Hier volg ʼn uittreksel uit die boek Skag deur Jan Wolmarans.
Hy pluk die mes met ’n vloeiende beweging uit sy sokkie en die volgende sekonde sink dit in die sagte vlees tussen Verwey se nek en skouer weg. Jos los dit daar vir maksimum effek, hoor hom gil, stamp terselfdertyd na die Star, maar Costa se reaksie is blitssnel en hy kry ’n skoot af net toe Verwey die rem in ’n spasma diep intrap en al drie vorentoe geslinger word.
Die ronde trek hoog, rakelings by Jos se skouer verby en deur die Hilux se dak. Die slag laat sy ore toeslaan. Dofweg hoor hy nog Verwey se gille, sien hy bloed rooi teen die man se hemp pomp ondanks sy krampagtige druk op die wond in sy nek.
Costa vloek verwoed, en die Star swaai terug na Jos toe.
Dis die beperkte ruimte in die bakkie wat hom red, die afstand kort genoeg om sy regterhand bo-oor die pistool se sluitstuk te klem, met sy pinkie tussen die hamer en slagpen, net toe Costa die tweede skoot aftrek.
Die hamer slaan pynlik toe op sy vinger, maar maak nie kontak met die slagdoppie nie. Jos hou aan vorentoe beur, ruk die Star uit Costa se hand en slaan blindelings daarmee na sy gesig. Die pistoolgreep tref Costa teen die wangbeen en trek bloed.
Dis vir Lida, jou bl*****! Jos stamp die bakkie se agterdeur oop en rol uit.
Hy land hard, rol in die stof om regop te kom. Hy moet Costa plat kry voor hy tot verhaal kan kom. Die skreeuende Verwey pla hom nie vir nou nie.
Jos spring op en gryp na die handvatsel van Costa se deur. Hy sien die man se bebloede gesig en grynslag deur die oop venster. Die Star is steeds verkeerdom geklem in sy vuis, met sy vinger onder die hamer – maar in Costa se regterhand is die Beretta, waarmee hy reeds na Jos se bors mik.
Jos gooi homself dwars om ’n kleiner teiken te bied. Dis ’n sekonde te laat. Die skoot brand ’n streep oor sy bors, vlak verby sy hart. Die pyn is skroeiend.
Jos tref die grondpad hard en rol na die bakkie se voorkant toe, probeer desperaat tyd wen om die Star operasioneel te maak, en terselfdertyd harde metaal tussen hom en Costa en sy eie Beretta te kry. Daar’s nie tyd vir albei nie. Hy kies dekking, duik met alles wat hy het voor die enjinkap verby om die bakkie tussen hom en Costa te hou.
Toe kom die lood. Een ronde net agter hom in die grondpad vas, die tweede bo-oor hom. Dan’s hy voorom die voertuig, en sien die bakkie wieg soos wat Costa uitklim.
Jos sak laag genoeg om onderdeur die bakkie te kan skiet, soek Costa se voete, maar daar’s niks. Hy bloei kwaai onder sy hemp. Daar’s nie tyd om die skade te bepaal nie. Hy moet Costa eers neutraliseer. Sy ore suis en hy kan die man nie hoor beweeg nie. Net nog Verwey se pynkrete.
Verwey behoort nog vir ’n minuut of twee uitgeskakel te wees.
Jos kyk rond vir dekking. Die klipkoppies links van hom, na die suide, is om en by ’n kilometer ver. Buite die kwessie. Tussenin, swart ysterklippe in verspreide hopies. Nie goeie dekking nie, maar dis darem nader. Na regs, op die Spreetshoogte-pad, is dit bar en plat, en die Naukluft se koppe agt, tien kilometer ver.
“Fourie! Jy’s cornered, brudder. Give it up!”
Die stem kom van anderkant die pad, Costa het waarskynlik dekking. Jos ignoreer hom. Sy bors brand soos ’n kool vuur. Hy voel saggies deur sy hemp, raak aan die plek. Sy hand is vol bloed en hy vee dit af aan sy broek.
Die uittreksel is goedgunstig deur NB-Uitgewers verskaf.
Genre: Fiksie
Uitgewer: NB-Uitgewers
Prys: R310,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek nou by NB-Uitgewers