Boek-uittreksel: Vreugde vir Larissa

Hier volg  ʼn uittreksel uit die boek Vreugde vir Larissa deur Elsa Winckler.

Dis maar halfses op die grou, grys Europese middag, maar Larissa draai ’n serp om haar nek en klim in die bed met ’n beker warmsjokolade en haar rekenaar. Dis die eerste week in Desember, dis koud en al sedert halfvyf donker soos dit dié tyd van die jaar in Maastricht is.

Dié hoofstuk van haar tesis wil sy klaarmaak voordat sy vanaand gaan slaap.

Haar oog val op haar Bybel wat op haar bedkassie lê. Sy tel dit op en sit dit bo-op haar rekenaar neer. Deesdae is dit vir haar moeilik om hierdie boek oop te maak. Vir só lank was die woorde hierin haar kompas, haar anker, haar vaste hoop dat dinge tog uiteindelik ten goede uitwerk solank ’n mens net aan die Here vashou.

En toe, einde verlede jaar net voor die hof se reses, word die klag teen Ricardo Jantjies uitgegooi, die man wat Chandré Hendricks aangeval en beroof het, en dit omdat die polisie te lank gesloer het met die ondersoek en die saak vertraag het.

Dit klink belaglik, dit ís belaglik, maar dis presies wat gebeur het.

Vroeg in Januarie vanjaar is die pragtige sestienjarige meisiekind dood. Met ’n mes gesteek. Daar is nie bewyse nie, maar Larissa is oortuig daarvan dieselfde man wat weke vantevore vrygespreek is, is die skuldige. Chandré het haar ’n dag tevore laat weet Ricardo is skielik oral waar sy is; sy dink hy agtervolg haar. Sy sou juis daardie dag vir Wilmie, haar prokureur, gaan sien het om ’n beskermingsbevel teen die vent te kry.

Maar dit was reeds te laat.

Wilmie, ’n vriendin van Larissa, was Chandré se prokureur en sy het Larissa aanvanklik net gevra om met Chandré oor die hofprosedures te gesels. Chandré se storie het haar diep geraak: dit was die soveelste keer dat ’n jong meisie aangeval is, ’n lewe kortgeknip is, ’n familie in rou gedompel is.

Ja, die dood van die mooie kind was een van baie, maar dit was die een wat haar laat twyfel in alles waarin sy glo.

Ná Ricardo vrygespreek is, het Larissa haar telefoonnommer vir Chandré se ma gegee en gevra hulle moet haar op hoogte hou van die saak, wat hulle ook gedoen het.

En toe kom die verskriklike boodskap – Chandré is dood.

Sy is saam met Wilmie en Chandré se ma, Yvette, om haar kind uit te ken. Die hoë wanhoopskreet uit die vrou se keel is ’n geluid wat sy nooit kan vergeet nie.

Kort daarna is sy weg uit Suid-Afrika en sover sy weet, is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Daardie middag het sy huis toe gery met die seker wete sy moet wegkom, sy moet afstand kry tussen haar en die onverstaanbare. Dis nie asof sy Chandré en haar ma eens goed geken het nie; die gebeurtenis was net die laaste strooi ná ’n rits soortgelyke sake.

’n Paar stukkies van die legkaart het onverwags in plek geval, wat haar besluit om ’n ruk weg te gaan makliker gemaak het. ’n Erfporsie van die oupa aan haar ma se kant is na ’n lang uitgerekte proses uiteindelik uitbetaal, en die huurkontrak vir die huisie waarin sy gebly het, het tot ’n einde gekom wat dit maklik gemaak het om die huis van haar beste vriendin, Reina, in Rondebosch te koop.

Maar die transaksie sou ’n hele paar maande sloer. Reina en haar nuwe man, Derek, moes eers ’n ander huis kry, so hulle sou graag nog ’n ruk in die huis wou gebly het.

Die idee om verder te gaan swot, is iets waaraan sy as student al gedink het, maar omdat dit toe nie finansieel moontlik was nie, het sy dit opsygeskuif nadat sy eers begin werk het. Maar so aan die einde van verlede jaar het een van haar kollegas oor verdere studie begin praat en het sy weer begin rondsoek na ’n nagraadse kursus. Die kursus wat die Universiteit van Maastricht aanbied, het haar dadelik geïnteresseer; sy het haar aansoek ingestuur en begin somme maak.

Sy het heelwat spaargeld, maar die uitbetaling van haar erfgeld het haar besluit beklink.

Larissa kon sien Reina vermoed haar skielike vertrek is oor meer as net verdere studie, maar haar vriendin ken haar gelukkig goed genoeg om te weet wanneer sy nie moet uitvra nie.

’n Jaar lank weg van alles wat bekend is, sou sake weer in perspektief plaas, die skok versag en haar weer positief stem; dan sou sy weet wat sy verder met haar lewe wil doen.

Dis in elk geval wat sy haarself wysgemaak het.

Maar dis nou amper ’n jaar later en Chandré se bebloede gesig en die sinneloosheid van haar dood, die sinneloosheid van ál die mense wat so gereeld op die Kaapse Vlakte vermoor word, bly by haar spook.

Hoe is dit moontlik dat die regering niks daaraan kan doen nie?

Bippie, die student wat deeltyds in Reina se oudhedewinkel gewerk het terwyl sy besig was met haar MA-graad, is in April getroud toe Larissa vir ’n vlugtige kuier terug na Suid-Afrika was. Die res van die tyd is sy maar hier by die universiteit en in hierdie woonstelletjie. Hulle is ’n hele paar wat die MA-studie in Europese Studies aan die Regsfakulteit doen en sy kuier gereeld saam met haar medestudente.

Sy hou van Nederland, haar studie is interessant en uitdagend, so sy kan regtig sê sy geniet op die oomblik alles wat sy doen. Maar sy ken haarself goed genoeg om te weet sy het nie vrede in haar binneste nie.

Miskien ook omdat Chandré se dood die skok van ’n ander trauma van lank gelede oopgekrap het. Sy was maar in graad tien toe haar pa dood is en haar ma haar van hulle benarde finansiële situasie vertel het. Haar pa het al hulle geld belê in wat later geblyk het ’n piramiedskema te wees.

Die skok en ontnugtering was vir hom een te veel en sy hart het op ’n dag net ophou klop. Dit was in elk geval haar ma se bitter woorde. “Jy kan mans nie vertrou nie,” het sy haar gewaarsku, woorde wat sy nog gereeld herhaal. Haar ma het weer begin skoolhou om die pot aan die kook te hou en háár broer, Barend, het hulle gehelp.

Larissa het gedink sy het die gebeure lankal verwerk en vrede daarmee gemaak, maar sy besef nou sy het dit bloot onderdruk; verwerk het sy dit nog nooit regtig nie. Die manier waarop sy so gou moontlik nadat sy begin werk het haar studiegeld aan oom Barend terugbetaal het en die ywer waarmee sy gespaar het, is ook ’n bewys hoe die gebeure rondom haar pa se dood haar besluitneming beïnvloed het.

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

Genre: Fiksie
Uitgewer: Lux Verbi
Prys: R200,00*

*Prys onderworpe aan verandering
Koop die boek by NB-Uitgewers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.