Boek-uittreksel: Repelsteeltjie

Voorblad

Voorblad

Dié verhaal is gepubliseer in die boek My skatkis van stories en rympies
Uitgewer: Human & Rousseau
Prys: R199-95*
*Prys onderhewig aan verandering

Eenmaal was daar ‘n baie eenvoudige man met ‘n baie mooi dogter. Die koning het van die meisie se skoonheid gehoor en haar pa na die paleis laat kom. Die man was oorweldig deur al die prag en praal van die paleis, en so op sy senuwees dat hy allerlei nonsens kwytgeraak het. “Ja, my dogter is so mooi soos hulle sê, U Majesteit. Mooier. En slim! Sy kan… sy kan selfs goud uit strooi spin!”

“Nou ja, dít maak my bly,” sê die koning, want bo alles was hy lief vir geld. “Bring haar paleis toe, en as sy kan doen wat jy sê, trou ek met haar.”

Die arme meisie word paleis toe gebring en toegesluit in ‘n kamertjie met net ‘n groot hoop strooi en ‘n spinwiel. “Jy het die hele nag om van daardie strooi goud te spin,” sê die koning. “As jy dit nie doen nie, sal jy moet sterf.”

Toe die deur toegaan, bars die meisie in trane uit. Sy het nie die vaagste benul hoe om goud uit strooi te spin nie. Toe, in ‘n ploffie rook, verskyn ‘n koddige mannetjie voor haar. “En waarvoor al die trane, mooie meisie?” vra hy.

Snikkend verduidelik sy haar probleem.

“Maar dit maak ons maklik reg,” lag die mannetjie. “Jy gee vir my… kom ons sê… jou ringetjie, en ek sal vir jou goud spin van die hoop strooi.”

Die meisie is tog te bly. Sy gee vir hom haar ring, en lank voor dagbreek is die mannetjie klaar. Hy verdwyn weer in ‘n rookwolkie en sy bly alleen agter.

Toe die koning die bondel gouddraad sien, is hy verheug – en hy begeer dadelik nog. “Ons moet baie seker maak jy’t nie gekul nie,” sê die koning. “Vannag spin jy ‘n bietjie meer strooi.”

Daardie nag verskyn die mannetjie weer. Hy lag lekker toe hy die groot hoop strooi sien. “Kinderspeletjies!” roep hy uit. “Maar jy weet mos jy moet my betaal, nè, mooie meisie? Wat van die glaskrale om jou nek?”

Gretig haal sy haar krale af en gee dit vir die mannetjie. Hy kom sit dadelik langs haar en begin spin. Teen die oggend is hy weg, en in plaas van die strooi, staan daar nou ‘n hele paar bale gouddraad.

“Maar dis wonderlik!” roep die koning uit toe hy dit sien. “Jy sal seker nie omgee vir nog een laaste toets nie? As jy dit weer kan doen, maak ek jou my koningin.”

Dié keer is daar ‘n hele saal vol strooi wat sy moet spin. Toe sy alleen is, huil sy so jammerlik dat sy nie eens sien toe die mannetjie voor haar verskyn nie.

“Wat makeer, mooie meisie?” vra hy. “Jy weet mos ek sal jou help.”

“Maar ek het niks oor om jou te gee nie,” snik sy.

“Ag, toemaar wat,” sê die mannetjie. “Wanneer jy eers die koningin is, kan jy vir my jou eerste baba gee. Dit sal genoeg wees vir my.”

Die meisie dink nie sy sal ooit regtig koningin word nie; daarom willig sy dadelik in en die mannetjie begin spin.

Toe die koning die volgende oggend self die deur oopsluit, sit die meisie tussen honderde bale gouddraad. Die goue lig laat haar vel gloei. Die koning het nog nooit iets so mooi gesien nie en hy gee die bevel dat die troue onmiddellik moet plaasvind.

‘n Jaar gaan verby. Die jong koningin is gelukkiger as wat sy ooit sou kon droom, veral toe daar vir haar ‘n pragtige dogtertjie gebore word. Maar een aand, terwyl sy regmaak om te gaan slaap, skrik sy groot: Daar staan die vreemde mannetjie langs haar baba se wiegie!

“Belofte maak skuld, mooie meisie,” sê hy.

Die jong koningin bewe van vrees. “Jy kan enigiets anders kry, asseblief; jy kan álles kry: hier, neem my juwele! Neem my kroon!”

Die mannetjie lag net. “Ek sal nie onredelik wees nie,” sê hy. “As jy kan raai wat my naam is voor drie nagte om is, sal jy my nooit weer sien nie.”

Daardie nag en die volgende raai die koningin elke naam waaraan sy kan dink. Sy stuur haar soldate tot aan die uithoeke van die koninkryk om al die vreemde name bymekaar te maak wat hulle kan. Maar vir elke naam wat hy hoor, skud die mannetjie net sy kop.

Vroeg die derde aand kom ‘n soldaat uitasem na die koningin en vertel haar ‘n vreemde verhaal: “Ek het deur die woud gery, en daar sien ek ‘n koddige mannetjie al om ‘n vuur tussen die bome dans. En hy’t ‘n liedjie gesing.”

Dis tot die koningin se leed,
haar kind kom môre met my saam.
Dis tog gaaf dat niemand weet:
Repelsteeltjie is my naam!

Toe die mannetjie die laaste keer voor die koningin verskyn, sê sy eers: “Is jou naam dalk Koen?”
“Nee, dis nie my naam nie!”
“Is dit Hans?”
“Nee, nee, nie my naam nie.”
“Is dit dalk… Repelsteeltjie?”

Die mannetjie raak eers rooi en toe pers van die woede. Toe stamp hy sy voet so hard dat hy dwarsdeur die vloer val.

Die jong koningin was tot in lengte van dae gelukkig en het die vreemde klein mannetjie nooit, ooit weer gesien nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae