Boek-uittreksel: ‘Prins van Margaux se hart’

Hier volg ’n uittreksel uit hoofstuk een van Prins van Margaux se hart deur Tosca de Villiers.

***

École des Beaux-Arts, een van die beroemdste kunsskole in Parys het haar aanvaar vir ’n reeks meesterklasse wat tydens hulle somerskool aangebied word. Erkenning vir haar talent en ’n goeie geleentheid om haar vaardighede te slyp. Haar gesin het maar louwarm op die nuus reageer. Net haar vriendin, Lindy, was saam met haar opgewonde.

“Vat my baadjie en aktetas, dan help ek jou met hierdie trommel,” onderbreek ’n diep, ryk stem haar gedagtegang.

Margaux skrik effens, draai om. Voor haar staan ’n lang, breedgeskouerde man besig om ’n foon in sy sak te druk.

Ek moet ophou droom en straatslimmer word. Bewus van my omgewing. Die man se amper swart hare is effens deurmekaar en ’n sonbril steek sy oë weg. Laatmiddagstoppels bedek sy vierkantige ken en kakebeen.

“Nee, dankie, dis nie nodig nie.” Sy trek weer aan die tas.

Maar ’n bruingebrande hand vou om hare. “Dit is. Ons moet nog teen die opdraande uit en dit klink dit of jy besig is om van die huis af weg te loop. Nou-nou draai die motorbestuurder om en vat jou terug.”

Hoe lank sou die man na hulle gesprek geluister het? Margaux trek haar rug regop. “Ek loop nie van die huis af weg nie. Dis rêrig slegte maniere om ander mense se gesprekke af te luister.”

“Nou hoekom staan jy agter die motor en trek ander klere aan?”

“Wat het jy gesien!?”

“Ek kon jou pragtige bene ’n paar oomblikke lank bewonder voordat jy die ander romp oorgevou het. Nou steek jy alles weg.”

Die warm sensasie wat in haar opgebou het vandat sy hierdie aantreklike vreemdeling gesien het, laat hitte teen haar keel opstoot. As sy net onthou het om ’n ander stel klere by die kantoor aan te trek. Sy maak lysies en dan vergeet sy waar het sy dit op haar foon gestoor.

“Verander jy dikwels in ’n oogwink van gedaante?” Hy bekyk haar op en af. “Van ’n sjiek professionele dame tot ’n sigeuner met ’n bolla.”

Sy lig haar hand, voel aan die hare agter haar kop. “Dis nie ’n bolla nie. Dis ’n chignon.”

Hy glimlag en steek sy hand uit, vroetel tussen haar hare, trek ’n paar haarnaalde uit en vryf haar hare deurmekaar. “So ja, nou pas jou haarstyl by die res van jou voorkoms.”

Verwaande vent! Hoe durf hy? Sy aanraking laat haar kopvel tintel en dit rimpel deur haar lyf. Margaux kam met haar vingers deur haar hare, probeer ontslae raak van die gevoel van sy vingers op haar kopvel. Haar mond is droog en skielik kan sy aan niks dink om hom toe te snou nie. Hy is, net soos haar broers, besig om haar te terg. Sy ken daardie sweem van ’n glimlag om sy mond.

Doodluiters tel hy haar tas op en begin stap. Sy het geen ander keuse as om hom op ’n drafstap te volg nie. Sommer gou is sy uitasem. So onfiks geword die laaste paar maande, net nie meer tyd gehad om gim toe te gaan nie. Wanneer laas het sy net ’n ent gaan stap? Nee, Salie of een van die ander werkers het met die honde gaan stap. Hoekom hou mens honde aan as jy nie eens tyd het om met hulle te gaan stap nie? Sit heeldag in ’n lugverkoelde kantoor en maak genoeg geld om iemand anders te betaal om met jou hond te gaan stap. Dis nie haar idee van sinvol leef nie.

Langs haar gee die man lang, gemaklike treë, asof die swaar tas en die opdraand hom nie pla nie.

“Die tas het wieletjies, jy kan dit trek en hoef dit nie te dra nie.”

