Boek-uittreksel: Wie gaan in 2019 regeer?

Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
Outeur: Jan-Jan Joubert

Die volgende nasionale verkiesing kan die eerste in 25 jaar wees waartydens geen party ’n volstrekte meerderheid wen nie. Die gesoute politieke joernalis Jan-Jan Joubert glo 2019 kan moontlik ’n koalisieregering vir Suid-Afrika bring.

In die vroeë oggendure op Vrydag 5 Augustus 2016 het die vuurvreter-vakbondleier Zwelinzima Vavi beweer hy het die wederkoms beleef. “Jesus is gisteraand in die strate van die Nelson Mandelabaai-metro opgemerk – hy’s terug!” het Vavi getwiet en daarmee pres. Jacob Zuma in eie munt terugbetaal.

Dit was twee dae ná die plaaslikeregeringsverkiesing en die ondenkbare het pas gebeur. Die ANC is in die grootste metropolitaanse gebied van sy Oos-Kaapse hartland ontsetel. Zuma het sedert 2004 verskeie kere in die openbaar verklaar dat die ANC sal bly regeer tot die dag wat Jesus na die aarde terugkeer. Hiermee het hy opposisiekiesers en talle Christene van alle politieke oortuigings op hul tande laat kners.

Op dié Vrydag is hy verkeerd bewys.

Die ANC sou nie net die Nelson Mandelabaai- metropolitaanse gebied, wat Port Elizabeth, Uitenhage en omliggende gebiede insluit, verloor nie. Teen die Saterdagaand het die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bevestig dat die ANC ook in die Johannesburg- en Tshwane-metrogebiede verloor het, asook in meer as 30 munisipale en distriksrade landwyd. In die maande daarna het kiesers met verstomming beleef hoe koalisieregerings ’n alledaagsheid geraak het.

Vandag nog glo baie Suid-Afrikaners die ANC is bestem om altyd te regeer. Mense wat dít steeds glo, behoort eerder na die syfers te kyk. Nasionaal het die ANC se steun binne slegs twee jaar afgeneem van 62% in die algemene verkiesing van 2014 tot 53% in 2016 se plaaslikeregeringsverkiesing.

Sedertdien is die ANC verder geknou deur staatskaping, verdeeldheid in sy leierskap en heelwat ander ontwrigtings. Die party se beeld onder die kieserspubliek het sedertdien nouliks verbeter. Hoewel Zuma se bedanking en Cyril Ramaphosa se verkiesing tot president van die land in Februarie 2018 die nasionale gemoed opgevrolik het, staar dieselfde dwingende kwessies die ANC steeds in die gesig.

Tussen die plaaslikeregeringsverkiesing op 3 Augustus 2016 en 31 Desember 2017 was daar landwyd 118 munisipale tussenverkiesings waartydens die ANC in elke wyk ’n kandidaat gestel het. Die gemiddelde swaai téén die ANC in dié tydperk was ’n verdere 7,4%.

’n Mens kan stry tot die perde horings kry oor hoe verteenwoordigend die 118 wyke is, maar enige regerende party sal baie bekommerd raak as sy steun in die vorige verkiesing op 53% gestaan het en hy daarna gemiddeld 7,4% steun in meer as 100 tussenverkiesings verloor het.

Hoewel een swaeltjie nog nie ’n somer maak nie, is dit interessant om te sien dat die ANC kort nadat Ramaphosa sy intrek in Tuynhuys geneem het, twee tussenverkiesings in die Wes-Kaap verloor het. Al het die DA in Februarie 2018 in tussenverkiesings in die Karoo en die Overberg ’n mate van steun ingeboet, het hy steeds groot oorwinnings behaal. In Overstrand wyk 13 (wat Vermont en Onrusrivier by Hermanus insluit) het die party se steun ongeveer dieselfde gebly rondom 96%. In Beaufort- Wes wyk 2 (wat ’n deel van die dorp Nelspoort en sekere plase insluit) het die DA se steun afgeneem van 66% in 2016 tot 60%.

Tot en met 2016 was Suid-Afrika ’n byna perfekte voorbeeld van ’n eenparty-dominante staat. Hoe het dit gebeur dat daar skielik so ’n goeie kans is dat die ANC in die volgende verkiesing uitgeknikker kan word?

Die antwoord op die vraag hoe dié party sedert 1994 waarskynlik die indrukwekkendste morele hoë grond in die geskiedenis verloor het, word in die volgende hoofstukke verskaf. Daarby ook die fassinerende verhaal van hoe ’n reeks munisipale koalisies en samewerkingsooreenkomste sedert 2016 oor ideologiese grense heen ontstaan het en watter gevolge dit vir die algemene verkiesing in 2019 kan inhou.

