Boek-uittreksel: Wat beteken dit om eties te eet?

Hier volg ʼn uittreksel uit Kom sit aan deur Rudi Swanepoel.

***

Eties eet

Stedelinge weet nie noodwendig waar hulle kos vandaan kom nie. Ons ken die supermark, die geriefswinkeltjie by die vulstasie en ons maak dalk praatjies met die winkelassistente, maar ons weet nie waar die hoendervleis en die wortels was voor dit op die winkelrak beland het nie.

Weens ’n groeiende besorgdheid (onder meer) oor die aarde en natuurlike hulpbronne, raak dit ál belangriker dat ons besin oor die etiek van voedselproduksie. In watter toestande word hoenders aangehou? Is dit enigsins nog eties regverdigbaar om jong kalwers te slag vir die gehalte van die vleis? En is daar enigsins ’n verskil tussen ’n ou en ’n jong dier? Is dit enigsins moontlik om “eties” te eet?

Om in Suid-Afrika te eet is geen eenvoudige saak nie. Suid-Afrika is die plek in die wêreld met die grootste gaping tussen ryk en arm. Dit bepaal in ontsaglike groot mate wát op mense se borde is. Ontsaglik.

Net ingeval jy nie ’n prentjie in jou kop het nie: Dié werklikheid bepaal of daar duur, eksotiese seekos op jou bord is, of daar wyn (plaaslik of ingevoer) in jou glas is en of jy gewoon nie weet waar jou volgende maaltyd vandaan gaan kom nie.

Dis die verskil tussen vrye keuse en om aan ander se lot oorgelaat te wees. Dis die verskil tussen vars kos op Woolworths se verkoelde rakke en ander mense se uitskot in ’n swart vullisdrom langs ’n grys sypaadjie.

Dis hoe dit is, in Suid-Afrika, maar op baie ander plekke in die wêreld ook. Die situasie veroorsaak dat eet ook ’n etiese saak is.

Wat bedoel ek met etiek? In die konteks van kos en eet: Is dit goed as sommige mense te veel het en ander te min? Watter magte en kragte kom in werking wanneer een groep mense kan kies en keur en ander groepe net een keuse het, naamlik die keuse om te probeer oorleef?

Dít is een van die grootste eietydse vrae. Dis ’n probleem wat nie lukraak aangeraak kan word (onder andere deur populistiese politici) nie. Dis ’n vraagstuk wat dringend, dringend aandag nodig het. Daar moet oor vergader en gedink word, daar moet gedebatteer en nagevors word en daar moet anders gedoen word.

Die redes hiervoor is talryk. Dis ’n situasie wat smeek om goeie mense, waardegedrewe mense, mense wat in die goeie glo en dit nie net daar (by geloof) wil laat nie, maar wat tot aksie wil oorgaan, wat anders wil dink, praat en doen.

Weer tyd vir ’n belydenis. Daar was ’n tydperk in die 1980’s toe dit in sommige kringe nogal mode was om te veel te eet. Baie hiervan het te make gehad met die eet-soveel-as-wat-jy-kan-fenomeen.

Ek kan nie een enkele ete onthou waar ek soveel kon eet soos wat ek wou nie: nie die mense, die plek, die gesprekke wat gevoer is of die menings wat gedeel is nie. Die enigste ding wat ek kan onthou, is dat ek agterna nie lekker gevoel het nie.

Hoekom wil ’n mens dit doen? Waar was die goeie oordeel wat ons veronderstel was om aan die dag te lê? Waar die etiek van te min, genoeg en te veel? By nadere beskouing is die eet-soveel-as-wat-jy-kan-ding ’n verskynsel wat floreer op ’n skaarsheidmentaliteit en spreek tot ’n uiters primitiewe instink: die beskikbaarheid van kosse, die vrees dat daar nie weer (binne die afsienbare toekoms) oorvloed gaan wees nie. En natuurlik, omdat dit nóú pap reën, moet daar met oorgawe en onverdunde gekkigheid geskep word.

Dié manier van eet sou minder problematies gewees het as dit nie reeds binne die konteks van betreklike oorvloed (en die ewigdurende beskikbaarheid van voedsel) geskied het nie. Want jy het gister genoeg gehad om te eet, vandag eet jy sonder brieke (en ’n goeie gewete) en môre – nee, sommer vanaand – gaan jy weer eet.

En moenie die prys vergeet nie, want dis deel van die sielkunde. Waar jy in normale omstandighede X sou betaal vir ’n bord kos, betaal jy nou ’n bietjie minder as X vir borde en berge kos. Dit is geheel en al sinloos om nié die geleentheid raak te sien en dit met oorgawe te benut nie. Nè? Nee.

Die volgende vraag wat ontstaan as ’n mens oor “eties eet” praat, het te make met die produseer van kos. Die toestande waarin diere aangehou word, die gebruik van verpakkingsmateriaal, die hoeveelhede hiervan, die herwinbaarheid (al dan nie) van plastiek en ander kunsmatig vervaardigde stowwe, dit alles is etiese sake. Daar is die afgelope dekades – sedert voedselproduksie hoogs geïndustrialiseer geword het – ’n groeiende bewustheid van die lewensomstandighede van diere wat vir voedselproduksie geteel, gevoer, geslag en verwerk word.

Filmmakers en aktiviste maak dokumentêre rolprente hieroor: hoe die groter wordende vraag na kits- en bekostigbare kosse en die groeiende wêreldbevolking die versnelling van voedselproduksie genoodsaak het, hoe dit gelei het tot kunsmatige maniere van kweek wat wissel van groeihormone in diere tot geneties gemodifiseerde graansoorte.

En met vervelende reëlmaat is daar stemme wat vra of dit goed is. Is dit goed vir ’n dier om in uiters beperkte ruimtes te leef? Is dit goed as diere en plante gedwing word om vinniger te groei? Is dit hoegenaamd regverdigbaar as babavarkies aan mekaar se sterte begin suig omdat die suigrefleks (om aan die ma te drink) deurmekaar raak en hulle dan infeksies ontwikkel omdat hulle ontlasting inneem?

Stemme gaan op, mense dink en dink weer. Hulle lig hulleself in, vind uit en versprei inligting. Hulle staan op vir wat hulle glo reg is en verset hulle teen wat hulle oortuig verkeerd is.

Die stemme vra ook of die keuse om nie vleis te eet nie ’n evolusionêre saak is. Hulle bedoel eintlik: is dit nie dalk ’n teken van etiese verfyning (of blote menslikheid) as ’n mens doelbewus kies om nié vleis te eet nie?

Aan die ander kant kan met reg gevra word wat die verskil dan is tussen (eens lewende) plante en (eens lewende) diere. Is dit byvoorbeeld minder wreed om plante te slag as diere? In watter mate is dit ’n funksie van die (menslike) klassifikasie van diere en plante, dat aapsoorte so naby aan die mens is en die slaaikop so ver, dat jy veel eerder die slaai sal doodmaak en eet as die aap? Dit klink absurd, maar bepaal dit nie juis baie van ons (moontlik onbewustelike) keuses rakende wat ons eet en nie eet nie?

***

Die uittreksel is goedgunstig deur Lux Verbi, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.