“Ek weet, maar dit voel of een van die wieletjies vasgehaak of gebuig het.”

By CAPAGO se gebou maak hy die deur oop. Margaux steier terug toe ’n bondel warm lug teen haar vasslaan en huiwer.

’n Hand druk liggies teen haar rug. “Dis hier in.”

Sy trek haar rug hol om van sy hand af weg te kom. Waar sy hand aan haar geraak het, is ’n warm kol wat deur haar liggaam versprei. “Dankie vir my tas.” Sy wens hy wil die donkerbril afhaal sodat sy hom in die oë kan kyk.

“Is jy hier vir ’n Franse visum?”

“Ja.”

Sy voel weer die hand laag teen haar rug, “Dan moet jy hier instap, die wagkamer is agter daardie twee glasdeure. Ek sit jou tas hier neer.”

Die vrou agter die toonbank kyk op toe Margaux voor haar staan. “Sit solank, asseblief. Die dokumentasie het nog nie van CAPAGO af gekom nie.”

Margaux kyk op haar horlosie. Amper halfdrie. “Julle het gesê dit sal net ná twee hier wees.”

“Ja, gewoonlik kom dit al twaalfuur, maar ons ondervind probleme. Sit gerus en help jouself met tee of koffie.”

Margaux draai om, gaan sit op die eerste stoel en haal haar vliegtuigkaartjie uit. Daar is nog heeltemal genoeg tyd om betyds by die lughawe te kom. Vanaand vlieg sy oor Afrika om met haar nuwe lewe te begin terwyl haar pa, broers en Chris die dinee bywoon. Hulle het nooit gedink sy sal voet by stuk hou en nie daar wees om die samesmelting tussen Bankitex en Insurecor te vier nie.

Sy bêre haar vliegtuigkaartjie en haal haar sketsboek uit. Die man wat haar tas gedra het, kom ingestap en praat Frans met die vrou agter die toonbank. Margaux probeer die gesprek volg, maar hulle praat so vinnig dat sy net hier en daar ’n woord verstaan. Is dit hoe dit rêrig gaan wees? Gaan haar matriek-Frans en die kursus wat sy by die Alliance Française geneem het haar niks help nie?

Die vrou kom agter Margaux sit en luister en verlaag haar stemtoon, maar beduie met haar hande. Die man luister, antwoord en haal sy skouers op. Sy oë is diepblou, sien Margaux toe hy omdraai. Sy laat sak haar kop, probeer op haar skets konsentreer. Langs haar sak die man in ’n stoel neer. ’n Heerlike geur van man, sandelhout en iets anders bereik haar. Hy strek sy bene uit en maak sy skootrekenaar oop.

Margaux sukkel om die lyne van haar skets te laat vloei. Vee ’n paar strepe uit en probeer weer. Al die onstuimigheid sedert sy haar bedanking by Bankitex ingedien het, was uitputtend. Chris, wat net nie kon aanvaar dat sy hulle verlowing finaal verbreek het nie, het nie eintlik haar lewe makliker gemaak nie. Om in ’n verhouding vasgevang te wees is die heel laaste ding wat sy nou wil hê. En as sy dit in die verre toekoms sal oorweeg, moet dit iemand wees wat haar as mens verstaan. Nie iemand wat ’n besigheid besit wat ’n goeie pasmaat vir haar pa se besigheid is nie – eintlik net belangstel om ’n wins uit haar kreatiwiteit te maak nie. ’n Moegheid sak oor haar neer. In die geharwar om alles by die kantoor af te handel en Chris se eise te bestuur het sy nie betyds vir haar visum aansoek gedoen nie. Nou sit sy hier en wag terwyl sy vanaand moet vertrek.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur die skrywer verskaf.

  • Prins van Margaux se hart is op Amazon en Kindle Unlimited beskikbaar. Klik hier om dit aanlyn te koop.
  • Tosca de Villiers se niggie het onlangs met ’n Fransman getrou en toe het sy hulle woonstel in Parys vir bietjie langer as twee weke opgepas. Lees meer oor haar tyd in Frankryk hier op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.