Boek-uittreksel: Vyfduisend mense kry kos

Oral waar Jesus gegaan het, het mense agter hom aan gegaan. Hy het blindes laat sien, verlamdes laat loop en siek mense gesond gemaak. Jesus het met skares mense oor God gepraat. Mense wou naby Hom wees om te sien wat Hy volgende sou doen.

Laat een middag, nadat Hy die hele dag met die mense gepraat het, het Jesus se vriende gesien dat die mense moeg en honger begin raak het. Hulle wou hê Jesus moet die mense wegstuur om vir hulle te gaan kos kry, maar Jesus sê toe: “Gee julle sommer vir hulle kos.”

“Maar ons sal honderde silwer muntstukke nodig hê om vir hulle almal te gaan kos koop!” kla een van sy vriende.

“Hoeveel brood het julle saamgebring?” vra Jesus hulle. “Glad nie baie nie. Hier is maar net vyf brode en twee vissies,” antwoord hulle. “Ons sal baie meer kos nodig hê.”

Maar Jesus het ‘n plan gehad. “Sê vir die mense om in groepies te gaan sit,” sê hy. Jesus se vriende het gemaak soos hy gesê het en die mense laat sit. Daar was so baie van hulle! Net die mans was al meer as vyfduisend.

Jesus het die brode geneem en vir God dankie gesê vir die kos. Hy het die brode in stukke gebreek en vir sy vriende gegee om vir die mense uit te deel. Daarna het Hy die twee vissies geneem en ook onder die mense laat uitdeel. Daar was meer as genoeg kos!

Toe al die mense klaar geëet het, het Jesus vir sy vriende gevra om al die stukke brood en vis wat nog daar rondgelê het, bymekaar te maak. Hulle het so gemaak, en die kos wat oorgebly het, het twaalf mandjies volgemaak.

Dit was ‘n wonderwerk: met net vyf brode en twee vissies het Jesus vir meer as vyfduisend mense kos gegee.

 

Uittreksel uit: My eerste Bybelstories
Uitgewer:
Prys:
* Prys onderhewig aan verandering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.