Sal 2019 ’n nasionale koalisieregering oplewer? Indien wel, uit watter partye sal so ’n regering bestaan? Wat is die moontlikheid dat die ANC en die Economic Freedom Fighters (EFF) saamspan? Of sal die EFF en die DA – daardie onpaar paartjie in menige munisipaliteit – met ander opposisiegroepe saamwerk teen die ANC?

Watter beleidskwessies is van kritieke belang in die onderhandelinge tussen die vennote in so ’n koalisieregering? Watter verskil sal die verkiesing van Cyril Ramaphosa tot ANC-leier en president van die land maak aan dié party se kanse om te wen?

En, les bes, wat gaan die kiesers dink van die potensiële goëlbal in Ramaphosa se arsenaal: dat opposisiepartye genooi word om in 2019 aan ’n regering van nasionale eenheid onder leiding van die ANC deel te hê?

In 2019 sal daar baie meer op die spel wees as in enige verkiesing sedert 1994. Teen dan sal die politieke klimaat handomkeer verander het sedert daardie dae van relatiewe harmonie. Dit gaan ’n felle politieke stryd wees om die grootste politieke prys: die mag om die nasionale regering te vorm.

In wese gaan die nasionale en provinsiale verkiesings van 2019 ’n stryd wees tussen diegene wat meen die ANC onder Ramaphosa kan die kanker van korrupsie in die party en die land hokslaan, en diegene wat meen dit is onmoontlik. Hoe dit ook al sy, die ANC is die enigste party wat realisties gesproke in ons proporsionele kiesstelsel ’n kans het om op sy eie meer as 50% van die stemme te lok.

Daar is egter ook ’n besliste moontlikheid dat die ANC minder as die helfte van die stemme kry, gegewe die voortdurende wegvloei van ANC-steun na opposisiepartye. Indien dit gebeur, is koalisies die politieke spel van die toekoms op provinsiale en dalk ook nasionale vlak, soos dit reeds toenemend op munisipale vlak die geval is. As die ANC se steun tot onder 50% van die stemme val, is nasionale of provinsiale koalisies of saamwerkooreenkomste onvermydelik, of die ANC daarvan hou of nie.

***

Sedert 1994 was die ANC die magshebber in die Suid-Afrikaanse politiek. Die party beskik oor stewige meerderhede in alle provinsies behalwe die Wes-Kaap. Daarom het hy tot onlangs nog onoorwinlik voorgekom.

Trouens, dit was tot so onlangs as 2016 hoogmode onder talle politieke kommentators om die onsin te verkondig dat die enigste politiek wat in Suid-Afrika saak maak, die politiek binne die ANC is. Volgens dié mense was die enigste ware opposisie vir die ANC te vinde binne die party en sy alliansievennote: die SA Kommunistiese Party (SAKP) en die Congress of South African Trade Unions (Cosatu). Die politiek buite die regerende alliansie kon dan grootliks geïgnoreer word.

Die aanhangers van dié eens gewilde denkskool het die verskuiwing in die politieke psige van die land misgekyk. As jy jou ore gespits gehou het, goeie kontakte gehad het en tred gehou het met die groot politieke partye se meningspeilings, was dié verskuiwing opvallend. Dié politieke verandering sou selfs sonder sulke gesofistikeerde hulpmiddels voorsien kon word deur iemand wat die stempatrone in tussenverkiesings volg en dit akkuraat op nasionale vlak toepas.

Ek wil graag aantoon hoe veranderende voorkeure, dienslewering op die verskillende regeringsvlakke, gemeenskapsaktivisme, die verhouding tussen politieke partye, hul onderskeie beleidsbesluite en die behoorlike gebruik van statistiese gegewens dit vir enigiemand moontlik maak om sonder te veel moeite verkiesingsuitslae redelik korrek te voorspel. As ’n mens dit deeglik doen, hoef jy nie deur verkiesingsuitslae verras te word nie en sal jy gevolglik beter vir die toekoms kan beplan.

Die voorspelling van verkiesingsuitslae is eerder ’n oefening in logika waarin jy bogenoemde faktore in ag moet neem, as om jou aan politieke analiste te steur wat bloot op persoonlike aanvoeling staatmaak. Dan kan jy baie van die slaggate vermy waarin talle kommentators trap …

Indien hulle hul aan die beskikbare feite gesteur het, sou die 2016-uitslae nie so ’n groot verrassing vir baie mense – insluitend geskokte ANC-hooggeplaastes – gewees het nie. In wat volg, vertel ek hoe die klaarblyklike waterskeidingverkiesing van 2016 agter die skerms verloop het en hoe die ongewone koalisies en saamwerkooreenkomste in politieke agterkamers tot stand gekom het.

Wie gaan in 2019 regeer?
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
Prys: R245-00*
*Prys onderhewig aan verandering
Koop die boek nou by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae