nie.”
“Ek neem so aan, meneer…?”
“Oberholzer.”
“Het Anna vir u tee gemaak?”
“Sy het aangebied, maar u moet u nie oor ons bekommer nie. Ons het ons eie, in die kar.”
So op sy ordentlike manier kuier meneer Oberholzer en sy assistent vir die volgende twee dae. Teen die aand se kant vra hy die motors se sleutels en groet hy haar met die hand. “Die afslaers sal môre u goedere kom laai. Teken hier, dankie vir u samewerking.”
Hy knip sy aktetas toe. “Die bed se kopstuk gaan saam, maar hulle los die matras, maak seker daarvan. Geen klere mag deur hulle uit u kas geneem word nie, een handdoek per gesinslid in die badkamer, niebederfbare kruideniersware word alles ingepak. Hou die afskrif van die lys vir u insae. Sterkte, mevrou, en spoedige beterskap vir u man.”
Tessa stap nie saam met hom deur toe nie, hy het immers nou sy eie sleutel. Sy sak op die stoel langs die kombuistafel neer, skuif die koevert met die “lys ter insae” eenkant toe.
Die huis omsluit haar met koue afsydigheid, die peperduur banke en stoele en kaste, die bypassende skilderye en ornamente, die gevonde objekte wat teen belaglike hoë pryse deur die binnehuisversierder uitgesoek en aangedra is, kan netsowel in ’n vertoonvenster pryk. Dit is nie meer hare nie en sy wil dit nie hê nie.
Anna en Petrus het reeds gister hul goedjies gepak en na hul nuwe tuiste vertrek, drie huise verder aan by die Malherbes waar Petrus ook tuinwerk gedoen het. Die afskeid was pynlik, nogtans nie finaal nie. Anna het hul nuwe adres in Malcolmstraat in haar selfoon ingetik.
“Ons sal afspreek, dan kom kyk julle,” het Tessa belowe.
“Dis nie ons tuin nie, Petrus, maar dis mooi en groot, jy sal sien.”
Sy en Anna het mekaar lank vasgehou, hul trane weggesluk. Die seuns het kom hand gee, ongelukkig. So is hulle uitmekaar sonder om Altus ook te kon groet.
“Daar is bobotie in die yskas, jy kan dit opwarm,” was Anna se afskeidswoorde.
Nou sit sy hier op haar eie en wonder of daar genoeg oorskiet is om ’n maaltyd vir haar en haar seuns aanmekaar te slaan. Sy het ’n hand vol maalvleis, uie en tamaties. Miskien kan sy spaghetti en sous maak. Spaghetti? Sy slaan die lêer met die lys oop, soek met haar vinger tot by die opskrif: Kitchen. Die laaste pak spaghetti is sowaar ook opgeskryf. Vat sy dit, word sy dalk van diefstal aangekla.
***
Oor die boek
Tessa Heyns het die perfekte lewe: haar man Altus se ondernemings doen goed en haar seuns is goeie kinders. Sy woon in ’n pragtige huis in ’n spogbuurt. Tessa het van kleins af tuin gemaak – ʼn groentetuin onder die wakende oog van haar pa, ’n roostuin met die hulp van ’n kundige ontwerper, en ’n Kaapse tuin wat die seewinde kan trotseer. Haar tuin is haar stukkie hemel, haar skuilplek, die plek waar sy troos soek en kry. Die laaste tyd begin Altus se stiltes haar pla. Wie of wat sit daaragter? En beteken dit dat sy haar tuin sal moet prysgee?
Oor die skrywer
Helena Hugo het haar loopbaan as aktrise begin, maar skryf en vertaal deesdae voltyds. Benewens talle boeiende verhale oor verskillende genres heen is sy ook regisseur en skrywer van radiodramas en -vervolgverhale. Luisteraars sal haar veral vir Blinkwater en Mooi mense onthou. Sy het ook al drie keer die eerste plek in die Sanlam/RSG-skryfkompetisie gewen en haar drama Swane is met ‘n ATKV-Woordveertjie bekroon. Helena en haar man, Henk, woon in Roodepoort en het drie volwasse kinders.
Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.
Prys: R210,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers