Boek-uittreksel: Ratels aan die Lomba, die storie van Charlie-eskadron

Om 00:30 die oggend van 8 Oktober het 61 Meg van sy skuilplek naby Mavinga na sy nuwe laergebied begin beweeg. Charlie-eskadron en die lugafweerpeloton was aan die stertkant van die konvooi as beskermingselement van die bevoorradingsechelon.9 Sommige voertuie het aanmekaar onklaar geraak. Fapla het ook ’n paar artillerieskote afgevuur wat naby die Suid-Afrikaners gebars het, wat gemaak het dat hulle ompaaie moes ry.

Die agterste deel van die konvooi het kontak met die res verloor.

Ná ’n lang nag was die laaste voertuie nog onderweg toe die son se eerste strale deurbreek. Om 05:00 het Len Robberts ietwat lugtig aangeteken: “Dit raak nou goed lig. Die son is eintlik al op.” Toe hulle ietwat later halt roep, het Ratel 31A teen Robberts se agterkant gebots, wat hom duidelik geïrriteer het. Om 08:30 het die konvooi net binne die boomlyn van ’n 200 m wye shona gestop.

[PJ] Cloete [bevelvoerder van Charlie-eskadron] het die manne vroeër verlaat en vooruit gery om ʼn ordergroep met Bok Smit by te woon oor die beweging rondom die Lomba se oorsprong. Die vergadering het langer geduur as wat beplan is, en Cloete onthou hy het nie lekker daaroor gevoel dat hy in daglig moes terugry nie. Hy het Brad Saunders gevra om inligting oor vyandelike bewegings per radio te kry. Hy is vroeër ingelig dat daar geen bogies (vyandelike vliegtuie) in die omgewing was nie.

Intussen is die konvooi aangesê om in visgraatformasie te wag. Saunders het die versoek vir inligting deurgegee. Hy het die vae stofwolk gesien wat na die suide oor die boomtoppe gehang het en het gewonder of dit nie ’n goeie ding sou wees om skuilgate te grawe nie. Intussen het Cloete teruggery met die son wat begin water trek.

“Die rit is versigtig aangepak, maar selfs toe het die stof gehang oor die spore wat ons langs die rant van die shona getrap het. Ons was in sig van die eskadron en was op die punt om die laaste ent te ry toe ons die radioboodskap kry om dekking te slaan aangesien MiG’s in die omgewing gepatrolleer het. Ons het links van die pad afgepluk en binne sekondes ons kamoefleernet oor die Bevelsratel gegooi.”

Om 10:00 het Cloete Robberts op die radio geroep om te sê MiG’s het pas laag in die rigting van die konvooi oor hom gevlieg.

Op die grond was die troepe rustig aan die ontspan. Robberts was aan die slaap toe Cloete se oproep deurkom. Sommige manne het koffie gemaak en uitgesien na ontbyt uit hul rantsoenpakke. Hulle was nie bekommerd nie, want aan hulle is gesê die vyand sal weens ’n deinserigheid in die lug nie voor 10:00 vlieg nie. ’n Paar het dit nog oorweeg of hulle die kamoefleernette oor die voertuie moes trek.

Hoog in die lug was die vyandelike vliegtuie egter aan die loer.

Daar is verskillende menings oor presies hoeveel vliegtuie daar was. Almal op die grond het slegs twee vliegtuie gesien. Tog word in die amptelike SAW-dokumente na vier verwys – twee vir bodekking en twee wat laag afgekom het. Sommige hou vol dat hulle MiG-23’s gesien het; ander reken dat dit MiG-21’s was. Daar kan aanvaar word dat die amptelike verslae gegrond was op wat die budgie gunners te sê gehad het, manne wat opgelei is om vliegtuie te herken. Dit sou daarom die veiligste wees om die amptelike weergawe te aanvaar.

Hoe dit ook al sy, oor wat nou presies in die lug gebeur, kan ʼn mens bloot raai. Hier is vier vliegtuie – waarskynlik twee MiG-23’s en twee MiG-21’s – wat die omgewing patrolleer en geleentheidsteikens soek. Deur die deinserigheid sien een van die vlieëniers óf die konvooi se stof wat in die lug hang óf die voertuie se spore soos hulle ná die halt in die visgraatformasie afgetrek het. Hy rapporteer wat hy sien, en ’n MiG-21 kry toestemming om te gaan kyk.

Met sy maat duik hy af terwyl die ander twee bo in die lug sirkel om hulle teen SALM-vegters te dek. Die twee vlieg oor die konvooi op die hoogte van ’n paar honderd voet. Skielik begin hul harte bons: Daar onder is duidelik ’n SAW-konvooi!

Brad Saunders reken dit is onmoontlik dat die vlieëniers nie minstens die twee Ratels aan die rand van die shona gesien het nie. Die bemanning is nog besig om hul voertuie te kamoefleer en word volkome onkant betrap. Die MiG’s wat reg van voor kom, is só laag dat die soldate die vlieëniers se valhelms met die rooi ster aan die kant kan sien. Sommige meen selfs hulle kan die vlieëniers se lippe sien beweeg. Martin Bremer kry lus om aan die MiG’s te raak.

Maar die vliegtuie swiep sonder voorval oor en die spanning neem ʼn oomblik af.

In werklikheid het die vlieëniers egter die konvooi geïdentifiseer.

Hulle draai in ’n halwe sirkel en pyl op boomtop-hoogte weer af op die konvooi, weer reg van voor, asof hulle wil land. Op presies die regte oomblik werp een van die MiG-21-vlieëniers twee bomme wat relatief stadig onderaan valskerms met rooi-en-wit segmente val en hulle die kans gee om te ontsnap sonder om self beskadig te word.

Een van die bomme ontplof onskadelik in die veld, die ander bars 1,5 m van Ratel 33C met o.kpl. Wayne Mills, bevelvoerder, Gary Pearman-White, kanonnier, en Frikkie (Bees) de Jager, drywer, as bemanning. Op daardie oomblik sit Mills en koffie drink by Steph Rossouw en Warren Adams van Ratel 33A sowat 30 m van sy eie Ratel. Dit red sy lewe.

De Jager, moeg ná die hele nag agter die stuur, probeer ’n bietjie slaap in die gangetjie langs die enjin agter in die kar. Pearman-White het hoofpyn en loop na die watertenk aan die kant van die Ratel om water te tap, maar die tenk is leeg en hy loop om na die ander kant. Daar kry hy wel water en was sy gesig.

Die volgende oomblik ontplof die bom. Honderde rooiwarm skerwe vlieg deur die lug en versplinter alles in hul pad. Daarna daal ’n paar sekondes se doodse stilte oor die omgewing neer. Twee kraters – elk heupdiep – is in die grond geblaas.

Len Robberts was aan die voorpunt van die konvooi toe dit gebeur: “Almal om 30A [Robberts se eie Ratel] het in die kar ingestorm. Die gedreun, die slae, die rook, die skrapnel wat deur die lug trek.

“Oor die radio rapporteer iemand dat 33C getref is. Deur my sigblok sien ek hoe die rook tussen die bome deur borrel.

“Iemand sê hulle [33C se bemanning] was nog in die kar. Die troepe hardloop na die kant van die shona. Ek probeer saam met die sersant uitvind wat gebeur het. Hardloop van kar tot kar om koms [kommunikasie] te kry met 30 [PJ Cloete]. Die 90 mm-bomme gaan nou af in 33C. Die Brownings [se ammunisie] gaan af asof dit in ’n masjiengeweer is. Skrapnel trek die hele wêreld vol.”

Waar hy binne Ratel 33C lê, word Bees de Jager blootgestel aan die volle skok en slag-effek op sy liggaam. Die skrapnel sny deur die Ratel se dun pantser, kerf sy liggaam flenters, sny ’n slagaar deur en hy begin dadelik groot hoeveelhede bloed verloor. Skrapnel word tot in die dieseltenk gevind.

’n Chaos bars los. Die eskadron se mediese ordonnans, Dion Cragg, hardloop na die twee gewondes. Dit word vinnig duidelik De Jager se wonde is só erg dat hy nie veel meer vir hom sal kan doen as om hom so gemaklik moontlik te maak nie. Later vertel die militêre arts aan Robberts dat die helder vloeistof om De Jager se brein by sy oor uitgelek het, wat wys dat sy kop ook getref is.

Roderick van der Westhuizen, wat op ’n Kwêvoël-vragmotor daar naby staan, onthou dat De Jager nooit gegil het nie. Hy vra sy makkers om hom te help en kla “in die nodige gekruide taal” oor die pyn. Ná drie morfien-inspuitings lê hy stil.

Later sou sy kamerade De Jager onthou as ’n baie vrolike ou, altyd aan die lag, altyd reg om te terg. “Die manier hoe hy ’n storie kon vertel, het baie ouens gedwing om hul broek te gaan vervang, want jy het jouself regtig natgemaak soos jy gelag het. Ek is seker hy gee die engele in die hemel baie k*k,” vertel Eugène Mostert.

Gary Pearman-White is “gelukkig” waar hy hom aan die ander kant van die Ratel bevind. Die pantsermotor se agterwiele beskerm die grootste deel van sy liggaam teen die ontploffing. Een bomskerf vlieg egter tussen die agterste twee wiele deur en sny sy regtervoet van sy been af sodat dit slegs aan die achilles-sening hang. Hy probeer weghardloop, maar kan dan nie verstaan waarom hy nie vorentoe kan beweeg nie.

Soos die 19-jarige Pearman-White daar op die draagbaar lê, in skok en pyn en in vrees vir sy lewe, doen hy wat ontelbare ander jong soldate in soortgelyke omstandighede al in tallose vorige oorloë gedoen het: Hy skreeu vir die persoon wat die lewe aan hom geskenk het… sy ma. Dit is dieselfde moeder wat gesterf het toe hy ’n seun van slegs nege jaar oud was.

Boek: Ratels aan die Lomba
Uitgewer: JonathanBall Publishers
Prys: R230-00*
*Prys onderhewig aan verandering

Koop die boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CJ ·

Sjoe, dit is erg! Gelukkig het mens maar net eintlik jou eie klein beleweniswêreld gehad – ek het nie eens hiervan geweet nie. Nogal moeilik om met net ‘n uittreksel jouself te oriënteer t.o.v. tyd en plek. 8 Oktober – dit is dus na die groot geveg teen 47 Brigade op 3 Oktober. Hoekom sou 61 na Mavinga toe teruggegaan het? Ek het gedink hulle hulle het ook maar net weswaards beweeg tot by die oorsprong van die Lomba en dan noord. Sal graag hierdie boek wil lees.

Leopold Scholtz ·

Beste CJ, dit was inderdaad na die groot geveg van 3 Oktober. Ek verduidelik in die boek dat 61 Meg na die geveg eers na sy skuilplek naby Mavinga teruggegaan het. Daarna het hulle wes om die oorsprong van die Lomba beweeg met die doel om Fapla noord van die rivier aan te pak. Dis toe dat die MiGs hulle – met tragiese gevolge – aangeval het. Die boek word op 18 Augustus in die Centurion-teater, Centurion, bekend gestel, maar kan al bestel word. (by Jonathan Ball). Lekker lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.